Sarie

Oor die toekoms praat ons dikwels

-

Edwin van der Walt

Izel van der Merwe, ’n vryskut-videoredig­eerder vir onder meer die kykNET-kanaal Via, was 21 toe sy met psoriaties­e artritis gediagnose­er is. Sy en die Fynskrif-akteur Edwin van der Walt was nog studente in hul derde jaar aan die Universite­it Stellenbos­ch en hul verhouding het maar pas begin. Nou, sewe jaar later, het sy reeds ’n pad daarmee gestap. Proefmedis­yne, boererate, magiese rome, hope pynmedikas­ie gebruik . . . En hy was aan haar sy.

Dit was die skubberige kolle op haar kopvel en agter haar ore wat hulle aanvanklik laat besluit het: Flip, sy moet dalk by ’n dokter uitkom. Hulle is albei positiewe mense, maar ja, die uiteindeli­ke diagnose was ’n skok. Teen daardie tyd kon jy al die tekens sien . . . haar gewrigte was pynlik en geswel.

Maar sy Izel is “ongeloofli­k”. “As dit ek was, veral met die pyn wat sy het, sou ek dit nie so goed kon hanteer nie. Sy byt vas, lewe in die oomblik. Dit help ons albei om nie negatief te raak nie.”

En jy pas aan: Leef van dag tot dag op die beste manier wat jy kan. Vir Edwin is dit egter maar net die vertrekpun­t: Hy wil haar gesond sien, die chroniese toestand probeer omkeer.

“Ons is nie groot voorstande­rs van chemiese medikasie nie, dit het ook nie juis gehelp nie. Ons probeer ’n meer natuurlike benadering volg waaroor ons baie navorsing gedoen het. Daar ís mense wat die toestand al omgekeer het. Maar dit vat langer, verg meer werk, moeite en is vreemd genoeg soms duurder. In die boek The Autoimmune Fix beveel Tom O’Bryan aan dat jy gluten, suiwel en suiker uitsny. Ons het dit vanjaar ons doelwit gemaak. Ekself het reeds ’n jaar gelede suiker gelos.

“Saans maak ek kos terwyl sy by my sit, ons selfone afgeskakel. Ek love kosmaak, dis soos ’n hobby . En ek love gesonde kos. Ons moes leer om dinge saam te doen wat nie vir haar ongemaklik is nie. Gaan fliek, na belaglike werklikhei­dsreekse kyk. Sy moes stadig maar seker dinge los waarvan sy hou, kunsprojek­te, om met haar hande te werk, draf, staptogte, swem in die see, Leeukop uitklim. Om te bestuur en selfs te stap is ongemaklik, seer. Wanneer sy opstaan, klou sy eers aan die tafel vas, of iemand moet haar help weens die pyn in haar gewrigte. Ek voel om die beurt kwaad, gefrustree­rd en hulpeloos om haar so te sien. Wil help, maar daar is nie ’n oplossing nie. Ek kan maar net daar wees. Oor die toekoms praat ons dikwels. Dis steeds blink, iets waarna ons uitsien. En kinders, ja, dis die pad, dis nie eens te betwyfel nie.

“Die grootste uitdaging – en ek wonder of baie ander verhouding­s nie daardeur gaan nie – is dat jy as die ‘aktiewe’ een aanmekaar oplossings soek. En die ander een later sê: ‘Kan ek net ’n bietjie rus? Net nie nou daaroor dink of praat nie.

< ‘Waarnatoe om te gaan, wat ek volgende moet doen, dit uitsny of dat.’ Maar dit verg oop en eerlike kommunikas­ie. Daardie moeilike kommunikas­ie waar die ‘aktiewe’ een moet besluit om net te los. Op te hou om als te probeer regmaak. Moeilik.”

* Besoek Edwin se aanlyn opvoedkund­ige platform met meesters in hul veld wat klasse aanbied: novieguide.com

 ?? FOTO’S VERSKAF ?? HEEL LINKS Kobus en Deirdré Visser. LINKS Edwin van der Walt en Izel van der Merwe.
FOTO’S VERSKAF HEEL LINKS Kobus en Deirdré Visser. LINKS Edwin van der Walt en Izel van der Merwe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa