Sarie

Nicqie Robinson

#JyIsGenoeg het my laat inskryf’

- DEUR LIANI JANSEN VAN RENSBURG FOTO’S LEANA CR KONSEP & STILERING AMARIA CARSTENS EN MAGDEL MULLER GRIMERING ALGRIA FERREIRA HARE JEANETTE GENIS KUNSTENAAR­SAGTERGRON­D LINETTE COETZEE

KIMBERLIET WEN ONS VOORBLADGE­SIG 2020

HHaar lewe is ’n landskap van stories. Gee jy van jou tyd, sal Nicqie Robinson hulle een vir een vir jou vertel.

“My storie begin in 1986 . . .”

In die Namibiese dorp Mariental, waar die teerpaaie met stof verweef word, is sy gebore as die vierde kind van Alex en Marietjie Schaaf – toe reeds ouers van Marion, Alexander en Robbie. Dit was ’n huis gevul met vreugde.

Ses maande later, in Desember 1986, verongeluk haar pa. Saam met hom in die motor was sy naamgenoot, Alexander. Hy het oorleef.

“Maar die dokters het vir my ma gesê sy moet my middelbroe­r afskryf en in ’n inrigting plaas. Sy vegetatiew­e toestand is permanent en hy gaan ons ander drie kinders terughou.”

Marietjie het geweier. Ná ’n reis van 1 096 km het sy en haar vier kinders hulle in Kimberley gaan vestig . . . waar Alexander ’n tweede kans in ’n spesiale skool kon kry.

Nicqie raak ’n oomblik stil, asof sy weer in haar ma se skoene wil staan.

“Kan jy jou dit indink? Jy moet vroualleen hierdie pyn, trauma en onsekerhei­d aanpak. Vroualleen kinders grootmaak in ’n nuwe omgewing, ’n nuwe gemeenskap. As kind besef jy nie altyd waardeur jou ouers gaan nie. As ’n ma van twee șNinette, 5, en Joshua, 3ț verstaan ek nou watter opoffering­s sy gemaak het.”

Vandag, 34 jaar later, is Alexander selfstandi­g en gesond. “Hy is verloof, hy het ’n werk, hy het ’n rybewys. Alles wat die dokters gesê het hy nooit sal vermag nie. Is dit nie ongeloofli­k nie?”

Haar ma se veerkragti­gheid en onwankelba­re geloof is wat Nicqie steeds dryf, haar eie lewensverh­aal aanhou slyp. “Sy speel ’n groot rol in my lewe . . . Sy het nooit weer ná my pa se dood getrou nie, haar liefde het sy gereservee­r vir ons vier kinders. Ons was en is haar lewe.”

In haar memoires Becoming skryf Michelle Obama: “Jou storie is wat jy het, wat jy altyd sal hê. Dis iets wat jy moet eien.” Iets wat dié Kimberliet ook glo.

“Elkeen van ons het ’n storie . . . elkeen het pyne en skete wat gehoor moet word. Ek deel my storie, sodat ook ander daardeur hoop kan vind.”

Vyf jaar terug het Nicqie die eerste keer vir SARIE Voorbladge­sig ingeskryf maar nie die Top-40 gehaal nie. Kyk sy nou terug, weet sy die tyd was nie reg nie.

“Ek was nie op ’n goeie plek nie. Ek kon nie self glo ek is goed genoeg nie, ander moes dit vir my sê. Dit het maar van kleintyd af gekom . . . Ek was ’n onseker kind, ’n onseker tiener. My selfbeeld en selfliefde is deur ander mense bepaal. En later was ek so afhanklik van my man, Cyril, se kompliment­e . . .

Dit was al hoe ek mooi kon voel. Dit was eintlik verskrikli­k.”

Met haar dogter se geboorte het sy besef

’n kopskuif is nodig. “Ek moes leer om myself lief te hê. Ek móés.”

Dit het sy deur introspeks­ie en gebed gedoen. In die proses ou wonde oopgekrap, gebeure herleef. “Ek het besef dat my selfbeeld nie bepaal word deur mense nie. Ek het my quirky self ontdek én omarm. En stelselmat­ig het dit in my uiterlike begin weerspieël. My persepsie oor alles het verander.”

Selfs oor haar tuisdorp.

“Die potholes is dalk groter hier, die strate vuiler. Maar ek is mal oor

Kimberley, ek wil hier bly, ek wil my kinders hier grootmaak.” Sy lag. “Ek dink dis oor ek nou werklik gelukkig binne myself is. Dit verander als, nè?”

Met hierdie nuwe ingesteldh­eid het Nicqie ook haar haarstyl radikaal verander. “Ek het altyd gedink lang blonde hare maak jou mooi, en toe ek my hare kort sny, was dit eintlik ’n statement waarmee ek myself van dié idee bevry het. Jou hare bepaal nie jou skoonheid nie . . .” >

< Dit was SARIE se 2020-leuse #JyIsGenoeg wat haar oortuig het om vanjaar weer vir SARIE Voorbladge­sig in te skryf. “Ek het dadelik geweet dis my jaar. Hierdie wedstryd gaan oor hóé om jou uniekheid te vier. Dit is dieselfde boodskap wat ek in my besigheid aan vroue wil oordra – ek wil hulle inspireer om hulself onvoorwaar­delik te aanvaar.”

Nicqie se ondernemin­g as identiteit­stileerder is nog in sy babaskoene. Ná jare in die onderwys het sy besluit om van beroep te verander. “Ek wou my passie vir mode uitleef. In 2019 het ek vir my besigheid ’n vision board gemaak met doelwitte wat buite my gemaksone is. Dis wat ek vir ander ook wil leer: Moenie jou lewe omwens nie, neem net die eerste tree.”

En met 2020 wat soos die perfekte jaar gelyk het, het Nicqie uit die onderwys bedank en haarself as identiteit­stileerder begin vestig. Weke later is een ná die ander land in ’n staat van inperking geplaas, ook Suid-Afrika.

“In die wêreld maak hierdie besluit van my nie sin nie. Wie begin ’n besigheid in ’n pandemieja­ar?” Sy lag. “Finansieel maak dit nie sin nie. My besigheid genereer nog nie soveel geld soos my onderwyssa­laris nie. Maar ek weet ek moes dit doen, my roeping volg, gewaag het met hierdie droom . . .”

Haar dryfveer was nooit geld nie. “Ja, dit sal ’n bonus wees. Maar dit gaan regtig vir my oor die vrou en haar identiteit. En om die boodskap uit te kry: Jy het nie nodig om soos ander te lyk nie. Vind net uit wat werk vir jou, wat maak jou uniek, wie jy is, en leef dit uit. Ek is baie opgewonde oor die toekoms, ek weet dit maak nie sin nie. Maar ek het soveel vertroue . . .”

En te midde van die inperking het sy begin innoveer en Instagram gebruik as die “pad” waarmee sy vroue bereik. Sy maak video’s, deel stylwenke en gesels met haar volgelinge oor selfaanvaa­rding. “Ek het net ingespring en leer soos ek aangaan. Ek sit oogklappe aan en probeer om my nie met ander stileerder­s te vergelyk nie. Ek steur my ook nie aan followers en likes nie. Dis nie wat my vrede gee nie.”

Nicqie het nog baie hoop vir Suid-Afrika. Sy weet nou, meer as ooit, dat sy hier wil bly . . . dís waar sy geplant is. “Ek en my man van elf jaar was al sterk op pad landuit, maar toe val dit deur die mat. En toe tref dit my ons rede om te emigreer was bloot vrees. Ja, dis hartseer . . . alles in die land maak jou hartseer. Maar my hoop vir hierdie land is sterker. Ek glo in ’n beter toekoms.”

Dit is immers ook die plek waar sy Afrikaans kan praat en hoor . . . dié taal wat sy so innig liefhet. Afrikaans, háár taal. Sy bid daarin, droom daarin, leef daarin, en dis in hierdie taal waarin sy ook stories vertel. Haar stories . . . vol pyne, vol skete, vol hoop.

 ?? JANUARIE/ FEBRUARIE 2021 R65,00 ?? (BTW INGESLUIT) NAMIBIË N$65,00
JANUARIE/ FEBRUARIE 2021 R65,00 (BTW INGESLUIT) NAMIBIË N$65,00
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa