Verlief ná 36 vrae: Kan dit werk?
Almal soek ware liefde. Volgens navorsing kan twee wildvreemdelinge verlief raak ná 36 slim geformuleerde vrae aan mekaar. Iets wat in Die liefdeeksperiment op Via beproef is. Maar werk dit regtig? Dís wat deelnemers en kenners sê
Vandat ons hormone begin lol, begin ons droom van die régte een. Ons weet teoreties daar is dalk nie so iemand nie – maar ons bly soek na Mnr. of
Mev. Perfek.
Die versugting na ware liefde, wat – so glo ons – ons kan pantser en sterk hou teen die aanslae van buite, is universeel. En dikwels hoop ons op ’n stootjie in die regte rigting of teken van die heelal.
Volgens die “liefde-eksperiment”, wat reeds in 1997 deur die Amerikaanse sielkundige Arthur Aron geformuleer is, kan twee mense mekaar ná sowat 36 wedersydse vrae (en ’n intense staarsessie van drie minute) só goed leer ken en soveel intimiteit skep, dat daar ’n goeie moontlikheid bestaan dat hulle verlief sal raak.
Gegrond hierop is Die liefdeeksperiment* tans op Via, bekend vir sy fokus op verhoudingsprogramme, te sien. In dié reeks van 13 programme neem plaaslike proefkonyne van 20 tot 60 jaar aan hierdie eksperiment deel. Hul loopbane wissel van ’n radioaanbieder tot ’n akteur in die kykNETsepie Arendsvlei (sowaar!), asook ’n restauranteienaar, fiksheidsinstrukteur, iemand met ’n sokkerkonsultasieagentskap in Barcelona, ’n fisioterapeut, prokureur, ook studente . . .
Stel jou dié prentjie voor. Twee wildvreemdelinge sit teenoor mekaar in wat bekend staan as die “Love Lab”. Dan begin die pret – of is dit paniek? Man en vrou, onbekend aan mekaar, vra drie stelle vrae, 36 in totaal, vir mekaar. En staar dan drie minute na mekaar.
Na afloop van die sessie gaan hulle op ’n afspraak waar dinge meer ontspanne is, sit aan by ’n tafel by kerslig. Tafelberg, die sonsondergang oor die hawe en die stadsgeboue omring die “paartjie” wat hoop om liefde te vind. Glasies word gevul met vonkelwyn en die heerlikste kos voorgesit.
Een van die afgepaardes vir wie dit gewerk het (en daar is ’n paar wat aangedui het hulle wil mekaar weer sien), is Kirsten Bezuidenhout, ’n meganiese ingenieur van Atlantis aan die Weskus, en Wilmaré Engelbrecht, ’n assistentrekenmeester van Parklands. Nie een was al getroud nie en albei is kinderloos.
Kirsten hou van “die standvastige Wilmaré, wat haar nie sommer deur die lewe laat onderkry nie”. Sy het ambisie en sien die goeie in mense en in die lewe, meen hy. “Ek is ook mal oor haar groot glimlag.”
Vir Wilmaré het hy ’n goeie eerste indruk gemaak. “En sy passie om ander te help het my vir seker aangetrek.” Sy meen die 36 vrae het gehelp om ’n goeie prentjie van hom te vorm en sy wil dít nou as’t ware bietjie “inkleur”.
Die twee is vir hul eerste afspraak ná die televisieprogram na ’n wynplaas omdat albei dol is op lekker wyn.
JC van der Merwe, spanbestuurder van ’n motormaatskappy in die Strand, wou op veertig die eksperiment ’n kans gee, maar was nie so gelukkig nie. “Ek was nog nooit getroud nie, het nie kinders nie. Dit was ’n uitdaging.” Boonop het hy nog nooit dié tipe vrae vir vroue gevra wat hy op afsprake uitgeneem het nie. Hoewel daar nou nie ’n elektriese straal deur sy (of haar) lyf gegaan het ná hul sarsie vrae nie, hou hy van Suzaan
Sutherland, ’n projekbestuurder van ’n gesondheidsprojek aan die Universiteit Stellenbosch, se spontane persoonlikheid. “Sy is ’n familiemens, gemaklik, sonder fieterjasies. ’n Pragtige persoonlikheid.” Ook sý was nog nooit getroud nie en het nie kinders nie.
Suzaan sê: “Dit was nogal ’n teleurstelling dat ek nie iemand ontmoet het nie, maar ten minste het ek gewaag. Ek sal só iets vir seker weer doen. My senuwees is beproef, maar die program was ’n ongelooflike ervaring.” Volgens haar het sy in ’n kort tydjie danksy die vraelys baie van JC geleer: Hy is saggeaard en ’n diep ou wat al baie dinge moes verwerk en omgee vir sy naaste.
“Dit was net baie eienaardig om aan die einde drie minute lank na mekaar te staar,” vertel JC. Prof. Aron het dít gegrond op navorsing van Zick Rubin, wat al in 1970 bevind het mense met ’n sterk liefdesband behou vir lang tye oogkontak. Dit word gesteun deur ’n Japannese studie waarvolgens oogkontak die dele van ons brein aktiveer wat te doen het met sosiale gedrag.
Die vraelys het prof. Aron destyds saam met sy vrou, Elaine, saamgestel, as deel van ’n navorsingsprojek vir die Stony Brook-universiteit in New York. Hulle wou sien wat bring mense nader aan mekaar. In 2015 het dit weer heelwat aandag gekry nadat ’n skrywer van die New York Times, Mandy Len Catron, dit op ’n platoniese mansvriend uitgetoets het. Hulle het kort daarna ’n verhouding begin en is steeds saam.
Terug na die vrae. “Dit laat jou dínk,” sê Lizette Liebenberg, ’n ouma wat op Stellenbosch woon en ook nie liefde gevind het op die program nie. Sy is ’n administrasiebeampte van die polisie op Macassar. Haar eerste man, ’n boer, is sestien jaar gelede in ’n trekkerongeluk oorlede. Daarna is sy weer getroud, maar verlede jaar geskei.
Ná slegs twintig vrae het Lizette eintlik al ’n baie goeie idee gehad van die onbekende ou, Ernest Manuel , ’n grape whisperer en bestuurder op ’n wynplaas in die Paarl. “Ons het lekker gepraat, hy is aangenaam, maar daar is nie ’n vonkeling nie.”
Sy en hy het toevallig twee weke voor hulle vir dié program gekies is, op die aanlyn afspraakwebtuiste Koer kommunikeer. “Maar ek het báie meer van hom te wete gekom deur die 36 vrae as die twee weke vooraf,” vertel sy.
Die vrae “werk” glo omdat dit wedersydse weerloosheid tussen deelnemers skep, vertel Nicole Bailey, eenheidshoof van POP!, die interne produksiehuis van Media24 wat aan die program gewerk het. “Dit dwing jou om jou hart taamlik vinnig te ontbloot.” >
Liefde is nie ’n knal nie. Dit is net ’n wete, ’n sekerheid wat soos ’n enkele noot deur die stilte loop . . . Sophia Kapp uit die roman Kanaän
< Die drie stelle vrae is elk méér intens as die vorige. Indien jy dus volgende keer op ’n afspraak gaan, probeer dalk vraag een van die eerste stel: “As jy enigiemand ter wêreld kan kies om mee aandete te geniet, wie sal dit wees?”
Of wat van: “Waarvoor is jy die dankbaarste in jou lewe?”
Die tweede stel skop af met: “Indien ’n kristalbal jou die waarheid oor jouself, die lewe, die toekoms of enigiets anders kan vertel, wat sal jy graag wil weet?”
Lizette reken die moeilikste vraag was “Wat is jou slegste herinnering?” Dit was nie maklik om oor haar egskeiding, háár antwoord, te praat nie. “Maar ek het myself beskikbaar gestel vir die program en moes dit doen.” Om te skei was vir haar selfs ’n erger ondervinding as die dood.
Nie almal hou daarvan om hulself so bloot te stel wanneer hulle die eerste keer ontmoet nie, sê Shannon Davidoff, afspraakafrigter van Perfect Partners, ’n afspraakagentskap in die Kaap. Sy meen die kuns van afsprake wat suksesvol verloop, is om nie sommer direkte vrae te vra nie. “Dikwels is my kliënte baie ontsteld as hulle voel die man of vrou neem hulle as’t ware onder ‘kruisverhoor’. Hulle wil nie al op die eerste afspraak alles oor hulself uitblaker nie.”
Sy vertel haar kliënte sê soms as daar so baie vrae voor of tydens ’n ete of fliekafspraak gevra word, kan hulle netsowel by ’n werksonderhoud wees. “Dit veroorsaak stres. Dis nie ’n quizz nie. Om te date is ’n subtiele kuns. As afspraakafrigter rig ek my kliënte fyn af, elk volgens sy of haar bepaalde behoeftes. Ek het ’n onderhoud met hulle, ek leer hulle hoe belangrik die regte tydsberekening is. Die spel van die liefde gaan oor nuanses en subtiliteit.” Sy wil egter nie die 36 vrae afskiet nie, want baie daarvan kan ’n mens ’n goeie idee gee van hoe iemand se kop werk. Maar miskien is dit eers later in die vriendskap of verhouding gepas.
Daar is ’n gesegde, “verlief raak is maklik – om verlief te bly, is die uitdaging”, meen Grete Becker, ’n verhoudingsterapeut en huweliksberader van Kaapstad. Sy reken al is die 36 vrae hóé goed geformuleer, is dit nie ’n towerstaf wat ’n sukkelende verhouding nuwe lewe kan gee of die liefdesvlam kan aansteek wanneer wildvreemdelinge mekaar ontmoet nie. “Dit is miskien moontlik, maar nie gewaarborg nie.”
Volgens Grete is die “anatomie” van verlief raak onwillekeurig. “Dit is nie iets wat jy besluit nie.” Byvoorbeeld: As Johan lank genoeg ’n alleenloper is en sy ma hom daagliks vra of hy nie wil trou nie (want al sy maats is getroud), kan hy nie besluit hy wil ’n oulike trouvrou een middag om twaalf in ’n koffieplek ontmoet omdat sy sy liefde vir koffie en lekker gesels deel nie. Gaan Kupido se liefdespyltjie tref? “Nee, dit gebeur net in Hollywood met Julia Roberts en Richard Gere in Pretty Woman.”
Indien iemand soos Johan wel Aron se 36 vrae tydens die koffie-afspraak vra, gaan die aanvanklike gesprek tussen die twee in die koffieplek minstens vloei. “Die vrae is briljant saamgestel, dit bring die unieke menswees van elkeen na vore.”
Grete meen die bekende akademikus en verhoudingskundige Esther Perel se TED-praatjie The Secret to Desire in a Long-Term Relationship gee baie insig oor twee teenoorgestelde energieë binne ’n verhouding wat help om die vonk aan die brand te hou. “Dit sorg vir die verrassingselement sodat dinge nie saai raak nie. Alles is tydens die eerste afspraak nuut en vars. Kombineer hiermee Aron se 36 vrae en die kans is goed dat jy aangetrokke gaan voel tot mekaar.”
Langtermynverhoudings floreer wanneer sowel liefde as begeerte daar is. Liefde weer het te make met geborgenheid. Grete meen die 36 vrae skep die perfekte balans tussen liefde en begeerte – “die dans tussen ek leer jou ken, maar jy is buite bereik”. Anders as verliefdheid, is liefde egter ’n keuse.
Sophia Kapp skryf: “Liefde is nie ’n knal nie. Dit is net ’n wete, ’n sekerheid wat soos ’n enkele noot deur die stilte loop: die fluit van ’n bokmakierie oor die veld, of ’n sopraanstem wat inval met ’n Benedictus, hoog en suiwer en sekuur, in die gewelf van ’n katedraal.” (Uit die roman Kanaän.)
Elkeen moet dalk maar self uitvind watter vrae om te vra om by die liefde en intimiteit uit te kom – en daar is vir seker ’n paar goeies wat ons kan leen uit daardie 36 vrae van Aron . . .
* Die liefde-eksperiment is tot 13 Januarie op Via, DStv-kanaal 147, te sien. Dit is ook tot 10 Februarie op Catch Up beskikbaar.