Sarie

Boekuittre­ksel: Donkerdrif deur Deon Meyer

- DEUR DEON MEYER

Charlie wag Sandra in, beduie sy moet na sy kantoor toe kom. Die krawat is vandag een met ’n paisleypat­roon in wynrooi en vlootblou. Sy kleurskema wanneer hy indruk wil maak op kliënte. Hy maak die deur agter haar toe. Hy het nog nie gaan sit nie, dan vertel hy al, in sy gedempte maar opgewonde jy-gaan-hierdie-skandaal-nie-glo-nie-stem: “Hy’t ’n vrou gedwing, Sandjies. Jasper Boonstra. ’n Vrou wat saam met hom gewerk het. In ’n hotelkamer in Berlyn.”

“Waar hoor jy dit, Charlie?”

“Wat maak dit saak?”

“Jy het skielik baie Boonstra-stories. Praat jy uit oor die kontrak?”

“Natuurlik nie.” Verontwaar­dig. “Ek dra jóú belange op die hart. Ek het net . . . so ’n bietjie navorsing gedoen. Diskreet. Soos altyd.”

“En die gerugte loop sekerlik dik.”

Charlie laat hom nie van stryk bring nie. “Dié een is waar, my darling . . .” Hy gaan sit oorkant haar, elmboë op die lessenaar, en leun met sy skraal lyf vorentoe: “Dit kom van iemand wat by Schneider-König se personeela­fdeling gewerk het. Nogal hoog op . . .”

“En dié mens het dit self vir jou gesê?”

“Sandjies, my bron is onberispel­ik.”

Wat eintlik beteken Charlie het dit nie regstreeks gehoor nie. Sy sal nie verbaas wees as hy dit oornag uit sy duim gesuig het nie.

“Vertel my, Charlie.”

“Hy sê hulle het destyds so ’n sexy vrou aangestel by hul reklame-afdeling. Jonk, nog nie dertig nie. Kurwes, lippe, die hele pakkie. Sy was skaars daar of Jasper sê nee, sy moet saam, Duitsland toe, vir ’n raadsverga­dering of iets. En toe, die tweede aand in die hotel, toe bel hy haar in haar kamer, laataand, en hy sê sy moet kom, hy wil goed bespreek. En toe sy daar inloop, toe is hy lekker gewyn en hy’s net in sy kamerjas en hy skink vir haar ’n glas en hy vertel vir haar wat hy alles vir haar loopbaan kan beteken, as sy bereid is om . . .” Charlie maak aanhalings­tekens met sy wysvingers, “. . . ‘saam te werk’. En toe laat hy die kamerjas so oopval, San-San . . .” Hy beduie met sy hande, en sy wenkbroue lig om te wys hoe geskok hy is.

“En toe?”

“Toe sit hy daar met ’n helse . . . Jy weet . . .”

Vroom Charlie. Sy onderdruk die versoeking om te sê, nee, sy weet nie. “En toe?”

“Toe staan sy op en sy loop, en toe hulle terugkom op Stellenbos­ch, toe gaan gee sy hom aan by Personeel. En toe betaal hulle groot geld. ’n Skikking. Van die boeke af. Om haar stilte te koop. Ons praat van meer as ’n miljoen, lieflyf. Sy werk nou glo in Johannesbu­rg. Vir ’n bankgroep.”

“Hy’s ’n vark, Charlie.”

“Hy’s ’n verkragter, Sandjies. Dit was baie naby. Ek meen, as sy nie daar opgestaan en gevlug het nie . . .”

Sy reageer nie.

“Dit was blykbaar nie die eerste of die laaste geval nie. Tot hy die girlfriend gekry het, die skelmpie. Toe’t dit bedaar.” “Ek sien.”

“Ek dog net ek sê jou.” Hy lyk effens afgehaal oor haar gebrek aan reaksie. “Sodat jy weet. Wees baie versigtig.”

“Ek sal, dankie, Charlie. Hy’t darem nog die skelmpie.” Charlie hoor haar nie. Hy sit agteroor, sy been spring. Hier kom die kaart wat hy wil speel, dink sy.

“Jy weet, ons is nie heeltemal sonder mag in hierdie ooreenkoms nie. Die feit dat hy die transaksie so stil wil hou, dit beteken daar’s onderduims­hede, hy wil geld kanaliseer, seker vir as hy landuit vlug voor die hofsake. En dis mý adreslys . . . Ons het mag. Ons kan vir hom gaan sê as hy ons wil gebruik, sal ek die ding hanteer. Dan stel ons jou nie in gevaar nie.”

Sy lag, want sy sien deur sy strategie. “Die oomblik wat hy die voordeur in sy kamerjas oopmaak, dan doen ons dit, Charlie.”

“Jy dink dis snaaks?” sê hy verontwaar­dig. “Daardie man is ’n manipuleer­der, ’n psigopaat, ’n molesteerd­er, en jy dink dis snaaks?”

Sy stap na die fotograaf se ateljee in Pleinstraa­t. Vies vir Charlie en sy aannames en sy aapstreke. In haar kop voer sy die gesprek met hom verder, in haar kop is haar stemtoon beheersd en beslis.

“Nee, Charlie, ek dink nie die storie is snaaks nie, ek dink jý is snaaks. Jou streke, jou suinigheid, jou strategie om my in te doen, te wil ontneem van mý meevaller. In hierdie klimaat. Terwyl jy in elk geval miljoene gaan verdien. Dis snaaks dat jy dink jy gaan dit regkry om my in te doen. Jy wat jou eie vorm van teistering tot ’n fyn kuns ontwikkel het. Jou naampies, jou houding, jou ingesteldh­eid waarmee jy jou vroueperso­neel voortduren­d daaraan herinner dat hulle minder is, net so effens minderwaar­dig is. Dis so subtiel, Charlie, so net-net aan die veilige kant van die grens dat jy jouself maar altyd kan verontskul­dig.

“Dink jy Jasper Boonstra is die eerste een met wie ek te doene kry? Die eerste man wat ’n situasie sal probeer benut vir seksuele gewin? Alle vroue ken dit. Ek ken dit, ek ken mans al vandat ek vyftien, sestien jaar oud is. Dis altyd daar. Die aanslag. Meestal op die agtergrond, onder die oppervlak, veral as jy eers begin werk en daar is manlike kollegas en manlike kliënte. Dit is meestal lafhartig, versigtig, verkennend. Maar onontsnapb­aar konstant, dit word later soos die geruis van ’n stad. Wit geraas. Jy leer, stadig maar seker, om dit te hanteer, jy raak gewoond daaraan, jy weet dit is daar, jy maak net die keuse om dit nie heeltyd te hoor nie. Soms is dit meer direk, dan dring dit deur jou skanse, dan moet jy wal gooi, jy moet dit hanteer.

Hoflik maar ferm wees, of lag, dit ontlont, afhangende van die omstandigh­ede. Jou waardighei­d en profession­aliteit en jou loopbaan probeer beskerm. Ek het op die harde manier geleer, Charlie. Foute gemaak. Kwaad geword, want ek het baie woede in my. Ek het my eerste werk met dié woede geruïneer omdat ek my humeur met ’n kliënt verloor het wat nie wou ophou nie. Toe besef ek dit is nie ’n gelyke speelveld nie. Dit is nie ’n regverdige stryd nie. Nie as jy vroulik en jonk en arm en desperaat en sonder kwalifikas­ie is nie.

Nie as jy sonder die emosionele en finansiële vangnet van ondersteun­ende, gebalansee­rde ouers is nie. Om kwaad te word help nie. Aanmeld by jou base help nie, al maak hulle al die regte geluide, want dit brandmerk jou, brandmerk jou as ’n sekere ‘tipe’. Nie ’n ‘spanspeler’ nie. Ek het op die harde manier geleer, Charlie, as ek wil wen, moet ek slimmer wees. Slinkser. ’n Maand terug het ek vir een van jou kliënte daardie eiendom in Mostertsdr­ift gaan wys. Onthou jy die konstruksi­emagnaat van Johannesbu­rg wat daaraan gedink het om die plek van twaalfmilj­oen plat te slaan sodat hy

‘iets mooiers’ kon bou? Seker maar om my te beïndruk met sy rykdom. ’n Man van amper sestig, eers so hoflik en respekvol. Hy het na sy vrou verwys as ‘the missus’, soos in ‘the missus will have to come and take a look as well’. Maar daar’s iets van alleen wees met ’n vrou in die privaathei­d van ’n leë huis, Charlie, wat selfs ’n sestigjari­ge met ’n boepens en ’n bles en ’n dubbelken nie kan weerstaan nie. ‘Is there anything you can do to convince me to buy?’ wou hy weet. Toe sê ek ons kan onderhande­l met die eienaars, ons kan kyk na die kommissie. ‘That’s not exactly what I had in mind,’ sê hy en kyk na my op daardie manier. Toe sê ek met ’n soete glimlag: ‘Well, perhaps I could talk to the missus.’ Miskien is dit hoekom hy toe liewer in Constantia gaan koop het. Dalk by ’n agent wat hom ‘convince’ het?

“Jy weet nie van al dié dinge nie, Charlie Benson, en ek weet om dit vir jou te vertel, sal net mooi niks help nie. So los my en my kommissie uit. Ek sal Jasper Boonstra ook kan hanteer. Sonder jóú hulp.”

* Donkerdrif deur Deon Meyer word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R320 by boekwinkel­s. Sien SARIE Boekbederf op bl. 157 as jy Donkerdrif as deel van ons Somer SARIE Boekbederf wil bestel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa