Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

’n Gekrys en ’n gekakel, ’n verskrikli­ke lawaai. Wat op aarde gaan aan? Ons wil vakansie hou, nie dié rumoer om ons hê nie.

Dit vat ons nie lank om agter te kom wat die bron van die onaardse geluide is nie. Net bokant die huis se dak is ’n liederlike nes van saamgeraap­te takke. Op die nes sit ’n hadeda-ma. En skree. Net ’n entjie van haar in die boom sit die hadeda-pa. Hy skree nóg harder. Ons staan nog so en kyk, toe sien ons dit. ’n Kuiken wat skeef onder sy ma se vlerk sit. Liewe genade, dit is die lelikste dingetjie wat ek nog ooit gesien het. ’n Vaal gedroggie met ’n onnatuurli­k groot snawel. Die kuiken lyk soos ’n hopie vere met ’n sekel wat by sy kop uitsteek.

’n Hadeda is nie my gunsteling­voël nie. Waar ek grootgewor­d het, word hulle kankane genoem. ’n Kankaan is nie ’n voël wat sing nie, hy gil. ’n Aaklige klank. Die mense van my streek sê daar is ’n goeie rede vir ’n kankaan se geskree, want sien, eintlik ly hulle almal aan hoogtevree­s. Hy skree van skrik en woede en frustrasie. Vlieg daar ’n swerm kankane oor jou, dan is dit nie net die afskuwelik­e geskree wat jou verontrus nie, hulle bemis jou ook. Moenie opkyk as jy ’n kankaan sien nie. Vlug.

En nou is ons hier by ’n vakansiehu­is met drie skellende kankane bokant die dak.

In die dae wat volg, is daar min tye dat daar nié ’n gekrys bokant ons koppe is nie. Teen wil en dank hou ek die spulletjie dop. Dit lyk asof die hadeda-ma nie net skree van hoogtevree­s nie, maar dat sy sommer ook skree van trots op haar liederlike kuiken. Ook die pa skree sy vrees én blydskap uit oor sy nageslag. Kuiken piep so nou en dan saam, hees en onwelluide­nd.

Heeltemal teen my sin, kry ek respek vir die onheilige broeipaar. Die ma is ’n toegewyde moeder. Sy beskerm daai lelike kuiken asof dit ’n kosbare juweeltjie is. Die pa is eintlik die grootste verrassing. Hy dra vir sy vrou én sy kind kos aan. As hy nie kos soek nie, hou hy wag naby die nes. En skree. Hy beskerm hulle met sy lewe, lyk dit my. Die kuiken kry al hoe meer selfvertro­ue, hy skuifel selfs entjies uit die nes. Ma skoffel hom nader as hy begin wankel, as sy swaar snawel hom aarde toe trek. Noukeurig leer sy hom om bang te wees vir hoogtes. Sy hou hom elke oomblik van die dag dop. Besitlik, liefdevol, sorgsaam.

Ek mis die sagte geluide van die woud. Van loeries en wielewale is daar nie sprake nie, die hadedas het oorgeneem. Maar ek kom agter dat ek gefassinee­rd die kuiken se ontwikkeli­ng dophou. Ek gaan haal die verkyker en beskou hulle van naderby. Die ma se vere blink met ’n wonderlike blougrys skynsel. En die kuiken-gedroggie is nie meer heeltemal só lelik nie.

En toe gebeur dit.

’n Paar bobbejane troep deur die woud. Een spring in die boom waar die nes is. Die lawaai is só oorweldige­nd dat ek uitkom om te kyk wat aangaan. Ma skree en klap haar vlerke, pa vlieg reguit op die bobbejaan af en pik en skree. Die bobbejaan steur hom min. Hy spring van tak tot tak, die hele boom bewe.

Die kuiken val uit die nes, beland in die geut van die dak. Die kankane gil, die bobbejaan kies koers.

Ek staan desperaat op die stoep en wonder wat om te maak. Die kuiken leef, hy piep hartroeren­d. Al kan ek hom van die dak afhaal, sal ek hom nooit terugkry in sy nes nie, dié sit te hoog in die boom.

Die volgende oggend is die kuiken dood. Sy pa en ma los hom nie, hulle skree. Lank en hartverske­urend.

Ek klim op die dak en gaan haal die dooie kuiken.

In my hart skree ek ook. ’n Droewige, onwelluide­nde geluid.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa