Sarie

Redakteurs­brief

- Tot ons weer gesels wanneer ons Maart/April 2021-uitgawe vanaf 26 Februarie op die rak is.

Geluk, Nicqie! Ons sê baie geluk aan Nicqie Robinson ,ons SARIE Voorbladge­sig 2020. In die 10de jaar van dié gewilde wedstryd, boonop in ’n jaar soos géén ander nie, het sy eenvoudig bly glo: “Dít is my jaar” en vir die tweede keer ingeskryf. Dat SARIE se wekroep vir elke vrou, #JyIsGenoeg, haar aansporing was, maak haar wen vir ons nog meer spesiaal. Dan is sy ook ’n trotse Kimberliet en ons eerste wenner uit die kleurryke Noord-Kaap.

Beste SARIE-leser

Jy maak my hart bly, want jy sit met ons feesuitgaw­e in jou hande.

Vir jou het ons spesiaal tafel gedek – dié keer met die eenvoud van wit en ryk room, goud en glas, en ’n klomp kerse aangesteek vir die warmte, die kalmte wat dit bring. Ons het geskenke elegant toegedraai en opgetower met iets uit die natuur. Daar is ook ’n onthou-jy-spyskaart en ’n krans van loof en lint om te sê: Jy’s welkom! En ons, ons het saam met jou ons mooiste aangetrek, want dis Kersfees, ook Nuwejaar en wanneer ons weer kyk, Valentynsd­ag.

Tog, dié keer is dit alles anders. So baie anders.

Want die afgelope jaar het vir altyd sy merk op ons gelaat. Dit het die mensdom en ons menswees uitgedaag. Ons meestal verslae en verboueree­rd gelaat, planne en beloftes ontspoor, twyfel en onsekerhei­d gesaai. Ook trane besorg, en verlange en verlies, baie.

Ek dink terug aan my doenlysie, my wenslys, in die begin van 2020.

Die een wat ek, soos waarskynli­k ook jy, elke jaar met die heel beste bedoelings saamstel, net om te weet dat dit langs die pad saggies sal sneuwel. Maar vanjaar, o wee!, het my lys nog minder ’n kans op oorlewing gehad, want kyk net:

1. Sien vriende en familie méér, wees meer sosiaal

2. Géé van jouself, deel drukkies uit

3. Reis meer, veral in jou eie land

4. Verloor gewig; eet gesonder

5. Kry gereeld oefening, gaan gim toe

6. Werk minder, maar meer doeltreffe­nd

Wel, sal ek lag of sal ek huil, want dis seker ’n wen-lys vir enige ander goeie jaar. Toe nie vir 2020 met ’n pandemie waar inperking, geslote grense, toe kantore en sosiale afstand ons in isolasie gehou en die lewe onderstebo gekeer het nie. Waar baie mense vereensaam het en die frustrasie van ons situasie ons na nóg ’n sny piesangbro­od laat gryp het! Veral wanneer daardie Zoom- of Skype-sessie nie meer verligting gebring het nie.

Maar hier’s ’n gedagte: Die laaste, vreemde maande het ons oë tog oopgemaak vir dinge wat ons as so vanselfspr­ekend aanvaar het dat ons skaars ’n oomblik daaroor nagedink het. Nou wéét ons vryheid van beweging, om te kom en gaan soos ons wil, is iets wat ons met mening moet koester. Ook die voorreg om vrylik te kan kies en keur. En moontlik, met tyd tot ons beskikking, besef ons dat ons kreatiewer is as wat ons ooit gedink het. En innerlik sterker. Ook dat ons nooit die energie en inspirasie wat vloei uit kontak met die mense om ons, moet onderskat nie. Dat ons mekaar nodig het om self volronder en beter individue te wees.

Dít is wat hierdie fees-SARIE vier, en ons in 2021 voor hoop. Dis ’n erkenning van al die dinge wat ons lewe werklik verryk. Dis ’n viering van klein, gelukkige oomblikke. Soos die kere wat ons bewustelik stilstaan om die mooi om ons raak te sien, ook die goeie wat oor ons pad kom, en met hart en siel dankie sê vir die wonder van saamwees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa