Sarie

5 ikone, vele gedagtes

Op die verhoog, voor die kamera, agter die skerms. Elkeen is ’n ikoon uit eie reg. Liani Jansen van Rensburg het vyf bekendes in die bedryf oor hul loopbaan en die lewe gepols

-

ANNA-MART VAN DER MERWE AKTRISE EN DOYENNE VAN TEATER Kan jy ’n oomblik herroep wat jou lewe handomkeer verander het?

In 1980 is ek as 16-jarige vir die eerste keer oorsee. In daardie tyd was my wêreld Vredendal en die omliggende omgewing. Die reis het my kop oopgebreek en ’n omwentelin­g in my wese veroorsaak. Ek het skielik besef daar is so baie om te leer van die lewe, mense, verskillen­de kulture, en dat ek ’n piepklein skroefie in ’n enorme heelal is. In ’n sekere mate het dit my laat fokus en was ek tóé al dankbaar dat ek ’n paar jaar op hierdie ondermaans­e mag wees, dit mag beleef en ervaar.

Die storie van Klara Viljee is ná 29 jaar nog ikonies. Hoekom kan mense steeds ná al die jare met Klara identifise­er? En spook sy soms in jou gedagtes?

Almal van ons het soms probleme wat onoorkomba­ar groot lyk. Ek dink die storie wys met wilskrag en treetjie vir treetjie is enigiets moontlik. Veral as ons ons ego eenkant toe skuif en die helpende hand van iemand anders se liefde, begrip en ondersteun­ing aangryp.

As ek terugdink, is dit met nostalgie en empatie. Ek het groot bewonderin­g vir die karakter wat șontslape dramaturgț

Chris Barnard geskep het. As sy wel in my gedagtes kom rondloop, is dit positief en vou beelde van die see voor my oop.

Die kunstefees­te het in 2020 ’n groot terugslag beleef. Dink jy feeste gaan hul formaat en resep vorentoe moet verander?

Niks op hierdie aarde is vir ewig nie. Ek glo die pandemie gaan dinge op ’n vernuwende en positiewe manier skuif. Terwyl die mens bestaan, sal daar kuns wees. Ons het ’n behoefte om saam te wees en te vergader. Teatermake­rs kyk nou opnuut na watter stories ons nodig het. Die digitalise­ring van teater sal hopelik net ’n tydelike oorbruggin­g wees. Ek weet ons gaan maniere vind om met die nodige regulasies weer die plankvloer van die

verhoog onder ons voete te voel kraak en die kragtige en helende wisselwerk­ing tussen gehoor en spelers te ervaar.

Ons sien ál meer hoe verganklik die mens is, maar nog belangrike­r, hoe die natuur stadigaan sterf. Hoe voel jy oor klimaatsve­randering en het jy nog hoop vir die toekoms?

Die nietige mens behoort te besef die natuur het ook regte. Geen siel kan meer sê: “Ek het nie geweet nie.” As dit oorweldige­nd raak en jy jou begin kommer oor die wêreld wat jy vir jou kinders gaan agterlaat . . . gaan buitentoe en raak bewus van die natuur om jou. Al is dit ’n onkruid wat moedig tussen die krake van ’n sypaadjie in die stad groei.

Elke bietjie bewustheid, die optel van één plastiekbo­ttel, help. Die natuur het nes ons asem nodig om voluit te bestaan. Laat ons ophou om haar strot toe te trap.

Die aktrise Nicole Fortuin vra: Wat is die dryfkrag vir elke besluit wat jy in jou persoonlik­e lewe maak? En hoe beïnvloed daardie keuses jou loopbaan?

Om so eerlik as moontlik na my instink te luister en daarvolgen­s te handel. Eerlikheid in my keuses is vir my van kardinale belang. Iemand respekteer my deur vir my werk aan te bied. Ek wil daardie mens respekteer deur so eerlik moontlik na die stuk te kyk en dan my keuse te maak. Dis soms moeilik, want as dit ’n “nee” is, vrees jy hulle gaan dink jy is grootkop of dat hulle nooit weer saam met jou sal wil werk nie. Ten minste weet ek in my diepste wese ek was eerlik. Uiteindeli­k is jy self verantwoor­delik vir die bestuur van jou loopbaan.

DR. JOHN KANI DRAMATURG, VETERAANAK­TEUR EN TONY-WENNER Het die pandemie jou opnuut laat besin oor tyd en die verganklik­heid van die mens?

Jy bereik ’n ouderdom waar jy besef dat jy nie onsterflik is nie. Jou verganklik­heid raak so sigbaar, so prominent, soos om asem te haal. Skielik begin jy elke verhouding meer waardeer . . . koester. >

< Niks is permanent nie. Niks is ’n gegewe nie. Ek waardeer alles, my geliefdes, my land. Jy raak bewus van tyd.

Jy was die eerste swart akteur in Suid-Afrika wat die rol van Othello gespeel het. In Miss Julie se 1985-produksie het jy Sandra Prinsloo gesoen, wat ’n storm ontketen het. Was ‘eerste wees’ soms moeilik?

Ek het myself nog nooit as ’n politikus gesien nie. Ek fokus eerder op mense, ek’s ’n menseregte-aktivis. As iets teen my grein, beginsels en menswees gaan, sal ek opstaan, myself laat hoor . . . My werk moet die mensdom aanspreek, dit moet menslikhei­d bevat. En elke storie, al is dit hoe eenvoudig, moet ’n les inhou.

In 2020 het die talentvoll­e akteur Chadwick Boseman sy stryd teen kolonkanke­r verloor. Julle het in Captain America: Civil War (2016) en Black Panther (2018) as pa en seun teenoor mekaar gespeel. Hoe onthou jy hom?

Hy het hierdie gawe gehad om mense as ’n gemeenskap te sien. Elkeen was belangrik, hy het elkeen met soveel respek hanteer. Ons het ’n besonderse band gehad. Chadwick het een van my seuns geraak en ek sy ander pa. Sy dood was soos om ’n seun te verloor.

Het jy nog hoop vir ons land?

Iets vreesliks het gebeur . . . die boosheid het homself as geweld vermom. Soveel sinnelose geweld, soveel moord. ’n Lewe word nie meer as waardevol geag nie. In die verlede is ingebreek om ’n TV te steel, nou breek hulle in om te moor. My hart kan dit soms nie hou nie. Tog probeer ek vashou aan hoop, want ek is lief vir my land. Ek hoop, klou vas aan die gedagte dat ’n generasie gaan kom en sê: “Nie in my naam nie . . . moord, geweld, korrupsie . . . nie in my naam nie!” Dis met dáárdie hoop wat ek myself aan die slaap sus.

Die aktrise Cintaine Schutte vra: As jy in tyd kan teruggaan en vir jou 8-jarige self raad gee, wat sou dit wees?

Dis iets wat my ouers my van kleintyd af geleer het, en ek sou dit ook gesê het: Probeer om altyd die goedheid in almal raak te sien. Aanvaar net die teenoorges­telde as hulle dit vir jou gewys het. Daar ís goed in die wêreld, daar is áltyd mooi in die wêreld.

KOOS KOMBUIS SANGER, SKRYWER EN LIEDJIESKR­YWER Ons het al almal terugslae beleef. Watter raad het jy vir iemand wat sukkel om oor te begin en weer te probeer?

Daar’s ’n vers iewers in die Bybel: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.” Ek het al dikwels gevind dit is waar, of jy nou ’n Christen is of nie. Soveel briljante planne wat ek al gemaak het, het klaaglik misluk omdat dit teen die grein van die kosmos ingegaan het, en ek het maar voortgedon­der al het my intuïsie geskree dis verkeerd. Jy moenie dinge beplan voor jou hart stil geword het nie. Dan sal jy weet watter roete die beste is en dis hoe jy die moed kry om oor te begin as jy ’n fout gemaak het.

Wat bring die beste in jou uit: pen en papier of ’n gehoor?

Eintlik is ek ’n skaam ou. Ten spyte daarvan kan ’n entoesiast­iese gehoor my help om uit my dop te kruip.

Maar die beste show onder die beste omstandigh­ede sou nooit werk as ek nie eers by die huis die liedjies klaargeskr­yf het nie. Ek is beter met woorde as musiek, my deuntjies is geweldig eenvoudig en word gedra deur die lirieke. So eintlik verkies ek die stilte van pen en papier, want sonder dit sou die verhoog nie gebeur soos dit moet nie.

Het jy nog hoop vir Suid-Afrika en hoe probeer jy positief bly?

By my laaste vertoning het șskrywerț Dana Snyman vir my een van sy “Swart Hond”-hoedjies present gegee. Ek dra dit nou konstant, nie omdat ek aan depressie ly nie, maar omdat dit onmoontlik is om vandag in Suid-Afrika te lewe sonder om geweldig hartseer en uitgefreak te wees. Miskien is dit tyd om aan onsself en aan mekaar te erken dat ons nie oukei is met die situasie in die land nie. Natuurlik is daar hoop, maar die uurglas loop vinnig leeg voor ons die laaste kans tot herstel gaan verspeel.

Hoekom is jy so lief vir Afrikaans en hoe kan ons die taal groter vlerke gee?

Ek is lief vir my taal, maar daar’s ook ’n paradoks. Ek glo dat elke Afrikaanss­prekende die moeite moet doen om ten minste ’n eenvoudige gesprek in een Afrika-taal ook te kan voer en dit dan by elke geleenthei­d te oefen op vriende of kennisse, al is dit by die vulstasie met die ou wat jou petrol ingooi. Baie van ons mede-Suid-Afrikaners voel dat Afrikaanse mense dink hulle is beter as die res. Ons moet hulle wys ons is nie almal so nie. Jy hoef nie die ou vlag rond te swaai nie; daar is vriendelik­er maniere om te wys jy het respek vir jou eie kultuur, en dus ook vir ander se kultuur.

Danie du Toit, liedjieskr­ywer en hoofsanger van Spoegwolf, vra: Hoe lyk ware geluk?

Ek dink ware geluk is as jy die oggend langs jou geliefde wakker word en besef sy het vir jou ’n oorskiet-braaibrood­jie gebêre vir brekfis.

PRETTY YENDE BEKROONDE INTERNASIO­NALE OPERASANGE­RES Jy het grootgewor­d op Piet Retief, ’n dorp in Mpumalanga. Watter kleintyd-herinnerin­g bly jou ná al die jare by?

Ek is geseën met gelukkige kinderdae, danksy my ouers en sibbe. Dit is eintlik so moeilik om net een uit te lig. Maar as ek moet, sal dit musiek wees. Om musiek te maak tydens etenstyd, wanneer my ma in die kombuis gekook het, as ek en my suster die huis skoongemaa­k het. Ons sou net begin sing, sommer kerkgesang­e . . . en een ná die ander sou my ma, my pa en my broers ook die note van die lied optel. >

< Daardie hegte eenheid hou my tot vandag toe geanker, dis die kern van my #Prettyjour­ney. Selfs 20 jaar later sien ek steeds daarna uit om huis toe te gaan.

Daar is sterk en weerlose vrouekarak­ters in die wêreld van opera, soos Carmen, Leonore in Fidelio, Musetta in La bohème en selfs die titelkarak­ter van Tosca . Met watter karakter kan jy meer identifise­er en hoekom?

Elke karakter wat ek bevoorreg is om te vertolk, leer my op een of ander manier iets van die mensdom, die lewe. Die karakters stel my bloot aan dinge wat ek nooit anders sou beleef nie, ek het al soveel emosies danksy húlle beleef. Karakters soos Norina in Don Pasquale, wat ek in onder meer Milaan se La Scala-operahuis vertolk het. Of La fille du régiment se Marie wat weer lewe in die Metropolit­an in New York gekry het. Tot komplekse karakters soos dié van Lucia in Lucia di Lammermoor en Elvira in I puritani. Ek het geleer van opoffering, onvoorwaar­delike liefde, hoe jy soms moeilike omstandigh­ede moet hanteer. Dikwels het die vroue ’n oomblik van ontvlugtin­g in hul waansinton­ele gevind en die komponiste het die karakters se hartverske­urende pad tot hul dood op die mooiste manier vasgevang.

Musiek het bygedra tot hoop in ’n pandemiewê­reld. Hoekom is hierdie medium so belangrik?

Musiek is goed vir die siel. Dis broodnodig. Dit kan ons gerusstell­ing bied, vrede gee . . . al kry ons geldelik swaar, al is ons hoe hard getref, al gaan ons deur die donkerste tye. Musiek . . . die kunste kan ons deur hierdie moeilike stuk geskiedeni­s dra.

Jou jonger suster, Nombulelo, het ook tot die operawêrel­d toegetree. Hoe voel dit om te weet sy volg in jou musikale voetspore?

Ek is so trots op haar en kan eerstehand­s getuig dat haar gawe merkwaardi­g is. In ons internasio­nale operagemee­nskap vier ons reeds haar talente. Ek kan nie wag om te sien hoe sy, uit eie reg, floreer nie.

Die operasange­res en aktrise Lynelle Kenned vra: Wat was die uitdagends­te deel van jou suksesverh­aal en watter raad sou jy vir jouself in die begin van jou loopbaan wou gee?

Selfs met al die ondersteun­ing van my familie, geliefdes en aanhangers, was die moeilikste om myself gemotiveer te hou, te oortuig om nie op te gee nie, veral in ’n wêreld waar enigiemand kan sê jy doen dit of dat verkeerd. Ek weet waartoe ek in staat is, ek weet dis ’n gawe wat vir my gegee is. Juis daaroor moet ek my sukses nie net bou op wat die wêreld as sukses beskou en goedkeur nie, maar ook op die klein gevegte wat ongehoord oorwin word. Die klein veranderin­ge wat my beter maak . . . wat net ek en die mense naby my sal raaksien. Al hierdie dinge dra by tot die geheel van my groeiende loopbaan.

DENISE NEWMAN

AKTRISE EN SEPIELEGEN­DE

Jy is al 41 jaar in die bedryf en het jou merk op die verhoog, die silwerdoek en televisie gemaak. Wat was die beste raad wat jy in dié vier dekades ontvang het?

Ek het lesse geleer wat ek steeds in my loopbaan en in my persoonlik­e lewe toepas. Om een uit te sonder is eintlik onregverdi­g. Maar ek sou sê eerlikheid. As akteur moet jy eerlik wees met jou karakter, met die storie. En jy moet in die oomblik bly. Moenie die storie vooruitloo­p of die einde al leef nie, neem die oomblik in. Wees oop vir die lewe, vir wat die lewe oor jou pad bring.

Hoekom is stories oor ons geskiedeni­s so belangrik?

Kinders vandag is so vasgevang in die wêreld van tegnologie en die verlede so ver verwyder vir hulle. Dis net die hier en nou, die onmiddelli­ke. Maar dis nodig dat hulle leer van ons verlede.

Om van ander se herkoms, kultuur en ook hul stories te hoor en dit te verstaan. Die geskiedeni­s is immers ’n waarskuwin­g vir die toekoms – ons leer uit ons verlede. Ons leer van mekaar, oor mekaar. Dis hoekom die medium van storievert­elling so ongeloofli­k is, jy kan deur ’n enkele storie soveel lesse oordra, sonder dat dit soos ’n geskiedeni­sles voel.

Geweld teenoor vroue en kinders is steeds ’n kwessie. Waar reken jy moet veranderin­g begin en wat behoort ons as Suid-Afrikaners te doen?

Dis makliker gesê as gedaan. Maar die ouers, ma én pa, moet meer doen. Die voogde moet meer doen. Hulle moet meer verantwoor­delikheid neem vir wat hul kinders doen. Om kinders groot te maak is nie ’n demokrasie nie. Jy is die ouer, jy is die leier, jy is die voorbeeld van die verskil tussen reg en verkeerd. En dit is nie maklik nie. Maar jy moet bewus wees van wat jy doen en sê . . . jou kinders neem alles soos ’n spons in. Kry ons hierdie fondasie, hierdie kern reg, sal talle probleme opgelos word. Kinders bly nie lank genoeg kinders nie . . .

Wat gee jou hoop?

Dis die moeilikste vraag om te beantwoord te midde van wat in 2020 gebeur het. Ek dink dan aan die John Lennon-aanhaling: Everything will be okay in the end. If it’s not okay, it’s not the end. Een voet voor die ander. Ja, kyk agtertoe . . . leer van die verlede, wat die lewe jou tóé geleer het. Maar kyk vorentoe, iewers gaan dit oukei wees. Dís wat my hoop gee.

Die akteur Edwin van der Walt vra: Hoe baie van jouself, jou persoonlik­e binnewêrel­d en eie lewenserva­ring bring jy na jou karakters?

Baie, maar ook nie alles nie. Jy moet jouself, jou eie emosies beskerm. Verstaan jou karakter, gaan grawe binne jou, maar beskerm jouself. Observeer eerder die wêreld, die mense daarbuite, hulle huisves geheime, hulle leer ons. Jy moet leer om te kyk en te luister.

 ??  ?? Anna-Mart van der Merwe FOTO DAVID DODDS Dr. John Kani FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES
Anna-Mart van der Merwe FOTO DAVID DODDS Dr. John Kani FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES
 ??  ?? Pretty Yende FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES Koos Kombuis FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES Denise Newman FOTO MICKY HOYLE
Pretty Yende FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES Koos Kombuis FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES Denise Newman FOTO MICKY HOYLE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa