Klas van 2001
LIEZL TEMMINGH
Dis 20 jaar sedert hulle die skoolbanke gegroet het. Daar was hoogtepunte, laagtepunte en ’n magdom lewenslesse tussendeur. Vyf bekendes kyk terug op hul twee dekades sedert matriek . . .
EK HET GELEER OM MEER TEENWOORDIG TE WEES
CANDICE BOUCHER, voormalige internasionale model
Met haar betowerende turkoois oë kon sy mense as tienermeisie skaars in die oë kyk. “Ek is nou nog skaam.
Dis baie moeilik om uit my vel te klim en gemaklik te raak met mense.” Op skool het Candice op die atletiekbaan uitgeblink en die plan was om ’n kliniese sielkundige te word. “Maar toe het ’n kompetisie by die skool dinge in ’n ander rigting gestuur.”
Haar vriende by die Gelofte Skool in Pinetown, Durban, het haar ingeskryf om aan hul modeparade deel te neem. “Ek was die dag van die inskrywing by ’n begrafnis en het van niks geweet nie.” Ten spyte van haar ongemak op die loopplank is sy as Mej. Gelofte gekroon. Een van die pryse was ’n fotosessie deur ’n fotograaf, en hy het later die foto’s vir’ n modelagentskap gestuur. End i swaar haar warrelwind loopbaan begin het.
Die modelwêreld is deurspek met drank en dwelms, maar haar goeie waardes het haar uit die moeilikheid gehou, glo sy. “Ek is baie dankbaar vir die mense wat oor my pad gekom het. Een of twee keer het ek saam met fotograwe gewerk wat dinge ’n bietjie ongemaklik gemaak het. Daar is lelike goed wat aangaan, maar ek het die regte mense om my en die regte mentaliteit gehad.”
Sy sê die stereotipe dat die modelwêreld vol kritiek is, is ook ’n werklikheid. “Modelle het van die swakste selfbeelde in die wêreld. Hulle dink die minste van hulself, want kritiek is wat hulle daagliks heeldag lank hoor. Die grootste kritiek op my was dat ek oorgewig was en ek is aangesê om gewig te verloor. Dit mors ’n mens bietjie op.”
Vandag woon Candice saam met TV-aanbieder Paul Rothmann en hul seun, Wolfe, in Pretoria. “Die plan is om oor veertig of vyftig jaar, as ons nog lewe, ’n klein viswinkeltjie êrens in Asië oop te maak.” Tans werk sy vir ’n k u b e r veiligheid s maatskappy waar dit haar passie i som kinders oor sosiale media op te voed.
As sy terugkyk op die 20 jaar ná matriek, is sy oor ’n paar dinge spyt. “Maar as jy enigiets in die verlede verander, verander dit alles vorentoe. Ek is op ’n manier dankbaar vir die dinge wat skeefgeloop het, want dit het my in ’n ander rigting gestoot of my oë oopgemaak vir die dinge wat om my aangaan.”
Die grootste les wat sy geleer het, is om meer teenwoordig te wees. “Dinge gebeur so vinnig en môre is nooit ’n waarborg nie. Wees meer in the moment. Die volgende oomblik is nie noodwendig beter as die een waarin jy nou is nie.”
Candice se familie en hul seun is groot hoogtepunte in haar lewe. “Paul ook. Hy het my lewe onherroeplik verander.”
In haar professionele lewe is die tydskrif Sports Illustrated en die Guess-veldtog oomblikke wat die meeste uitstaan. “Toe ek klein was, het ek altyd daardie groot Guess-ads oral op billboards gesien en vir my pa gesê: ‘Eendag, ééndag gaan ek dit doen.’ Hy was toe nooit daar om dit te sien nie.”
EK HOOP MY OORLEDE OUPA GOLIATH IS TROTS OP MY
CHRISTO DAVIDS, akteur en skrywer
Stilsit was altyd ’n probleem. “Ek het miere in my broek gehad. Op skool was ek die class clown wat altyd in die moeilikheid was.” Al het hy sy onderwysers grys hare gegee, was akademie Christo se sterk punt by die Kairos Senior Sekondêre Skool op Heidelberg in die Wes-Kaap. Hy was veral lief vir tale. Hy het ook krieket en sokker gespeel, maar beskou homself nie as ’n legende op die sportveld nie. “Rugby speel ek tot vandag toe nie! ‘Average’ is ’n gróót woord as dit by sport kom.” Teen die tyd wat hy in matriek was, was hy wel reeds in ’n klomp televisiereekse en toneelstukke te sien.
Hy het LLB aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer, al was hy die naasoudste van ses kinders uit ’n bekende akteursfamilie. “My oupa Goliath șook ’n akteurț wou nie hê ek moes drama studeer nie. En wanneer hy gepraat het, het almal geluister.” Tog was Christo gedurende sy universiteitsjare gedurig in films of op die verhoog, waar die vervaardigers van hom later raakgesien het.
Sy rol as Errol in dié sepie het sy lewe op sy kop kom keer. Maar al is hy bitter lief vir toneelspel, is skryf sy groot liefde. Onlangs het hy help skryf aan die gewilde kykNETdramareeks Spoorloos.
Hoewel hy toe nooit sy LLB-graad gebruik het nie, beskou hy dit as een van sy grootste bates. “Dit het my help dink, my help skryf. Dit gee jou ’n ander siening van die wêreld, ’n ander redenasievermoë.”
’n Sin vir verantwoordelikheid is die grootste les wat hy in die 20 jaar ná matriek geleer het. “Ek sê altyd, ‘don’t grow up, it’s a trick’; die lewe probeer jou uitvang. Maar dis baie belangrik om verantwoordelikheid te aanvaar. Dis ’n gróót ding wat ek by my oupa geleer het.”
Oupa Goliath se dood in 2012 was Christo se grootste terugslag. “Ek dink baie aan wat hy sou sê of wat hy sou dink. Oor my kinders se geboorte, oor Spoorloos . . . Ek hoop waar hy is, is hy trots.”
Hy meen dit help nie om spyt te wees oor die verlede nie. “Ek glo jy moet aanvaar wat gister gebeur het, regmaak wat jy vandag kan, en probeer om môre ’n beter mens te wees.”
’n Groot hoogtepunt is sy en sy oom Lloyd Davids se teaterstuk Queenie-hulle, waarvan hulle saam die teks geskryf en Christo die regie gedoen het. Dit het in 2020 drie kykNET Fiësta-pryse gewen. “Maar my vrou en kinders is die ultimate highlight in my lewe. Dis groter as enige prys wat ek al ooit gewen het.”
EK MOES UITVIND, WIE IS ANGELIQUE SONDER AL DIE TROFEES?
ANGELIQUE GERBER POTGIETER, aktrise
Van kleins af was sy baie bedrywig en by elke buitemuurse aktiwiteit betrokke. Op skool het dié meisie – wat jare later haar deurbraak as Clara in 7de Laan sou maak – veral in atletiek, ballet en akrobatiese gimnastiek uitgeblink. Almal by die Hoërskool Hugenote in Springs het haar geken as die meisie wat pouses sit en tuiswerk doen, want ná skool was daar nie tyd nie.
Angelique het nie veel van ’n sosiale lewe gehad nie. “Ek was die girl wat nooit by ’n braai kon wees nie, want ek was altyd te besig.” Skool was vir haar lekker, maar sy was dikwels in trane oor kinders wat met haar lelik was of haar gespot het. Toe sy jare later bekend word, het skoolmaats na haar uitgereik, om verskoning gevra en erken dat hulle bloot jaloers was oor al haar prestasies, sê sy.
Eers toe sy sielkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer het, het sy haarself werklik gevind. “As ’n mens so besig is, verloor jy jouself in jou prestasies en koppel jou identiteit daaraan. Dis baie gevaarlik. Ek moes myself vra: ‘Wie is Angelique sonder al die trofees? Wie is ek?’ Dit was ’n moeilike pad om te stap, maar ek het myself beter begin verstaan.”
Die droom was altyd om aan die New York Film Academy te studeer, maar haar ma het haar aangemoedig om eers ’n graad in iets “ordentliks” te kry. Ná Tukkies en twee jaar van werk in Londen, het sy haar droom nagestreef en drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie begin studeer. Haar studies is egter kortgeknip toe sy die geliefde Roemeense meisie in Die Laan geword het.
As Angelique besin oor die twee dekades ná matriek, besef sy sy het haar “fair share van laagtepunte” gehad. Haar pa se dood was geweldig moeilik om te verwerk. “Ek en my pa was nooit super close nie, maar in die twee jaar voor hy oorlede is, het hy reggemaak met my.” Angelique sê hy was ’n oulike oupa vir haar seuntjie, Jacques, en het baie uitgesien om die tweeling te ontmoet. Sy was swanger met Annabella en Olivia toe hy oorlede is. Die verbrokkeling van haar eerste huwelik was ook ’n groot slag. “Dit was vir my baie erg.”
Angelique voeg dadelik by dat die afgelope 20 jaar ook vol hoogtepunte was. Haar tyd by 7de Laan en Boer soek ’n vrou staan beslis uit. Die geboorte van haar kinders en haar ontmoeting met haar man, Jacques Potgieter – “met kuite wat ’n Boeing kan kickstart ” – is haar soetste herinneringe. “En ek het altyd vir my ma gesê ek sal nóóit met ’n rugbyspeler trou nie, want hulle is almal net bad news,” skerts sy. >