LUILEKKER SAFARI
Toe ek onlangs noodgedwonge my motorband op ’n klein plattelandse dorp moes herstel, het ek my in ’n wagkamer bevind waar die reuk van rubber, olie en diesel in die lug gehang en manne oor bande- en kardinge gesels het. Geen teken van vrouedinge of die reuk van vars koffie uit ’n knus koffiehoekie nie. Die tydskriftafeltjie het gekreun onder onderwerpe soos mansgesondheid, motors, vuurwapens, woonwaens en boerdery. Ek berus my toe by my lot en besluit om een uit die stapel te kies; miskien kon ek iets daaruit wyser word.
Watter vreugde toe ek ’n eksemplaar van SARIE WOON 2019/2020 soos ’n kleinood tussenin ontdek!
Ek het my verlustig in die lieflike, kreatiewe Laeveld-dekor wat die besonderse karakter van daardie wêreld so treffend uitbeeld. Dit het my ook laat verlang na my kinderjare se besoeke aan die Wildtuin en kuiers by geliefde familie op Witrivier.
Toe ek later jare ’n rukkie daar gewoon het as ’n jong verslaggewer by die plaaslike koerant, Die Laevelder, het ek ’n onderhoud met Anton Bosch gevoer en ek kon een van sy keramiekvase huis toe neem; ook met wyle Zakkie Eloff – een van sy pragtige pensketse met gemsbokke hang steeds in my huis. Koot en Loura van den Heever van Rottcher Wineries net buite Witrivier was huisvriende, en toe my dogter in Nelspruit gebore is, het hulle vir my ’n bottel lemoenwyn by die hospitaal “ingesmokkel” waarmee ons die geboorte gevier het.
Daar tussen die bande en boere het ek my so ingeleef in SARIE WOON, dat ek amper teleurgesteld was toe ek uit my droomwêreld geruk is met die nuus dat die band herstel is, want ek was op ’n luilekker safari in die Laeveld.
Louise le Roux Pretorius, Knysna