VAN WAAR, GEHASI?
Scott Fahlman, ’n professor in rekenaarwetenskap aan die Carnegie Mellon-universiteit in Pittsburgh, Pennsilvanië, gebruik in 1982 (toe al!) die eerste teksgebaseerde emotikons – :) en :( vir ’n glimlaggende en ’n hartseer gesiggie – in ’n e-pos. Al het hy daarmee die eerste, beskeie treetjie in die rigting van die emoji gegee, laat dit hom koud. Hy het al gekla dis “lelik” en “verbeeldingloos”.
In die laat 1990’s kom twee Japannese selfoonmaatskappye, SoftBank en NTT Docomo, elk met ’n stel prentjie-agtige karakters op hul selfone vorendag. SoftBank was eerste, maar Docomo kry meestal die krediet vir die skepping van emoji soos ons dit vandag ken. Dié stel van 176 ikone, ontwerp deur Shigetaka Kurita, is baie eenvoudig in vergelyking met vandag se emoji. Dit het meestal alledaagse items ingesluit, soos ’n kar en sambreel, sowel as simbole, insluitend syfers en musieknote.
Dis sedertdien uitgebrei om meer velkleure in te sluit, gender-inklusief en verteenwoordigend van die gestremde gemeenskap te wees. In het die 15-jarige Rayouf Alhumedhi byvoorbeeld ’n suksesvolle veldtog gevoer vir ’n emoji van ’n vrou met ’n hijab. Die Unicode Consortium sê hulle oorweeg elke voorstel, hetsy deur ’n individu of maatskappy, sorgvuldig.
Bronne: vox.com, labourguide.co.za