SEYCHELLE, PARADYS IN ’N PANDEMIEJAAR
Tydens ’n besoek aan die Seychelle einde verlede jaar het moederaarde weer kom wys hoe kosbaar sy is. Carmen Botma het ’n stukkie van dié eilandparadys beleef
Eers stry ek met myself. Dan gaan haal ek my selfoon, klem dit in albei hande vas, sê naderhand: “Hou dit net normaal vas, Carmen, jy gaan dit laat val!”
Ek is op Anse Source d’Argent, glo die strand wat die meeste ter wêreld afgeneem word. En ek dra behóórlik hiertoe by. Twee tree die see in het ’n paar vlermuisvisse om my bene begin draai. Dié eens-in-’n-leeftydgebeurtenis móét vasgelê word, redeneer ek – al waag ek nou met my foon in die water.
My medestrandgangers het seker dadelik gesnap ek is nuut hier, want later die dag het ’n eenvoudige Google Image Search bevestig dat hierdie visse ’n algemene gesig in die waters van die Seychelle is.
Tog, dié aand slaap ek saliger as ooit, want ek weet: Hierdie visse het mý gekies, die hele ervaring is ’n bevestiging dat ek een met die natuur is. Ek is van die aarde en in ritme daarmee, presies wat ek tydens my besoek aan die tropiese eilandgroep wou ervaar. Hoe kon ek toe weet ek sou tydens my verblyf keer op keer met dié gewaarwording geseën word.
SARIE is op uitnodiging van
Air Seychelles en die Seychelletoerismeraad vir sewe dae in die land. In die “Jaar van die Pandemie”, soos 2020 seker altyd bekend sal staan, wil hulle vir ons kom wys watter planne in plek is om toeriste terug te verwelkom.
En sjoe, die planne ís in plek. Ten tyde van ons besoek was daar slegs drie aktiewe Covid-19-gevalle in die land, danksy streng protokolle. En in Januarie sou die Seychelle die eerste Afrikaland word wat met ’n inentingsprogram vir al sy burgers begin.
Soos die coronavirus die foute in die samelewing uitgewys het, het dit ook die mooi beklemtoon. Dis ’n besonderse ervaring om ’n land te besoek wat hul natuurskoon vier, alles in die stryd werp om dit te bewaar (plastieksakke word byvoorbeeld verbied) en ja, graag daarmee spog. Geen masker kan die Seychellese se trots verbloem nie. Dit stráál.
Dié dat ons so besig is. My eilanddrome is sonder twyfel gevoed deur flieks en Instagram: Met ’n sonhoed in die hand en ’n pikswart sonbril op die kop sou ek arriveer, my linne-uitrusting wapperend in die wind. Ek sou my dae op die naaste strand deurbring terwyl ek lees/slaap/ ’n skemerkelkie geniet en nooit my swembroek uittrek nie.
Die ontblote dakbalke en oop ingangsportaal van die internasionale lughawe naby die hoofstad, Victoria, pas perfek in by die prentjie, maar ek kom vinnig aarde toe. My sonhoed is nou ’n waaier teen die hitte en my uitrusting sit glad nie soos dit moet vir ’n Instagram-kiekie nie. Die reisplan sit aktiwiteite uiteen wat wissel van fietsry tot bergklim. Kyk jy om jou, voel alles so bekénd. Die mense, die geboue, daar is selfs ’n Absa-kitsbank. Ek moet myself herinner dat ek aan die kus van Afrika is, mos my kontinent ook.
Die Seychelle bestaan uit 115 eilande en ons bly oor op die drie grootstes en bekendstes: Mahé (die hoofeiland), Praslin en La Digue.
Mahé, waarop Victoria geleë is, is jou wegspringplek. Van hier kan jy per boot, vliegtuig of helikopter na enige van die ander eilande reis. Om jou is digte tropiese woude met die Morne Seychellois, op 905 meter die hoogste bergpiek, wat oor jou waak.
Ons pak die Copolia-staproete aan, ’n maklike, uur lange roete vir stappers van enige ouderdom en fiksheidsvlak. Steve Denis, ons gids, is kaalvoet, want die grond is klam en lê vol blare. Hy het in die woud grootgeword. Soos ons deur sy kleintyd-speelplek loop, stop hy kort-kort om sy insekmaats onder die klippe te soek.
Dan beland ons op ’n granietkrans van waar ons die hele Victoria – een van die kleinste hoofstede ter wêreld – kan sien. Agter ons is net woud. Jy wonder wat tussen die boomtakke skuil, maar Steve stel ons gerus dat die woude geen wilde diere (behalwe vrugtevlermuise en tenreks – ’n soort krimpvarkie) huisves nie. “In hierdie woude is jy veilig. Besef net hoe klein en jonk jy langs hierdie boom is,” herinner hy ons.
Dan water toe, die Seychellese se ander groot speelplek. Hier ontmoet ons Michael Moncherry, ’n ware karakter wat sy bors al verder uitstoot wanneer ons hom kaptein noem. Aan die stuur van die Dolphin Nemo
Glass Bottom Boat neem Kaptein Michael ons om te gaan snorkel, my eerste keer. Ons is in die Sainte Anne Nasionale Mariene Park, wat bestaan
uit ses eilande noordoos van Mahé, en Michael stop gereeld om medeseevaarders te groet; hy ken duidelik almal.
So mooi soos wat dit bo die water is, kan jy nie glo wat onder die water wag nie. Visse klein en groot, enkel en in skole, in elke kleur, koraalriwwe, alles omgeef van louwarm turkoois water.
Ná middagete op die Moyenneeiland, die kleinste natuurreservaat in die wêreld, is ons met ons snorkels terug in die see. Michael gly deur die water soos hy skulpe uitwys, en toe, nóg ’n word-een-met-die-natuur-oomblik: ’n seeskilpad. Asof uit nêrens is die dier voor ons, rustig aan die swem sodat ons hom met gemak kan agtervolg. Sy bene beweeg stadig op en af en jou asemhaling neem vanself dié ritme aan. Jy voel hoe jou hart kalmeer.
Op die Cerf-eiland kry ons padkos. Ons kaptein tel kokosneute op en sny dit behendig oop sodat ons met rooigebrande rûe vars klapper kan eet en klappermelk drink. Hy maak seker ons mis geen eilandervaring nie.
“Dís die Seychelle-manier van doen,” sê Danielle Narty, ons gasvrou by Le Duc de Praslin, ’n hotel op die eiland Praslin. Sy is trots daarop dat die Kreoolse erfenis – dis regeringsbeleid om die kultuur te koester – bewaar gebly het.
Danielle grap en sê hulle ken al
8 600 inwoners van die eiland, oftewel, almal ken meneer Robert Payet, die eienaar. Hom sien jy gereeld doenig by die hotel en hy kuier elke aand saam met die gaste. Sy pa en ma het Le Duc as ’n gastehuis begin en hy beywer hom om dit ’n bekostigbare viersterbestemming te maak. Al sy werknemers is Seychellese en hy borg tot ’n plaaslike sokkerspan.
Le Duc kyk uit op die Côte d’Orstrand en is idillies. Jy sien kinders op swaaie onder palmbome met die kalm see daaragter en raak lus om die roeispaan op te tel en na ’n eiland in die verte te roei. Of by die eilandstyl restaurantkroeg lafenis te gaan soek.
Een van die twee Unescowêrelderfenisgebiede in die Seychelle is op Praslin geleë. Die Vallée de
Mai is so ongerep dat dit soms die Tuin van Eden genoem word. Dis in dié vallei waar die oeroue coco de mer-palm (Lodoicea maldivica )–draer van die wêreld se grootste neut – aangetref word. En dis ook die enigste plek waar die bedreigde Seychellese swart papegaai voorkom. Medina Laboudallon, ons gids, maak ons speels stil en vra: “Hoor julle dit?”
Nee, daar is niks. “Dis die wind wat deur die palms waai. Natuur wat teen natuur skuur.”
Op La Digue kan jy nie anders as stil wees nie. Met slegs 2 800 bewoners en byna geen motors nie, hoor jy slegs jou eie wiele draai. Dis natuurlik die wiele van jou fiets. La Digue is dalk net 5 km in lengte en 3 km op sy wydste, maar ewe ryk aan kleur en karakter. Op pad na die Anse Source d’Argent (die mees gefotografeerde strand) ry ons deur L’Union Park,
’n landgoed met ou kokosneut- en vanieljeplantasies asook ’n tradisionele meul waar klapperolie vervaardig word.
Die Anse Source d’Argent is uniek met granietrotse wat die kuslyn stippel. Om jou lêplekkie te vind moet jy soms in die water om die rotse loop. Lyne van helder blou lug, turkoois water, wit sand en groen palms wissel mekaar af met die grys rotse wat vorm gee.
Weer is ek verstom oor hoe vinnig ek in die water is. As Kapenaar maak ek altyd ’n propperse scene: Eers die mind game van “dis nie so koud nie”, die gil wanneer ek ingaan, die geblaas as my kop eers onder die water was . . .
Hier stap jy net in. Niks staan in jou pad nie. Inteendeel, die visse nooi jou in en jy lig jou voete om ’n bietjie te dryf.
Dis paradys, waar selfs ’n pandemie nie geraas maak nie.
SARIE was ’n gas van Air Seychelles, die Seychelle-toerismeraad en Big Ambitions.
Inligting was met druktyd korrek.