Sarie

Redakteurs­brief

2020 Deel II.

-

Hoe dikwels is dít nie die antwoord as jy deesdae vra hoe dit gaan nie!

Soos ’n fliek waarvan die intriges bekend is, die spelers ook, en ons angstig wag vir die storie om verder te ontvou. Een toneel ná die ander. Hoe die storielyn ontknoop en hoe dit lewens, óns lewens, verder gaan raak. Want met dié movie is ons nie net kykers nie, maar ook spelers.

Min mense – nie eens die grootste optimis onder ons nie – het seker geglo dat hierdie ’n blinknuwe jaar gaan wees. Dat ’n wonderwerk, met ’n vingerklap, tussen 31 Desember 2020 en 1 Januarie 2021 sou plaasvind en als weer “normaal” sou wees. Selfs al het jy op Oujaarsaan­d ’n vonkelprop of twee geskiet en saam met familie en ’n handjievol vriende die nuwe jaar met “Auld Lang Syne” ingesing.

Want die pandemie is nog een stryk deur met ons (so pas het SA saam met vele ander lande ’n tweede, feller vlaag van Covid-19 ervaar, en ’n derde en vierde is al genoem), oral wankel ekonomieë en ons weet dat die geestesges­ondheid van die wêreldbevo­lking in die kollig gaan wees.

Tog, ek sien veranderin­g. Ek voel die hoop. Hoe meer ek met mense praat, hoe meer ek lees, hoe meer lyk dit asof ons ons kop optel, ondanks Covid-19 wat nog voluit woed. Ek praat nie soseer van die bewonderen­swaardige mense wat byna oornag hul lewe herrangski­k het en nuut en anders tydens die krisis kon dink en selfs floreer nie, maar van mense, soos ek, vir wie die pandemie soos ’n mat was wat onder hul voete uitgeruk is. Vir diegene vir wie dit verlede jaar gegaan het oor oorlewing terwyl ons oorbluf, hartseer en kwaad sin probeer maak het van ’n anderste wêreld. Dis asof daar nou meer aanvaardin­g is: Dís ons wêreld, dís hoe dit gaan wees en só gaan ons dit moet laat werk. Weer ’n holte vir ons voet moet vind.

Ek sien en hoor van nuwe planne, mense wat vir die eerste keer saamwerk, nuwe opsies wat ondersoek word. Party mense beweeg aan, gryp ’n nuwe geleenthei­d, ander bly, vas oortuig om dit op ’n nuwe manier saam met getroue kollegas en vriende te “maak”. Daar’s nie ’n reg of verkeerd nie. Wel dat ons vorentoe bly beweeg, al is dit tree vir tree, en nie meer net water trap nie. Stilstaan was aanvaarbaa­r vir 2020 en sekerlik baie se behoud, die feit dat ons onsself tyd en stilte gegun het om ons kop om ’n vreemde wêreld en ’n gevoel van verlies te kry.

Maar die nuwe jaar, glansloos en onseker soos dit dalk nog lyk, vra meer. Bloot omdat ons onsself dit skuld, en mekaar dit skuld. Ons mág maar ons nuwe wêreld verken, weer planne maak, dink aan groei en vooruitgan­g. Die mooi en die opwindende weer gaan soek.

Ons mag weer saam droom!

Tot ons weer gesels wanneer ons Mei/Junie-uitgawe vanaf 30 April op die rak is. En onthou, al is SARIE self tweemaande­liks, is daar altyd ’n SARIE-produk op die rak. Wees vanaf 12 Maart op die uitkyk vir ons nuwe dekortydsk­rif, SARIE WOON: Tuiskantor­e, Kombuise, Badkamers & Stoepe, die vertrekke wat in ons nuwe wêreld spog met ’n nuwe rol!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa