Prinses Charlene se Pretoria-ontwerpers
Hulle werk en leef in verskillende wêrelde. Twee ontwerp vroueklere in Pretoria, en een is produkbestuurder vir sokkerdrag in Duitsland. Maar dié stylvolle ontwerpers het ’n hele paar dinge gemeen: ’n wilde loopbaandraai in Monaco, internasionale erkenning, en ’n blink toekoms in die stylwêreld . . .
Daar hang ons rok toe in prinses Charlene se kas, tussen ’n Valentino en ’n Versace!
Natasha Jaume en Carina Louw van ERRE
Hulle maak gereeld klere vir prinses Charlene van Monaco, het al vertonings in Berlyn en Moskou gehou, en aktrise Terry Pheto het ’n uitrusting in hul boetiek gekoop wat sy by die 2015-Emmy-toekennings gedra het. Natasha Jaume en Carina Louw, die twee Pretoriase ontwerpers agter ERRE (uitgespreek soos air), beskryf hul ontwerpstyl as “power dressing redefined ”, en vroue oor die wêreld heen is gaande daaroor.
Prinses Charlene bly natuurlik ’n groot hoogtepunt vir dié twee vriendinne wat mekaar ontmoet het toe hulle saam by die Oakfields-kollege in Pretoria klas gegee het. “Sy was in 2018 in Suid-Afrika en sou op die voorblad van ’n vrouetydskrif wees. Die stiliste het byna honderd uitrustings bymekaar gemaak vir die fotosessie, maar sy het meestal ons klere uit die klomp gekies. Die oggend van die foto’s bel die stilis ons en sê ‘kom vinnig, sy wil julle ontmoet’,” onthou Carina. “Ons het ’n uur gehad om in Johannesburg te kom en het natuurlik alles gelos en soontoe gejaag! Toe sê sy sy wil ons na die paleis laat vlieg vir ’n konsultasie. Sy het vir alles betaal en ons het ’n heerlike naweek in Monaco gehad. In haar klerekas in die paleis het een van ons rokke reeds in haar kas gehang – nogal tussen ’n Valentino en ’n Versace! Sedertdien maak en stuur ons ’n paar keer per jaar vir haar nuwe uitrustings.”
Dis ’n lekker pluimpie, maar om bekendes aan te trek is nie iets wat hulle najaag nie, sê Natasha.
“Inteendeel, die grootste plesier vir my is as ’n vrou by die boetiek instap, ons iets vir haar aanbeveel, al dink sy dit sal haar nie vlei nie, en hoe haar gesig dan ophelder wanneer dit haar wel pas. Om te sien hoe iemand se selfvertroue binne ’n paar minute kan verbeter wanneer sy jou ontwerp aantrek . . . dit maak jou so trots.”
Dis omdat hulle ál hul ontwerpe eers self toets dat dit so goed aan enige vrou se lyf pas. “Ons dra al ons ontwerpe eers self, want ons figure en voorkeure verskil baie – ek dra byvoorbeeld nét rokke en Natasha verkies weer broeke,” sê Carina. “So kan ons klere maak vir regte vroue, in alle groottes. Die aanslag is heeltemal anders as jy vir ‘regte’ figure ontwerp. Dis maklik om vir modelle te skep. Jy kan basies enigiets teken en maak en dit sal goed lyk aan hulle. Wanneer jy vir ‘regte’ figure ontwerp, moet iemand eers die uitrusting aantrek en toets en dan moet jy die ontwerp aanpas. Dit gebeur amper nooit dat ons iets teken en dit dan dadelik maak nie.”
Baie van hul beste idees kom eintlik uit “foute” tydens dié proses, voeg Natasha by. “Ons gewildste skepping, die Myri-rok, was byvoorbeeld eers net ’n eenvoudige, vloeiende lang rok. Toe Carina dit aantrek, sê sy dis te lank vir haar en ons werk toe knope aan sodat jy die lengte kan verstel. Toe ek dit dra, wou ek moue hê, en ons werk toe nog knope vas sodat jy dit met of sonder moue kan dra. Die uiteinde is ’n verstelbare rok wat vleiend is vir enige figuur van enige grootte, en op ’n klomp verskillende maniere gedra kan word.”
Hul eie klerekas bestaan ook omtrent nét uit ERRE-items, lag hulle. “Letterlik my hele kas is ERRE,” sê Carina, en Natasha knik haar kop.
“Ek het miskien een of twee Nikesweetpakbroeke en een rok van ’n ander ontwerper. Hoekom die ontwerpe skep as ons dit nie self sal dra nie?”
Dié dat hulle tydens die inperking nuwe reekse ontwerp het wat jy tuis gemaklik kan dra. “Ons is mal oor klassieke ontwerpe uit die 1950’s, veral die haute couture van daardie era. Afrika se kulture inspireer ons ook.
< “Maar tydens die pandemie het mense meer tuis gebly. Selfs ons het in sweetpakke by die huis rondgeloop en toe ’n reeks T-hemde en loungewear ontwerp. Ons wil altyd ons mark se behoeftes in gedagte hou,” sê Natasha.
Nuwe idees is gelukkig iets wat natuurlik kom as jy ’n passie vir styl en ontwerp het soos dié twee. Selfs voor hulle ERRE begin het, het hul lewe daarom gewentel. “Hierdie liefde kom eintlik al van kleins af,” vertel Carina. “Ons sit juis nou die dag en gesels oor hoe ons as kinders vir ons poppe klere gemaak het. My ma het ook gereeld klere gemaak en sou my oor vakansies inspan om te help Burda-patrone aanpas. My sussie sou weer soms ’n Vogue in my hande stop nadat sy klaar gelees het. Ek was net nog altyd lief vir mode, en Natasha ook.”
“Toe ons lektore was,” sê Natasha, “sou ons tussen klasse gesels oor ons liefde vir mode en ontwerp. Carina het ’n patroonklas aangebied en ek naaldwerk, maar ons was albei in ons vrye tyd ontwerpers – ek het trouuitrustings gemaak en Carina mansklere. Ons verskillende vaardighede het mekaar goed aangevul en ons het besluit om saam ’n onderneming te begin.”
Hulle het nog drie jaar voltyds as lektore gewerk en soms deurnag gesit om ERRE-bestellings af te handel nadat hulle die onderneming in 2013 begin het, maar die lang ure het min gepla. “Eenkeer moes ons dertig rokke oor ’n naweek klaarmaak! Maar ons is so mal daaroor, dit het nooit soos werk gevoel nie – en dit voel steeds nie so nie. Dis ’n leefstyl.”
Daar is nie iets soos ’n droom wat te groot is nie
Christiaan Barnard, internasionale produkbestuurder
As kind het Christiaan Barnard al besluit hy sál in die sokkerwêreld werk. Oor net presies hoe hy dit sou doen, was hy nie seker nie. “Natuurlik wou ek vir Manchester United speel, my gunstelingspan, maar ek het geweet dit sal nie maklik wees nie. Ek het gedink ek kan dalk ’n spanbestuurder word . . . so iets.”
Dit was uiteindelik sy liefde vir styl wat die geleenthede sou bring om dié droom te bewaarheid. “Styl was nog altyd vir my belangrik. My pa het my aangemoedig om anders te wees. Hy was ook so en sou byvoorbeeld gereeld sy rooi jeans en vellies van gevlegte leer dra. Ek is trots op wat ek dra en hou van gehalte. Ek is ’n boy’s boy, maar trek graag mooi aan – al tune hulle my soms daaroor,” lag hy.
Vandag is hy die internasionale senior produkbestuurder van Adidas se gelisensieerde sokkerdrag. “Ons afdeling ontwerp, ontwikkel, bemark en bestuur al die klere van sokkerspanne wat Adidas borg en verkoop ook reekse șaan ondersteunersț. Ek is onder meer verantwoordelik vir Manchester United se wedstryd- en oefenklere. Ek kan steeds skaars glo ek werk saam met my gunstelingspan! Die dag van ons eerste vergadering by Old Trafford, hul stadion in Engeland, het ek soos ’n kind gevoel en aanhoudend hoendervel gehad.”
Al woon hy nou al sewe jaar in die buiteland, bly hy trots SuidAfrikaans. Hy is ook verantwoordelik vir Orlando Pirates se kleredrag, en sy 2017-Orlando Pirates-trui is in 2019 deur die wêreldbekende sokkerblog SoccerBible as die agste beste trui van die afgelope dekade aangewys.
Sy grootste prestasie is ’n onlangse projek saam met die Amerikaanse sanger Pharrell Williams. “Hy is nou betrokke by die ontwerp van Adidasreekse wat sy naam dra. Ek wou iets anders met ons sokkerdrag doen en het aan sy bestuurspan die idee voorgelê dat ons saam die mees ikoniese sokkertruie herontwerp. Toe ek hom in 2019 die eerste keer by die Paryse Modeweek ontmoet, nogal by die Four Seasons George V-hotel, het ek besef daar is nie so iets soos ’n droom wat te groot is nie – as jy passievol genoeg is, kan jy dit laat gebeur.
“Pharrell het baie kreatiewe idees en wou hê ons moet die reeks met die hand ontwerp, nie digitaal nie. Ons ontwerpers het toe truie vir Manchester United, Arsenal, Real Madrid, FC Bayern en Juventus met die hand geverf. Dis daarna gedigitaliseer en vervaardig. Dit was moeilik om aan almal se vereistes te voldoen – Pharrell, Adidas én die klubs – maar die reeks is baie suksesvol.”
Christiaan se pad tot daar was nie altyd maklik nie. “Nadat ek bemarking aan die AAA in Kaapstad studeer het, het ek gesukkel om werk te kry. Ek het aansoek gedoen om internskappe by Adidas, Nike en Puma in SuidAfrika, maar niemand het na my toe teruggekom nie.”
’n Oud-lektor het hom na iemand by Puma verwys vir ’n maand lange onbetaalde internskap. “Net toe ek klaarmaak, het drie mense bedank en ek kry toe ’n pos as leefstylkoördineerder – ek moes sorg dat bekendes ons klere dra. Dit was groot pret, maar ná ses maande het ek besef daar is nie groeigeleenthede nie, ek het bedank en besluit om ’n meestersgraad in digitale bemarking aan die Universiteit van Monaco te doen.”
Daar was sy liefde vir sokker byna ál wat hom aan die gang gehou het. “Dit was die moeilikste jaar van my lewe. Alles was vreemd, ek was alleen, die taal was moeilik, die mense koud, die weer onaangenaam en alles was baie duur. Ek het elke sokkerwedstryd gekyk wat ek kon, in kroeë of op sosiale media, en vir die universiteitspan begin speel.”
By een van hul laaste wedstryde was daar eindelik lig aan die einde van die tonnel. “My spanmaat het ’n internskap by Adidas se hoofkantoor in Duitsland gekry en ek was groen van jaloesie. Ek het gedink ek sou nie ’n kans staan nie, want ek kon nie Duits praat nie. Maar hy sê toe almal praat Engels by die hoofkantoor. Ek kan nie eens daai wedstryd onthou nie . . . Ek het huis toe gejaag en aansoek gedoen om ’n internskap in bemarking – en dit gekry!”
Maar weer het die eensaamheid in ’n vreemde land hom begin vang.
“Ek het my pa eendag gebel en gesê
ek wil huis toe kom, ek sien nie ’n werksgeleentheid in my afdeling nie en het genoeg gehad. Hy het my aangemoedig om net tot die einde van die jaar uit te hou.”
En toe kry hy daardie Desember in 2015 ’n junior pos in die afdeling vir gelisensieerde sokkerdrag. “Ek het my pa gebel en begin huil. Raak steeds emosioneel as ek daaraan dink. My lewe het daardie dag verander. Al die opofferings was die moeite werd.”
Christiaan het nog groot sokkerplanne. Tydens die inperking was hy ’n paar maande lank in Suid-Afrika en hy en twee vriende, Constant Strydom en Christopher Falck, het ’n sokkerpodsending begin. “SokkerSondae (sokkersondae.podbean.com) is die eerste Afrikaanse sokker-podcast .Ons neem elke week ’n program op en is stadig maar seker besig om ’n lekker gevolg op te bou. Binne die eerste paar maande het ons al duisend luisteraars gehad. Ek en my twee pêlle is al van skool af groot sokkeraanhangers en ons wou ’n gemeenskap skep om in ons taal daaroor te gesels.”
Afrikaanse mense is verbasend fanaties oor Engelse premierliga-sokker, sê hy. “Hulle word groot met rugby en krieket, maar die premierliga is ’n wêreldwye fenomeen en mense geniet dit ook al hoe meer. Ek dink Afrikaners is maar net oor die algemeen passievol oor sport!”