’n Anderste vakansie
Vyf dae klink dalk na min vir ’n sinvolle vakansie – maar jy kan ’n hele wêreld in so ’n kort tyd beleef. Of dit nou deur jou kameralens of met jou tekkies is
Leanne Dryburgh het al as driejarige geweet nét waar sy wil wees – sy sou ure in haar pa se donkerkamer sit en kyk hoe hy met foto’s toor. “Ek onthou nog hoe my ma dringend aan die deur sou klop om te hoor of hy gecheck het dat ek nog oukei is! Ek het gou sy helper geword.”
Haar man, Peter Hassall, het op laerskool sy eerste kamera gekoop – die R45 daarvoor het hy gespaar deur karre te was en tuinwerk te doen. Daardie kamera – steeds op sy rak – het altyd film in, vertel hy. “Ek gebruik dit steeds af en toe! Ek was verlief op foto’s neem, het regdeur my universiteitsjare aangehou en net nooit opgehou nie.”
Die twee is al byna dertig jaar lank professionele fotograwe, maar hulle raak nog net so opgewonde oor fotografie soos in hul kinderdae. Nie net oor hul eie werk nie, maar ook dié van die meer as 8 000 amateurfotograwe wat sedert 2012 hul fotografie-toere en -werksessies bywoon. Hulle reis wyd hiervoor, met vier dag lange toere regdeur die land, onder meer na die Oos-Vrystaat, Karoo, KwaZulu-Natal, Arniston en Overberg asook effens langer toere oor landsgrense heen.
Hulle het reeds 78 toere en 3 789 werksessies agter die blad, maar dit raak nooit geyk nie. Leanne vertel toe digitale kameras mode geraak het, het sy besef dat mense baie belê in digitale toerusting vir hul stokperdjie, maar nie werklik weet hoe om dit te gebruik nie. “Dis nie net lekker om my kennis te deel nie, maar ook so bevredigend om te sien hoe iemand wat passievol oor fotografie is, begin groei en ontwikkel op hul reis.”
Die twee skerts hulle is “so ’n bietjie soos trotse ouers”, maar hulle kan nie anders as om ’n kick daaruit te kry wanneer daardie “liggie” in iemand aangaan wanneer die “spreekwoordelike penny drop” nie.
Hulle het baie solo-reisigers in hul groepe, ook mooi stories van weduwees wat op hul eie kom en ’n hele nuwe wêreld voor hulle sien oopgaan . . . lewensveranderend. Met ’n kamera kry reis ook ’n heel ander doel: Almal kyk net anders na dinge. Soos ’n ou gebou . . . hoe die lig op hom val, watter hoeke hy het, sê Leanne.
Elke bestemming het sy eie lekkertes, maar Peter het veral ’n sagte plekkie vir Italië. Hy hou van “die egtheid van die inwoners, die geskiedenis, die teksture, die lig en die landskappe, wat alles pragtig vermeng”.
Leanne het weer jare terug haar hart op Botswana verloor. “Ek was maar pas klaar met my fotografie-diploma aan die technikon in Durban en ek wou op natuurlewefotografie fokus, maar kon nie my voet in die deur kry nie.
“Ek het ’n ooreenkoms met ’n reservaat in Botswana gesluit om gratis vir hulle te werk in ruil vir die gebruik van hul bote en voertuie. Ons het mekaar ‘misbruik’, maar watter wonderlike verhouding: Ek het lieflike foto’s geneem! Reeds toe het ek geweet ek wil eendag mense daarheen terugneem.” Die twee probeer ook altyd ’n verskil maak en teruggee aan die gemeenskappe wat hulle besoek.
Die toere is vir alle amateurfotograwe, ongeag hul vaardigheidsvlak. As jy nie foto’s neem nie, kan jy steeds jou maat vergesel – en straks in ’n fotograaf ontpop. Soos die sakeman wat deur sy “oor-avontuurlustige vrou gekaap is” (sy woorde) en móés saam op die Namakwaland-toer. ’n Uitdaging vir ’n man wat eerder op die bank voor die TV van stres ontslae raak. Teen die einde van die vier dae het hy homself verklaar tot newbie-iPhone-fotograaf met ’n “oënskynlike talent om blomryke landskappe en maanlig-seetonele vas te vang”. Later was hy voor in die koor in ’n toer Italië toe, waar die geskerts tussen man en vrou vir groot pret gesorg het.
Groepe smee binne enkele dae hegte vriendskapsbande en lag baie, ook oor die sogenaamde “why-bothers” – die minder suksesvolle pogings. En daar is altyd kliënte wat verras. Soos die Duitse kliënt wat Botswana treffend vasgevang het. Om saam met hom te kon werk en te help om sy bestes te kies (hy wou net vyf vir sy familie en vriende in Duitsland wys) was ’n ervaring wat Peter “baie nederig laat voel het”.
Op die toere het hulle nie self tyd om foto’s te neem nie. Leanne werk veral met die intreevlak-fotograwe, terwyl Peter fokus op tegniese aspekte en groeplede wat al meer gekonfyt is. Hulle vul mekaar goed aan. Ná so ’n toer het hulle “so ’n lekker moegheid”, sê sy. “Dis lekker om dan net weer te reconnect by ons houthuisie by die monding van die Botrivier.”
Met fotografie gaan ’n nuwe wêreld voor jou oop
Leanne Dryburgh en Peter Hassall
Vir Dalene van Staden was dit die drang om te verken en nuwe plekke te ontdek. Magan Hanekom was veral geïnspireer deur wat jy in jou eie “agterplaas” kan sien. En Caro Jordaan wou nog altyd ’n avontuur op groot skaal aanpak – en sy droom van nóg.
Dit het gelei tot ’n unieke uitdaging: om binne vyf dae 15 berge met die naam Tafelberg uit te klim . . . party tot 500 km van mekaar in die WesKaap. Drie, vier berge op een dag, deur fynbos, klipperige veld, selfs oor groot granietrotse, meestal sonder paadjies, soms met ’n kopflits in die donker . . . tot by die laaste Tafelberg, in Kaapstad, waar familie en vriende hulle by Platteklip met bosse proteas ingewag het.
Lang afstande het dié drie nog nooit afgeskrik nie. Dalene (28) het al twee keer die Sky-veldwedloop oor 100 km by Lady Grey voltooi, Caro (28) die 76 km lange Addo-wedloop naby Port Elizabeth, en Magan (25) het die Otter (43 km) tussen Stormsrivier en Nature’s Valley kafgedraf.
Dalene wou juis vroeg in 2020 “vir oefening” drie Tafelberge in ’n naweek klim, toe grendeltyd dit gekortwiek het. Toe sy later ontdek dat daar soveel méér Tafelberge is, het sy besluit om almal vir haar 15 Tafelberge-projek op te spoor.
“Ons het beperkte verlof gehad, maar natuurlik moes ons al vyftien inpas – want watter een los jy uit? Gaan groot of gaan huis toe,” skerts sy.
Dalene, ’n optiese ingenieur, het as student op Stellenbosch besef jy hoef nie net daguitstappies te doen nie – die speelveld is baie groter. Magan is ’n ouditklerk van die Paarl wie se ouers haar gereeld saamgeneem het berg toe nog voordat sy kon loop. En Caro, ’n goudsmid van Durbanville wat ringe en ander unieke stukke maak, het op laerskool begin hardloop en is mal oor rotsklim. Al drie drafmaats was gretig om hul grense te verskuif.
Caro weet al Dalene se avonture stel nooit teleur nie. Sy reël ’n ding ordéntlik. “En dis ’n bonus dat sy my beste vriendin is met wie ek al berge en road trips gedeel het.”
Maande voordat hulle op 13 Oktober uit die Paarl na Bitterfontein-Tafelberg in die verre noorde van die Wes-Kaap sou vertrek, het hulle reeds al die berge verken, die grondeienaars ontmoet en roetes uitgewerk sover hulle kon.
Dit was soos ’n skattejag, vertel Dalene. “Ons het nie geweet wat om te verwag nie. Op party berge was daar sover ons weet nog nooit mense nie, en van die eienaars het nie eens geweet hulle het ’n ‘Tafelberg’ op hul grond nie.” Hulle het ’n paar harde navigasielesse geleer. Soos toe hulle net voor Uniondale op ’n platterige berg staan en besef die ware jakob (OnderKammanassie) is die kleinerige koppie langsaan.
Party boere was verbaas wanneer drie vroue daar opdaag, sê Dalene. “Ons was ’n unieke span, ons drie saam. Dikwels as ’n man deel is van so iets, dink mense outomaties hy het al die werk gedoen!”
Caro reken sy sal hierna hoër mik.
“As vrou voel jy makliker onveilig en onseker om onbekende berge te verken, maar ek weet nou jy het nie ’n man daarvoor nodig nie . . . Bygesê, Rae se aandeel was goud werd.”
Joernalis Rae Trew-Browne, wat ’n dokumentêre program oor hul projek maak, was eers net “die vlieg teen die muur”, maar het later agter die stuur ingeskuif – die veiliger opsie wanneer jou medepassasiers net 15 uur slaap in vyf dae gehad het. Hy het selfs die berge in die Koue-Bokkeveld, by Stanford en Merweville saam uitgestap-draf.
In die motor is dié “rou Engelsman” dikwels op Afrikaanse musiek getrakteer . . . van ou treffers deur
Carike Keuzenkamp tot die kletsrymer Biggy, vertel Magan. Biggy se “Boet en Saartjie” en “Sweet Caroline” van
Neil Diamond het later in hul kop vasgesteek. Soms sou iemand in die klim spontaan daarmee wegval –
“enigiets om jou aandag van ’n taai opdraande af te trek”.
Al was hulle goed voorbereid, het die ontbering by tye byna sy tol geëis. Vir Caro was die vroeg opstaan met ’n moeë lyf ná net drie uur slaap elke keer ’n skok, maar omdat almal so gemotiveer was, was sy gou voluit op dreef.
Vir Magan was dit weer vir ’n oomblik moeilik om haar kop reg in te stel toe sy op dag twee om tienuur die aand wéér haar skoene moes aantrek vir hul vierde berg van die dag. Hulle het toe reeds die oggend De Doorns-Tafelberg,
Robertson-Tafelberg (dit was negeuur al 30 0C) en die uitmergelende, half onbegaanbare Wemmershoek-Tafelberg agter die blad gehad. Laasgenoemde het sewe en ’n half uur geneem. Toe lê Stettyn-Tafelberg by Villiersdorp voor.
Daardie aand het sy besef hoe sterk Dalene en Caro is, sê Magan. “Opgee is nie ’n opsie nie. Ongeag wat jou kop vir jou sê, hou by jou plan – moenie eens dink aan ’n Plan B as uitkomkans nie. Ek het geleer die vooruitsig van pyn en moegheid is erger as die werklike pyn en moegheid.” Hulle het tienuur vertrek, en was die volgende oggend vieruur terug by hul motor.
Caro vermoed almal het daardie aand in ’n stadium gedink: “Ons is nou ’n bietjie mal.” Maar hulle het volgehou, aangevuur daardeur om deel te wees van iets wat ander nie sou waag nie.
Dalene se filosofie (benewens haar benadering van “vat dit een berg op ’n slag”) kom van ’n universiteitsvriend wat altyd gesê het: It’s the price you pay for the life you choose. “Dit ís ’n voorreg om te kan kies om swaar te kry.”
Al moes hulle soms fokus om een voet voor die ander te sit – soos toe die goggas en hitte van MeiringspoortTafelberg hulle tot vloek wou dryf – was daar ook tye wat hulle die natuur in al sy verskeidenheid kon waardeer, plekke waarby hulle nooit sou uitkom nie.
Dalene en Magan se mooiste oomblik was bo-op Bo-Kammanassie, toe die son begin sak en die Swartberge van die Klein-Karoo in ’n pienk-oranje skynsel gehul was. Vir Caro was dit die uitsig vanaf Wemmershoek-Tafelberg, wat sy bedags van haar huis kan sien. “Dit was asemrowend. Simonsberg, die diepblou Wemmershoek-dam en see in die verte.”
Hulle’t ook lekker herinneringe aan die mense wat hul pad gekruis het, boere wat hulle met Steri Stumpies gelawe of morele ondersteuning gegee het. En hulle sal almal altyd ’n sagte plekkie vir Merweville se Tafelberg (nr. 14) hê, waar die Marais-gesin hulle ná vier lang dae verwelkom het met ’n tjoppie op die vuur, ’n warm stort en ’n bed.
Die volgende dag was hulle vroeg op koers na die Moederstad. Daar gekom, het hulle al die pad tot bo by Maclearbaken geglimlag. Ná 2 600 km met die motor, 150 km op hul voete en sowat 9 000 m se vertikale klim, kon hulle 15 Tafelberge aftik!