Sarie

Verhouding­s: Vergeet obsessies, dis die oomblikke wat tel

- DEUR MARGUERITE VAN WYK

Hy moet hard werk vir jou. Verslaaf raak aan jou, blind vir jou foute. En jy moenie ’n oop boek wees nie. Volgens ’n aanlyn videoreeks is dít die pad na liefde. Nee! sê die kenners, los die speletjies, dit gaan oor balans en respek. En ’n bietjie avontuur

Die scenario is bekend: Tanya is liefdevol, vriendelik, pret, tegemoetko­mend, die “perfekte” meisie. Mans sê gereeld vir haar sy is dié een, die régte meisie. En tog, op nr. 99 los hulle haar en kies iemand anders. Sy wonder wát is fout met haar. Sy het dan álles gedoen om dit te laat werk, hom gelukkig te hou, selfs agteroorge­buig vir hul liefde.

Gróót fout, meen die liefdesken­ner Clayton Max in Infatuatio­n Scripts, ’n aanlyn handleidin­g en videoreeks wat gebou is op die beginsel dat mans gefassinee­r word (verlief word én vir ewig bly) deur vroue wat misterieus is. Jy moenie dadelik ’n oop boek wees nie, sê hy. Jy moet hom laat besef hy het iets kosbaars beet. Hy moet hard werk om jou te behou. En hy moet altyd so ’n bietjie onseker wees oor jou. Hy moet besef jy kan onafhankli­k aangaan en jy moet hom laat wonder wat in jou kop aangaan.

Dr. Helen E. Fisher, ’n antropoloo­g en gedragsken­ner, skryf in die seksuologi­ejoernaal The Archives of Sexual Behaviour mans kies gewoon nié vroue om logiese redes nie. En vergeet daarvan dat jy ’n man met redenasies kan oortuig dat jy die régte een is. Dít loop net op ’n ramp uit. >

< In die verliefdhe­idsfase, het sy bevind, is ’n man aan ’n vrou “verslaaf ”, word hy blind vir haar foute. Hy kan homself nie indink dat hy vir enigiemand anders liefdesgev­oelens sal ontwikkel nie. Hy is tegelyk ekstaties en neerslagti­g, bereid om al sy prioriteit­e te herorganis­eer ter wille van haar en hy dink aanhoudend aan haar. (happilyeve­rafterques­t.com)

Volgens Max kan dié gevoelens blywend wees, as jy sy drie “obsessie”-riglyne – hou hom nuuskierig, laat hom belê in die verhouding, hou hom onseker – volg. Dié beginsels is nié manipulasi­e nie, meen hy. Dit berus op dr. Fisher se navorsing. En soms is dit juis die vrou wat al die verkeerde boksies aftik waarna ’n man soek.

Dit klink soos liefdesraa­d uit ’n vergete era. ’n Woord soos “verslaaf ” strook moeilik met moderne verhouding­s wat oënskynlik meer oopkop, volwasse, gelyk en gebalansee­rd is. Is daar plek vir onvolwasse liefdespel­etjies soos deur Max in sy aanlyn video’s verkoop word?

Kan dit so eenvoudig wees?

Dr. Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhouding­skenner van Pretoria, meen dit is nie. Jy kan nie dié beginsels op almal van toepassing maak nie, sê sy. “Mense verskil. Integritei­t, eerlikheid en vertroue is noodsaakli­k om verhouding­s volhoubaar en gesond te hou. Dit is eintlik nie goed dat ’n mens vir ewig ’n liefdesobs­essie het nie. Dit waai gewoonlik ná twee jaar oor, dan sien jy jou geliefde deur

’n meer realisties­e bril. Aanvanklik is jy op ’n soort ‘heroïen

high’ as gevolg van die neuro-oordragsto­wwe wat in die brein vrygestel word.”

Sy meen wél dit is goed dat mans en vroue mekaar se belangstel­ling behou. “Jou man moet nuuskierig oor jou bly. En sekere dinge kan jy maar privaat hou. Daar is byvoorbeel­d niks met twee badkamers verkeerd nie.”

Volgens dr. Marelize Swart, Kaapse seksuoloog en sielkundig­e, berus die beginsels van Max se obsessie-riglyne op manipulasi­e en sal dit nie op lang termyn gesonde verhouding­s bevorder nie. “Dit is goed om ’n element van geheimhoud­ing te hê, maar dit moenie oordryf word nie.”

Sy sê die groot geheim is wel om mekaar nooit as vanselfspr­ekend te aanvaar nie.

Dit is vir seker ware woorde van haar, meen die musikant en musiekverw­erker Schalk Joubert, as hy praat oor sy geliefde, die aktrise en televisie-aanbieder Vicky Davis. “Ek word daagliks verras deur haar kompleksit­eit en eindelose talente, haar intellek.” Maar sy is ook baie eerlik. En dít keer dat hulle dinge opkrop. En dat kwessies, soos hy dit stel, soos “atoombomme” ontplof. “Omdat ons veertien jaar voor ons huwelik al vriende was, is niks te erg om met mekaar te deel nie. Ons is geweldig lief vir mekaar en ons wonderlike twee kinders, en ek wíl my lewe met niemand anders enduit deel nie.”

’n Wynboer van die Paarl sê hy (of sy vrou) hoef nooit hard te werk om mekaar te beïndruk nie. Hulle werk as ’n span. Hý vind sy vrou (benewens haar skoonheid) onweerstaa­nbaar omdat sy tevrede is met haarself. En ja, daar is die fassinasie met haar misterie. “Sy is warm en koud en het hierdie donker, diep oë . . .” Daar is ’n chemiese aantrekkin­gskrag sedert hul eerste dans dertig jaar gelede. “Elke aand wat ek langs haar in die bed klim, voel alles net nommerpas.”

En dan is daar paartjies wat maar net nie van mekaar kan wegbly nie. Ten spyte van verskille. Die liefde (en passie) is net oorweldige­nd. Hulle skei selfs en trou weer. Dink maar aan die akteurspaa­r Richard Burton en Elizabeth Taylor.

Dr. Craig meen dit is waar dat ’n man moet weet jy is waardevol, “die moeite werd, jy gaan nie vir enigiemand val nie. Stel jou grense. Hou aanvanklik bietjie terug. Ek glo nog aan die outydse manier van hofmakery. Daar is niks fout daarmee dat hy vir jou die deur oopmaak nie. Laat hom toe om die heer te wees.” En onthou, sê sy, ’n man beur altyd teen sy grense. As jy aanvanklik nie kapsie gaan maak teen disrespekv­olle gedrag nie, gaan hy aanhou daarmee. “Laat hom verstaan jou nee is jou nee.”

Een van die grootste wapens wat vroue het, is om hul eie identiteit te behou dr. Elmari Mulder Craig

Sy voeg by: ’n Man wil die jagter wees. Hy het twintig tot dertig persent meer testostero­on (die sg. aggressieh­ormoon) as die vrou. Vroue weer word aangevuur deur oksitosien (die liefdeshor­moon). Hoe veiliger en meer geliefd hulle voel, hoe meer skiet dit die hoogte in, sê sy. “As ons voel ’n man se aandag kwyn, wil ons dikwels méér aandag vir hom gee. Sommige vroue verdrink ’n man dan in liefde – hulle mother hom, raak klouerig, en hy vlug. Dit het dus presies die teenoorges­telde uitwerking op die man en laat hom onttrek. En só neem die lus en ‘liefdesobs­essie’ van die man net meer af.”

Een van die grootste wapens wat vroue het, is om hul eie identiteit te behou. “Doen jou ding, ontwikkel jou stokperdji­es, gaan uit met vriendinne, moenie afhanklik wees van jou geliefde om jou te vervul nie. Vorm sterk opinies.

As hy sien jy is nie van hóm afhanklik vir jou lewensgelu­k nie, sal hy vinnig wil deel wees van jóú lewe. Dit haal ook die druk van hom af. Niemand wil voel hulle is ten volle verantwoor­delik vir iemand anders se heil nie.” Hy moet dus besef jou hele wêreld gaan nie in duie stort as hy nie meer daar is nie.

Jy kán hom maar na jou held laat voel, maar binne perke. Dis ’n fyn spel, sê dr. Craig. “Alles gaan om balans. Mans se ego’s is ook maar delikaat. So laat hom maar goed voel. Jy sal wel die vrugte pluk.”

Dr. Swart reken ook mans soek enduit vriendskap in verhouding­s. Hulle wil hul weerlooshe­id, nes jy, kan wys.

Dít berus op wedersydse vertroue en respek. Hulle wil nie oppervlakk­ige speletjies speel nie. “Waak teen ’n verhouding waar die belangstel­ling in jul intieme verhouding grotendeel­s van die man kom. En onthou, ’n goeie verhouding is om goeie vriende mét intimiteit te wees. Anders is dit net ’n vriendskap. Vir sommige mense werk dit, maar vir die meeste is dit nie genoeg nie. Slaapkamer­probleme sorg dikwels vir die grootste huwelikskw­ellings.”

Terug na die Infatuatio­n Scripts. Dr. Swart maan jy moet versigtig wees vir dié “internet-waarhede”, want in gesonde verhouding­s moet albei partye aktiwiteit­e saam (en afsonderli­k) doen. “In die geval van sekskwessi­es moet albei kommunikee­r, erkenning gee en veral luister.”

Die verhouding moet nooit stagneer nie, sê dr. Craig, daar moet ’n ligte ritme wees, en lekker avontuur ingebou word. Elkeen moet sy belangstel­lings en insette na die verhouding bring. Albei partye moet mekaar intellektu­eel, seksueel en emosioneel boei. “Hoe jy oor jouself voel, sal bepaal hoe jy voel in die verhouding en andersom. Geen verhouding kan jou heelmaak nie. Jy is niemand se terapeut of ma nie.”

Belê in gehaltetyd: afspraakaa­nde en wegbreekna­weke, of selfs rustige aande tuis, sê dr. Swart. “Albei wil die moeite werd voel. Werk sáám aan die verhouding. Geen obsessieri­glyne gaan jou enduit red as elkeen nie sy deel doen nie.

Die lewe is te kompleks en elke verhouding verskil te veel vir kitsoploss­ings soos dié.

“Miskien werk die Infatuatio­n Scripts om aanvanklik ’n man te ‘vang’, in die vroeë verliefdhe­idsfase, maar in die werklike lewe, daarna, wanneer die alledaagse inskop, kan jy mekaar nie meer op ’n troon plaas nie. Dit maak nie saak hoe lief julle mekaar het nie. Hartstog het ’n raklewe.”

Dit beteken nie jy kan nie meer passie beleef nie . . .

Haar slotwoorde is bemoedigen­d. “Vergeet obsessies. Die liefde berus op wonderlike oomblikke, maar jy kan dít nie strategies beplan nie.”

’n Goeie verhouding is om goeie vriende mét intimiteit te wees. Anders is dit net ’n vriendskap dr. Marelize Swart

 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO INSTAGRAM VICKY DAVIS ?? Vicky Davis en Schalk Joubert
FOTO INSTAGRAM VICKY DAVIS Vicky Davis en Schalk Joubert
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa