Sarie

‘My affair red my huwelik’

Susan en haar man was nog altyd beste vriende, maar hy het alle belangstel­ling in haar as vrou verloor. Sedert sy ’n affair begin het, gaan dit beter as ooit met haar én hul huwelik, vertel sy

- DEUR SUZETTE TRUTER

Susan het op 56 ’n affair aangeknoop. Die laaste mens van wie jy dit sou verwag – mense het gereeld haar en haar man se verhouding besing, en beny. Ná 25 jaar se getroude lewe het Leon haar steeds op die hande gedra, tee geskink nog voordat sy daarvoor gevra het, haar deur die dag kom opsoek vir drukkies en hulle het mekaar gedurig ge-“Liefie” en ge-“Skatlam” . . . Maar saans het Susan alleen kamer toe gegaan. Sy het in hul groot dubbelbed geslaap, Leon op die rusbank voor die televisie waar hy elke aand ingedommel het en eers die volgende oggend wakker geword het.

Jy maak jouself later allerhande dinge wys, vertel Susan, ’n aantreklik­e handelsmer­kkonsultan­t van Pretoria. Dat dit net tydelik is – hy was immers vroeër ’n vurige minnaar – of dis maar hoe dit werk wanneer jy so lank getroud is. Totdat sy op ’n dag besef het die “gewoonte” duur al agt jaar.

Sy hét Leon aanvanklik probeer oorreed om net ten minste bed toe te kom. Sonder sukses. “Later het ek ophou probeer. Ook om mooi te lyk vir hom. Dit het selfs gerieflik geraak – ons het saam lekker mollig geword van die geregte waarmee hy my graag bederf het. Kos is sy liefdestaa­l.”

Toegegee, hul huwelik was nooit juis konvension­eel nie, sê sy, maar dit het in die beginjare vir hulle gewerk. Leon was die “moederlike” een wat tuis as vryskut-rekenaarpr­ogrammeerd­er gewerk het en van dag een af vir haar, die kinders en katte versorg het (hy het hul seuns se kosblikke so vol gepak dat jy ’n halwe rugbyspan kon voer). Sy was die hoofbroodw­inner, dikwels uitstedig vir werk, vol planne en projekte en ambisie. Sy het ook kliënte vir hom gereël.

“Hy was die huishen, altyd daar vir my. Hy’t my oorlaai met geskenke – waarvoor ek eintlik betaal het. Maar die laaste jare, veral met die kinders uit die huis, het sy wêreld al hoe kleiner geraak. Leon was op sy gelukkigst­e voor die rekenaar. Hy wou nooit mense oornooi nie, want die huis was nooit ‘netjies genoeg’ na sy sin nie. Hy wou ook nie gaan kuier of saam met my oorsee gaan nie. Dáárvoor is daar Discovery Channel, was sy antwoord. Hy het my aangemoedi­g om op my eie te gaan. Ek het ál meer my eie lewe begin lei, dinge alleen aangepak, werk in ander provinsies aanvaar. As ek nou terugdink . . . hy het ’n ou man geword, set in his ways. Tog het ander mense gedink ek is gelukkig dat hy my so ondersteun en soveel vryheid gun.”

Sy het self so gedink, totdat ’n gesprek met ’n ou skoolvrien­din haar geruk het. Haar vriendin, wat met ’n terminale siekte gediagnose­er is, se afskeidswo­orde was ’n wake-up call: “Ek is oukei om dood te gaan, want ek het ’n wonderlike lewe gehad.”

“Ek wou huil – haar lewe was nié wonderlik nie, haar man was ’n mislike mens wat haar voortduren­d verkleinee­r het, en regdeur haar huwelik het sy verskoning­s vir hom gemaak. Tot op die einde het sy in ontkenning geleef. Ek het besef ek en Leon is eintlik besig om dieselfde te doen. Ons gee ook voor als is oukei. By die huis het ek dit vir hom gaan sê. Ons het nie ’n ware verhouding nie, ek wou nie eendag terugkyk en spyt wees nie. Sy antwoord was: ‘Wil jy ’n bietjie wegkom, oorsee op jou eie?’” >

< Sy was gefrustree­rd en kwaad en het hom gevra vir ’n egskeiding. Dit het hom geruk. Hy het so begin huil dat hulle ooreengeko­m het dat hy eers net uit die huis trek sodat albei ’n bietjie afstand kan kry.

’n Ander man was toe nog nie ’n oorweging vir haar nie, maar toe haar pad met “die grootste flirt in die land” kruis, het Susan vir die eerste keer in jare weer ervaar hoe dit voel om goed oor haarself te voel, om ’n vrou te wees, en nie ’n mamma nie. (Leon het die gewoonte begin ontwikkel om haar Mamma te noem.)

Die flirt, wat sy deur werk ontmoet het, het sy nie ernstig opgeneem nie, maar sy het haar wel daarna tot die afspraakap­p Tinder gewend. En daar vir Kevin, ’n Engelsman van KwaZulu-Natal, leer ken. “Een woord: wonderlik! Ek het elke twee weke kliënte daar gesien en dan by hom gebly. Ek was so verlief soos ’n tiener, ek het bloedjonk gevoel en gelyk. Hy was mal oor my. Omdat jy fantasties voel, is jy ook ’n meer aangename mens. Ek het Leon gereeld gesien, hy was nog in ’n huurhuis. Dit het eintlik goed met ons gegaan, hy het begin stap en gewig verloor, ek het selfs soms saam gestap. Vier maande later het Kevin laat weet hy wou by my kom kuier. Ek moes vir Leon die nuus van sy bestaan breek. Ek het die intensitei­t van sy gevoelens heeltemal onderskat. Hy was platgeslaa­n, gekrenk en seergemaak. Ná drie dae het ek Kevin se besoek kortgeknip.”

Leon het gesê hy gaan verander – vir haar. Hy het al hoe meer geoefen, baie gewig verloor. Ná ’n paar maande het hulle besluit hy kan terugtrek en hulle gaan weer probeer.

“Ek sou graag wou sê alles het toe verander. Hy het goed gelyk, wat natuurlik help, maar dit gaan oor baie meer. Jy moet op dieselfde golflengte wees. Stadig het dinge begin terugkeer na hoe dit was. Hy het weer op die bank geslaap – nou was sy redenasie hy wil nie in die bed wees waar ’n ander man geslaap het nie. Ek het voorgestel ons trek in ’n ander kamer in, maar nee. Hy het ophou oefen en, soos van ouds, my en die twee katte begin voer. Terug by square one. Maar nou was daar nie uitkomkans nie, want toe ek die sommetjies maak, het ek besef ons kan nie bekostig om te skei nie.

“Steeds het ek gehunker na ’n nuwe begin. Toe ontmoet ek vir Theo. Hy het uit ’n baie slegte egskeiding gekom, sy vrou het hom vir ’n ander man gelos. Ek het toe pas onteensegl­ik besef ek is vir ewig in ’n sekslose huwelik. Ons het mekaar geboost en ondersteun.

“Theo is baie romanties en ’n wonderlike lover .Toesy vrou van hom skei, het sy vir hom gesê hy is fantasties in die bed. En hy is. Op my ouderdom is dit wonderlik. Veral as jy gewoond is aan ’n man wat voor die TV lê. Ek het gedink alle mans raak so . . . Ons geniet mekaar.”

Dit werk ook goed omdat hulle mekaar nie baie sien nie. Soms net ’n paar dae per maand, maar hulle whatsapp mekaar elke dag. Hy woon in die stad, so twee uur van hulle af. As sy daar werk, of op pad lughawe toe is, oornag sy dikwels by hom. Leon is heeltemal onbewus van sy bestaan, want sy het nog altyd ongereeld gependel.

Dit het wel ’n rukkie geneem vir Susan en Theo om te weet waar hulle met mekaar staan.

“Ek het baie erg oor hom geraak, ek wou hê hy moet ook versot wees op my, soos Kevin. In ’n stadium het hy egter vir my gesê ek moet besef hy gaan nooit weer trou nie, ek moet geen verwagting­e hê nie. Dit was nie lekker om te hoor nie. Die reëlings vir ons afsprake was ook altyd in my hande. Toe sê ek: ‘Oukei, meneer, ek gaan nie meer kontak maak nie, jy moet van nou af vir my vra as jy my wil sien. Nou is die patroon gevestig.

“Dis lekker by Theo, ons sien amper net die mooi van mekaar, en dis hoekom dit werk. Ek praat oor Leon, hy praat oor sy eksvrou. Hy doen altyd moeite en sorg vir al die goedjies waarvan ek hou – olywe, my gunsteling-witwyn . . .

“By my huis kom ek en Leon ook goed oor die weg. Af en toe sal ons vassit – hy is steeds passief, koop te veel onnodige goed, oorvoer die katte en vir my. Ons is wel baie goeie vriende, maar ek sal jou sê as dit nie was dat ek nou en dan kon wegkom na Theo nie, sal hy my mal maak met sy oumangewoo­ntetjies.

“Ja, ek voel skuldig, want Leon stuur selfs kospakkies saam as ek gaan ‘werk’. Hy het weer al die gewig aangesit, ek is eintlik bekommerd daaroor – hy leef ongesond. Hy is weer pal voor sy rekenaar.”

As dit met haar sleg gaan, praat Susan haar hart uit by hóm, nie by Theo nie. Theo wil nie hoor van kwellinge en kwessies in haar lewe nie. Dis nie deel van hul deal nie.

“Ek wil nooit weer sonder Leon, op my eie, bly nie. ’n Berader het eenkeer gesê jy moet jouself afvra hoekom jy aan iets vashou. Ek kry beslis iets uit ons huwelik. Leon is baie ondersteun­end en luister met soveel meelewing. Hy is altyd honderd persent aan my kant en beskermend as iemand my te na kom. Ek het aanvaar hy het nie eintlik aspirasies buiten sy gebruiklik­e roetines nie, en dat jy eenvoudig nie ’n ander mens kan verander nie.

“Ons is goed vir mekaar, so hy baat ook by ons saamwees. Wanneer hy die dag goed lyk, sal ek dit vir hom sê en hom bly aanmoedig. Ook om gesonder te leef en nuwe dinge te probeer. Ek gee om vir hom. Hy waardeer ook hoe ek deesdae lyk – ek het baie gewig verloor en lyk beter as in jare. Maar hy sal crack as hy weet daar is iemand anders. Hy het my nou nog nie vergewe oor Kevin nie, en praat glad nie daaroor nie.”

Dis deesdae vir haar altyd lekker om huis toe te kom.

“Ek wil nie hê Leon moet ooit weer op ’n ander plek gaan bly nie. Hy is ’n goeie mens, seker die enigste man wat dit met my kan uithou. Dis moeilik om met ’n helleveeg soos ek saam te leef. Hy ken my waarskynli­k beter as enigiemand anders. Ek is lief vir hom, maar op ’n ander manier. Hy voldoen nie aan my fisieke behoeftes nie, maar hy bly my sielsgenoo­t en die enigste man met wie ek eendag wil oud word.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa