Sarie

‘15 kg ligter, depressie my dryfveer’

Yvette Beneke gebruik haar depressie as ’n dryfveer om gedissipli­neerd te bly oefen en vol te hou met die regte, gesonde kos – so bly sy geestelik sterk. En nou help sy ook ander om gesonder te eet en gewig te verloor

- DEUR SUZETTE TRUTER FOTO ELENA ZWIEGERS, FIT.LIFE.PHOTOGRAPH­Y

Een Sondagogge­nd het die kunstenaar Yvette Beneke opgestaan, die vrolike helder blomme geskilder waarvoor sy al bekend geraak het, kos gemaak en saam met haar twee kinders middagete geëet. Toe sy dáár opstaan, het sy ’n swart engel geskilder, vir haar kinders ’n video opgesit, haar kamerdeur toegetrek en ’n klomp pille gedrink.

Daardie dag het haar kop net uitgesny, sy het eenvoudig niks gevoel nie. Gelukkig het haar man vroeg huis toe gekom en haar dadelik na die trauma-eenheid geneem, vertel Yvette.

Dis moeilik om te glo dat dit dieselfde vrou is wat nou voor jou sit, ’n toonbeeld van lewenslus en gesondheid, iemand wat ander vroue inspireer en motiveer op hul reis om gewig te verloor en ’n gesonde, gebalansee­rde lewe te lei.

Niemand het besef dat Yvette aan depressie ly nie, nie eens sy self nie – sy vermoed dit het geleidelik gebeur nadat sy tien jaar gelede haar argitekspr­aktyk gesluit en voltyds tuis begin skilder het. “Ek was afgesonder by ons huis in Durbanvill­e, ek het min mense gesien, baie hard gewerk, baie gedrewe op my kuns gefokus en ek het nie meer geoefen nie. Ek het ’n bruin belt in karate gehad, maar het opgehou nadat ek my pols gebreek het. Dit was ’n sneeubal-effek . . . party oggende het ek so afgestomp gevoel, ek kon skaars uit die bed klim. Ek sou net opstaan om my kinders by die skool op te laai. Ander dae was ek weer vroeg op en aan die gang, ek sou kook en stryk en sommer drie paintings op een dag klaarmaak. Ek het gedink dis normaal.”

Tot daardie dag, vyf jaar gelede, toe sy die pille gedrink het. Sy is met depressie gediagnose­er en het medikasie begin neem. Maar sy het al hoe ongelukkig­er geraak en gewig aangesit. Later is sy met bipolêre gemoedsteu­ring 2 gediagnose­er – die hoogtes en laagtes was tipiese bipolêre simptome – en haar psigiater het onder meer gemoedstab­iliseerder­s voorgeskry­f.

In ’n perfekte wêreld sou dit die gelukkige einde wees waarop sy gehoop het. Maar ná twee jaar van die nuwe medikasie het sy steeds nie soos haarself gevoel nie. Sy was soos ’n zombie, in ’n dwaal, pap, ongemotive­er en sy het onbeheersd geëet – sy was toe al 15 kg oorgewig. Toe sy die derde keer in die noodeenhei­d beland nadat sy kortasem geraak het, het sy geweet dit was nie paniekaanv­alle soos haar psigiater vermoed het nie, iets anders het geskort.

Die lewe is nie maklik nie, dis wanneer ons dink dit moet maklik wees dat ons nie weet hoe om die klippe in ons pad te hanteer nie

Toetse deur ’n longspesia­lis het gewys sy het asma. Die medikasie wat sy gebruik het, was die sneller – ’n newe-effek by ’n baie klein persentasi­e van mense, wat, soos sy, as kind asma gehad het.

Sy het haar summier van al die pille gespeen, vertel sy. “Ek weet medikasie werk uitstekend vir soveel depressiel­yers, en ek sal iemand nooit aanraai om haar pille te los nie, maar vir my het dit nie gewerk nie. Ek het eenvoudig besluit: Ek sou van my asma ontslae raak, ek sou my kop en my lyf regkry.”

Yvette het in ’n huis met ’n ingenieurp­a grootgewor­d wat sy kinders geleer het dat hulle die vermoë het om enigiets te doen. Sy en haar twee susters en broer is almal baie gedrewe en glo niks is onmoontlik nie. “Ek was vasbeslote om weer soos ’n sogenaamde normale mens te voel, sterk en gesond, maar dit was steeds ’n verskrikli­ke stryd, ’n wilsbeslui­t om myself aan my bootstraps op te trek en uit daai gat te kry . . . Om geestelik en fisiek gesond te wees is harde werk.”

Sy het ingeskryf vir ’n kursus by ’n lewensafri­gter in Amerika – “die beste besluit ooit”. “Sielkundig­es het al in my verlede rondgekrap op soek na trauma, om te kyk of daar nie probleme was nie, maar ek het geweet daar is nie, my kinderjare was baie gelukkig. Die afrigter het my vorentoe laat kyk, na doelwitte . . . mettertyd het ek positief begin voel oor die pad vorentoe.”

Haar gewig het haar egter diep ongelukkig gemaak. Sy het vet en skaam gevoel. Haar maag was so groot dat sy nie haar eie toonnaels kon knip nie. Sy het al wat ’n dieet is, gevolg, porsies geweeg, allerhande doepas en druppeltji­es probeer, die sopdieet en toe die sapdieet . . .

“Ek sou aanvanklik in die eerste vyf dae heelwat gewig verloor, en my sussies opgewonde whatsapp met die nuus. Maar dit was nie volhoubaar nie, ek sou alles weer aansit en dan weer sleg voel oor myself. Ek het nie die selfvertro­ue gehad om ’n swembroek aan te trek nie, ek wou nie saam met my man en kinders in die see swem of bodyboard ry nie. Ek het besef dit kon nie so aangaan nie.”

Toe sien sy eendag ’n advertensi­e raak – ’n uitdaging om gewig in ses weke te verloor. Jy kry ’n gesonde eetplan vir die tydperk en moet vyf keer per week oefen. Sy is na die ForeverStr­ong Durbell Studio in

Bellville waar sy eers “erg onbeskof ” was met almal – vandag lag hulle daaroor. Sy het aangedring op ’n persoonlik­e afrigter en wou nie die uitdaging saam met ’n klomp mense doen nie. “Ek was vet en onfiks, so dit was ook maar ’n verdedigin­gsmeganism­e!”

Yvette is nie ’n tipiese gim-mens nie, maar sy het begin besef die opset pas haar – jy voel deel van ’n klein gemeenskap en almal ondersteun jou, van die ontvangsda­me tot die afrigter. Sy het die uitdaging aangepak en eenhonderd persent gehou by die gesonde eetplan. Toe sy ná twee weke die resultate sien, het sy ál meer gefokus geraak. Uiteindeli­k het sy twee uitdagings van ses weke elk ná mekaar gedoen en 15 kg verloor.

In die proses het Yvette versot geraak op die gesonde manier van eet en al hoe meer belanggest­el in so ’n leefstyl. Die eienaar het gevra of sy nie deeltyds wou help om van die mense in die uitdagings te motiveer nie. Sy het toe reeds self ’n sertifikaa­t as lewensafri­gter verwerf, en daarna ’n kursus in voedingsaf­rigting (nutritiona­l coaching) voltooi. Hy het haar aangemoedi­g om haar eie besigheid, Transform for Life, onder sy vaandel te begin om ander te help gewig verloor.

Sy is die beste advertensi­e vir haar ondernemin­g, maar sy bly bewus daarvan dat sy ’n bipolêre lyer is, dit het nie verdwyn nie – daaraan herinner die kunswerk van die swart engel in haar huis haar elke dag. Haar depressie is vir haar ’n dryfveer om te bly oefen en vol te hou met die regte, gesonde kos. “Ek weet as ek terugkeer na ou gewoontes, sal ek in die gat terugval. Ek is baie gefokus om by my nuwe leefstyl te hou – en het selfs een stap verder met my oefeninge gegaan en oefen nou ook met gewigte. Dis maar wie ek is!”

Yvette weet al wat die tekens is wanneer haar gemoed nie reg is nie.

Gewoonlik kan sy dit voel aankom . . . jou liggaam raak lam, jy raak angstig en jou brein “klets” aaneen. Dan kyk sy altyd dadelik of sy die vorige aand genoeg geslaap het. Dis noodsaakli­k en sy probeer om saans minstens agt uur te slaap. Ná ’n goeie nagrus of ’n goeie oefensessi­e voel sy gewoonlik baie beter.

Die brein is kragtig en kan jou enigiets wysmaak, sê sy. “As hy jou vertel jy is pateties en vet, gaan jy hom glo. Jy moet ’n kopskuif maak – jou brein moet jou vertel jy kan enigiets doen, want dan kan jy. Partykeer oefen ek so hard dat ek voel ek kan nie meer nie. Dan sê my brein vir my: Jy kan. Ek was nie altyd so nie, ek het altyd gedink die glas is halfvol, maar nou is my glas oorvol en wil oorloop!”

Sy leer haar kliënte hoe belangrik jou ingesteldh­eid is wanneer jy wil gewig verloor en motiveer en ondersteun hulle al die pad.

“Elkeen het haar eie verhaal hoekom sy sukkel om gewig te verloor. Party het dalk ’n moeilike werk, ’n moeilike kind, ’n moeilike huwelik. Ander is emosionele eters. Baiekeer loop die trane eers voor ons gesels oor hoe ons ’n gesonde, gebalansee­rde dieet in haar lewe gaan inpas. Dikwels is dit net onkunde en ’n gebrek aan ondersteun­ing wat haar pootjie. Maar sodra sy die kennis het oor wat om wanneer te eet, verander die prentjie. As sy deur die dag reg eet, kan sy ook stres beter hanteer – en sal sy nie na die sny koek gryp wanneer sy onder druk of ongelukkig is nie. En jy kan steeds lekker eet – ek was mal oor tradisione­le bredies, maar nou het ek net die vetterige vleis met maerder snitte vervang. Reg eet, gekombinee­r met oefen – al is dit net om om die tafel te stap, soos my een kliënt wat 20 kg verloor het – is die antwoord. Dis eintlik so eenvoudig: Alles gaan oor balans.”

Sy het die laaste klompie jare belangrike lesse geleer, sê Yvette. “Die lewe is nie maklik nie, dis wanneer ons dink dit moet maklik wees dat ons nie weet hoe om die klippe in ons pad te hanteer nie. Ek het geleer met ’n ondersteun­ingstelsel kan jy die wêreld verander – my hele familie, ook my ma en pa, my vriende en my gimfamilie is altyd daar vir my. En laastens, al die harde werk en dissipline is die moeite werd as jy geestelik en fisiek gesond voel.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa