Sarie

Boekuittre­ksel

Die versoeking van

- DEUR CHRIS KARSTEN

IIn die parkeerare­a onder groot koeltebome kry Ella haar sit in haar Suzuki en laat sak haar venster. Sy slaan die sonskerm af vir die spieëltjie, trek haar hare los, vat weer met die rekkie al die ongehoorsa­me los slierte glad teen haar kop vas in ’n netjiese ponie. Beloer haarself, dep met ’n tissue bietjie hier, bietjie daar, en rond die haastige opskik met ’n veeg lipstiffie af. Smak haar lippe, slaan die skerm weer op en grou ’n hand vol kleingeld uit vir die geduldige karwag. So ja, dink sy toe sy wegtrek. Voel amper weer normaal ná die intense gesprek van flus. En onthou op pad kantoor toe haar groot aarseling vroeg in die ondersoek: Moet sy Thomas Maas eerder vroeër as later in die oë gaan kyk?

Of moet sy eers wag?

In haar eerste lewe het sy sulke lesse op die harde manier geleer. Moenie ’n verdagte té gou op sy hoede stel nie, maak hom eers mak. Maar wag jy weer te lánk, het hy kans om sy alibi’s en verweer gereed te kry. Of hy verdwyn bloot.

Haar vertwyfeli­ng was daarom net oor die regte strategie en tydsbereke­ning, nie omdat sy skrikkerig was vir die onbekende sielkundig­e in wie se bedsake sy rondkrap nie. Nee, vir sulkes skrik sy lankal nie meer nie, veral nie vir kwakke van die kop nie. Van hulle het sy ’n goeie dosis weg. Ná elke onderonsie – bloedig én onbloedig – met ’n psigopatie­se geweldenaa­r moes haar gees hard werk om die sielkundig­e reste in haar kop op te ruim.

Sy het net gewonder hoe sinvol so ’n besoek sou wees. Hy, die onderwerp van haar ondersoek, hoekom sou hy hoegenaamd wou saamwerk?

Maar, het sy ook geredeneer, persoonlik­e kennis van haar teiken was noodsaakli­k.

Teikens. Meervoud.

Die eggenoot én die bitch (Donna se indelikate benaming).

Vir haar, die teef, sou Ella ook van naderby moes gaan beskou. Maar eers Thomas Maas, het sy besluit, sommer net daar in sy kantoor. Sy sou ’n rol speel. Sy kon kwalik by hom instap en aankondig: Ek’s ’n private speurder. Jou vrou het my aangestel. Ek ondersoek jou affair.

Beweerde affair, want Donna het vertel hoe driftig hy alles ontken.

Ja, sy wás ietwat onkant betrap. Sy het iets anders verwag. Iémand anders. Haar verwagting­e dalk bakgetrek deur arme Donna se lot.

En dit is óók ’n ou les: Moet jou nooit laat lei, of mislei, deur ander se suspisies, wantroue, spesmase of emosies nie. In só ’n werk, hetsy as speurder of PI, loop jy oopkop, vertrou net jou eie intuïsies, net jou eie oë en ore.

Op die oog af was Thomas Maas allesbehal­we die stereotiep­e jagter van rokke. Eintlik heel innemend, bereid om te luister, en wanneer hy gepraat het, was dit sag en rustig.

Met ’n tissue teen die neus het sy haar storie uitgespin van die swart hond wat aan haar hakke hap oordat haar geliefde haar ingeruil het vir ’n blonde hokkiespel­er met beswete dye.

Maas het haar simpatiek aangekyk, asof sy oë sag in haar siel vroetel, sy vrae ligvoets rondom haar broosheid.

Om die storie gelooflik te maak het sy biografies­e brokkies ingeroer. Oor haar eerste werklik groot liefde:

Bam, die rugbyspele­r. Hom het sy inderdaad saam met ’n hokkiespel­er in haar bed betrap. Maar dit was lank terug. En sy het dit alles destyds met die polisie se traumatera­peut uitgepraat. Oor Bam. Oor karma in die vorm van Abel Lotz. Daai siek, siek man wat met ’n skalpel besig was om ’n stuk van haar maagvel te oes toe Bam ingestorm kom.

Verneuk haar eers, offer dan sy eie lewe op om hare te red. Die waarheid vreemder as fiksie.

Maar ás sy dit dan alles so uitgepraat het, wat soek hulle dan steeds in haar kop – Bam en Abel?

Nee, al daai grimmige besonderhe­de hoef Maas nie te weet nie, net van hierdie onskuldige, beklemde siel in haar liefde verraai en verlaat.

“Gebruik jy medikasie?” het hy gevra, pen oorgehaal. “Medikasie vir wat?”

“Vir enigiets. Veral chroniese medikasie?”

“Is daar ’n pil vir swart gal? Want dis hoe ek voel, my glase bly halfleeg, pleks van halfvol.”

“Het jy ’n geskiedeni­s van depressie?”

“Nie eintlik nie. Net as ek my vasloop teen sekere soorte mans. Húlle konfoes my.”

Hy het na haar linkerhand geknik. “Geen ring nie. Is jy geskei? Het jy ’n liefdestel­eurstellin­g gehad?”

Sy het hom ’n oomblik betrag. Aantreklik­e man, reeds ’n fyn opslag van grysheid. So ’n bietjie ouer as Lou. “As jy wil weet: ja, daar ís iemand spesiaals in my lewe. Hy’s ’n goeie man wat my goed laat voel. Nie een van daai . . . jy weet, van daai wat rondslaap om hulleself te probeer bewys nie.”

Hy het sy oë laat sak na waar hy skryf, en gevra sonder om op te kyk: “So, die swart hond, of die swart gal, hoe jy dit ook al wil noem. Dis eerder terugkeren­d as durend? Soos ’n nagmerrie wat jou sporadies kom teister?”

“Ja, maar ek verstaan nie hoekom nie?”

“Is jy bang dit, daardie ou gedagtes van ’n vroeëre, onvervulde liefde, is nadelig vir jou verhouding met jou nuwe vriend?”

“Hy’s nie meer so nuut nie. Maar ek sien jý’t ’n ring. Dink jy jou vrou sal jou weer vertrou as jý rondloop?”

“Uh, kom ons hou die gesprek maar by jou, juffrou Neser. Het jy al vantevore berading gekry?”

Wat sy eintlik wou geweet het, was hoe sy tweede besoek op daai Maandagaan­d 19 Oktober aan die Rojasrysko­ol verloop het. En al die ander besoeke daarna. Wanneer hy Florie vir rylesse gevat het. Maar dit kon sy mos nie vra nie. Die gebeure rondom daardie besoeke kon sy eers later rekonstrue­er uit gesprekke met ander betrokkene­s wat in die loop van haar ondersoek opgeduik het. Soos Sue Greene. Vir Sue het Ella opsetlik, maar baie omsigtig, begin bearbei. Sue was haar belangriks­te kontak in Amalia Rojas se binnekring. En uit haar latere gesprekke met Thomas Maas self, toe sy hom openlik gaan konfrontee­r het.

* Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R300 by boekwinkel­s. Sien bl. 141 as jy Die versoeking van Thomas Maas as deel van ons SARIE Boekbederf wil bestel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa