Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

En ek het opnuut besef hoe betekenisv­ol my vriendskap­pe is. Die ander lekker ding wat ek ervaar het, was die vreugde van nuwe vriendskap­pe.

Ek het min vriende, daarom verstaan ek dat daar mense is wat moeilik ’n vriendskap kan aanknoop. Dié wat skaam of onbeholpe is. Dié wat seergemaak is. Simon en Garfunkel se rotsmense. Want ’n rots, sê die liriek, is nooit eensaam nie.

Ek is dankbaar dat die lewe my nog nooit só skuins geklap het nie.

André P. Brink het jare gelede ’n pragtige essay geskryf oor ’n pampoen. ’n Pampoen in Frankryk. As jy nie vriende het nie, het hy agtergekom, loop net met ’n pampoen op jou kop deur Parys se strate. Almal wat jou sien lag, en wil dan met jou praat. Wát maak jy met ’n pampoen op jou kop, wil hulle weet. Die mense, jou nuwe vriende, sê wag eers, ek koop vir jou ’n glas wyn. Hulle vra uit, eers oor die pampoen, oor pampoenres­epte, en dan vra hulle uit oor jóú. En dan het jy ’n nuwe vriend.

Ek het agtergekom ek maak nuwe vriende as ek dankie sê vir uitstekend­e diens. Daar is ’n wonderlike vrou by die viswinkel waar ek vars vis koop.

Die eerste keer toe sy die blink kabeljou met haar vaardige hande vat en skoonskraa­p en sekuur in snitte sny, het ek geweet: dit is iemand wat my interessee­r. Ek het vir haar nie net terloops dankie gesê en geloop nie, ek het vir haar gesê waarom ek dankie sê. Vir haar energie, haar toewyding, haar netheid, die trots op haar werk. En haar glimlag.

Ida het my vriendin geword. Wanneer ek vis koop, wag ek geduldig tot sy beskikbaar is. Ons ken die besonderhe­de van mekaar se lewe, ek sien uit na die volgende keer dat ek haar gaan sien.

In die kusdorpie waar ek bly, lewer ’n jong boervrou haar netjies geslagte skarrelhoe­nders by my af. Sy is mooi en byderwets met ’n aansteekli­ke lag en ’n vonkel in die oog. Haar hoenders is die beste. Ooit. Ek bestel weer en sê vir haar dankie. En wanneer jy weer kom, skink ek vir jou koffie voor jy gaan. Ek leer mettertyd dat sy veel méér is as mooi en oulik. Sy het die voortrefli­ke kwaliteite van moed en humor. Ek noem haar graag my vriendin.

Nóg ’n seker manier om nuwe vriende te maak is om in jou tuin te werk. Elke, elke keer as ek in my tuin werk, is daar iemand wat stilstaan, groet, en my uitvra oor my tuin. Dit vat nie lank voordat ek die tuinhekkie oopmaak en hulle innooi nie. Ek kry plante en steggies, ek kry raad, ek kry nuus, ek kry grappies. Ek kry vreugde en vriendskap. My tuin floreer.

Jare gelede was ek op ’n klein Griekse eiland. Ek weet nie waarom nie, maar die inwoners van daardie eiland het laat geslaap. Voor tienuur was niemand buite nie. Die enigste mens wat vroegoggen­de buite was, was ek. In my swembroek op pad see toe. Of nee, daar wás nog ’n lewende mens. Dmitri, die ou man wat in sy groentetui­n gewerk het.

Wat gebeur? Ons begin gesels. Oor eiervrugte, tamaties en basilie. Oor moussaka.

Oor die blou, blou somer. Oor die lewe. Oor die draad van sy groentetui­n word hy my vroegoggen­dvriend. Net vir hom kon ek sê hoe gebreek my hart is, hoe ek wegkruip vir die lewe. Hy kon vir my sê hoe bekommerd hy oor sy seun is.

Die laaste oggend, die boot reeds in die hawe, trek hy ’n prei uit die klam grond en gee dit vir my. “Ek kan nie dit saamneem nie,” protesteer ek. “Vat dit,” sê my vriend.

Ek reis huis toe met ’n geurige prei in my tas.

Ná al die jare dink ek nog steeds aan Dmitri, my kortstondi­ge vriend. Wat vir my ’n prei gegee het. En moed vir die lewe.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa