Als begin by Alexander die Grote
Die lewensverhaal van dié koning van antieke Masedonië, ’n fliek en die Ware misdaadreeks was die vonk vir Chris Karsten se nuutste spanningsroman, Die versoeking van Thomas Maas
Hy was nog altyd mal oor die geskiedenis en die lewensverhaal van Alexander die Grote het hom aan die dink gekry oor erotomanie, oftewel liefdeswaansin, en obsessiewe vroue, sê Chris Karsten.
Hy vertel dat erotomanie teruggespeur kan word na die tyd van dié Masedoniese koning. “Een van die goed wat my opgeval het, was van twee generaals van Alexander die Grote wat ná sy dood konings geword het toe die ryk opgedeel is. Toe is daar ’n geval van ’n seun van een van die konings wat dodelik siek geword het. Sy siekte was aanvanklik onverklaarbaar. Niemand het geweet waarom hy so siek geword het nie, totdat iemand uitgevind het hy was verlief op iemand wat buite sy bereik was.”
Dit het hom laat dink dit kan ’n lekker storie maak. “Ek het ’n fliek onthou waarin ’n obsessiewe vrou tot uiterstes gegaan het vir die liefde. En in een van die verhale wat ek in die Ware misdaad-reeks geskryf het, was daar ’n vrou wat obsessief was oor ’n man, toevallig in die dorp waar ek bly, George. ’n Klomp elemente het saamgekom en ek moes mooi dink hoe ek dit bymekaar kon kry in ’n verhaal.
“Dit het my die geleentheid gebied om ’n man, ’n sielkundige wat ’n huweliksberader is, as hoofkarakter te skep en te kyk hoe hy gaan reageer op ’n vrou wat op die oog af eers verlief raak op hom en dan obsessief. Die boek is ’n heerlike sielkundige spel tussen botsende persoonlikhede met hul eie planne om ’n huwelik te probeer red wat oënskynlik op ’n ramp afstuur.” SARIE-boekeredakteur Phyllis Green het met Chris Karsten gesels oor Die versoeking van Thomas Maas (Human & Rousseau, R300).
Jy word dikwels deur resensente as ’n woordsmid beskryf. Hoe kies jy woorde soos “dikkedensie”, “smuktafel” en “mishaag”, om maar enkeles uit te lig?
Dit hang van die karakter af. Mishaag is ’n pretensieuse woord en Thomas Maas, dink ek, is iemand wat so ’n woord sal gebruik. Dokter Koster, die patoloog, is egter ’n plat-op-dieaarde ou en hy sal iets gebruik soos dikkedensie. Daar’s makliker woorde en selfs Engelse woorde wat ek in ’n karakter se mond kan lê. Ek het nog altyd ’n taamlike broertjie dood daaraan om te veel Engelse woorde te gebruik, tensy dit regtig die karakter baat. Ek dink ons Afrikaanse taal het verskriklike mooi woorde. Ek doen moeite om die regte woorde te soek vir iets wat ek wil sê. Ek kan nie sonder ’n woordeboek klaarkom nie. Nie elke woord wat ek in ’n woordeboek kry, is die regte een nie, maar ek bly soek en bly dink oor ’n woord. Partykeer is dit goed om oor woorde en kommas ’n goeie debat met jouself te hê.
Dis ’n Ella Neser-verhaal. Vertel oor die groeiproses waardeur Ella gegaan het sedert jy haar destyds geskep het.
Ek hou baie van Ella. Met die Abel-boeke het sy maar pas as moordspeurder by die polisie begin werk. Een van Abel se slagoffers was haar eerste ondersoek.
Ek het nogal daarvan gehou om haar
oor die jare uit te bou, dat sy haar eie mens geword het. Sy het gegroei as speurder en as mens. Sy het al hoe meer hardekoejawel begin word. Dit het ’n punt bereik waar ek gedink het daar’s vir Ella ’n ander beroep ook. Ek het haar laat bedank uit die polisie uit en nou het haar kêrel haar teruggekry as ’n private speurder.
Dit skep natuurlik nuwe uitdagings vir haar en vir my. Ek moes dink oor hoe mens dit nou gaan doen, want as ’n speurder het sy polisieondersteuning gehad wat sy nou nie het nie. Haar hele uitkyk op hoe sy ondersoeke gaan doen, is totaal anders. As moordspeurder sou sy ’n verdagte in boeie gehad het. Haar werk is nou om by die waarheid uit te kom.
Die hooftema van owerspel is so oud soos die berge, maar daar is ’n verskil in hoe mense na ’n owerspelige man en ’n owerspelige vrou kyk. Jy noem dit ook in die verhaal.
Dit is so. In ’n owerspelige verhouding word die twee partye nie oor dieselfde kam geskeer nie. Om dit mooi uit te lig het ek by Shakespeare se Hamlet gaan leen. Hy het dit so mooi vertel en ek het van sy terme probeer inwerk. ’n Owerspelige man word gou vergewe, ’n owerspelige vrou kry maklik ’n stigma en word verwerp as ’n maklike vrou. Ons moet wegkom van daardie siening. Van die begin tot die einde van die verhaal is daar ’n subtiele klemverskuiwing.