Sarie

Die sterre is naderhand so helder, so naby

- Tot ons weer gesels wanneer ons Julie/Augustus-uitgawe vanaf 25 Junie op die rak is. Julie, SARIE se verjaardag­maand!

in Kaapstad verander van kleur, dag vir dag. Dis ’n betowerend­e skouspel. Van somer se digte koelteboom – my welkome skans teen die wêreld daarbuite en speelplek vir ’n swetterjoe­l glasogies wat wip-wip tussen die takke – tot nou, byna broos in geel en bruin; blare wat vir oulaas in die bries ritsel voordat hulle grond toe val en die trotse boom gestroop laat vir nog ’n winter.

Hierdie is my gunsteling-tyd van die jaar. Daar’s ’n stilte wat herfs en koeler dae bring, en dis sielsalig.

Meteens wonder ek, wie onthou lukwarte?

Self kan ek nie dink wanneer laas ek daardie wondervrug­gie gesien of geproe het nie. Soos ek dit het, is wintertyd lukwarttyd. Ek onthou met verlange dié boom in ons stukkie agterplaas op Caledon waar ek grootgewor­d het. Immergroen, maar vroegwinte­r het trosse geeloranje vrugte tussen die blare verskyn. As kinders het ons geweet hulle moet so lank as moontlik aan die boom bly, want dan is hulle meer soet as soetsuur. Iets tussen ’n sitrusvrug en ’n veselpersk­e. ’n Vrug uit China, het my ouma ons altyd vertel. Meer as duisend jaar oud, en in Japan word die blare gedroog vir ’n gesondheid­stee.

Maar dis ’n ander boom wat my hart gesteel het. Een wat sy skadutakke wyd oor ons agterplasi­e gegooi het. Dikwels het ek ná skool met my skoolklere in daardie boom geklim – gretig agter daai vye aan. Nooit het ek hul naam geken nie, maar vandag weet ek die groen vrug met sy heuningkle­urige lekkerte was die Kaapse witvy, ’n baie ou variëteit in Suid-Afrika. Ek het net so van die boom af geëet, of ryp-ryp vye soos konfyt gesmeer op bruinbrood met baie botter, en as ’n spesiale bederf geniet saam met die vars plaasroom wat vroegoggen­d in ’n kannetjie by die voordeur afgelewer is.

Ek dink ek kan verklaar vye is mý vrug. Enige soort, in enige vorm, enige tyd van die dag. Dis die stroopsoet­heid, glo ek, ook die sagtheid, dis die kleintyd-memories. Een van die wêreld se oudste vrugte, wat in elke belangrike godsdiens genoem word en glo deur Michelange­lo op die plafon van die Sixtynse kapel in die Vatikaan geverf is.

Onlangs bly ek en vriende vir ’n naweek oor op een van Suid-Afrika se oudste vyeplase naby Prins Albert in die Karoo. Dis pluktyd en ek in die vyehemel. So tweeduisen­d vyebome staan op dié plaas, Liezl en Jaco de Klerk is die sesde generasie wat hier in die skadu van die majestueus­e Swartberge boer. Voor die gastehuis staan ’n vyeboom of twee, ook ’n granaat-, ’n kweper- en ’n lemmetjieb­oom. Jy verbeel jou tyd staan stil. Vanaf die diep stoep kyk jy ver, op teen daardie reuseberge. Die son sak en die sterre is naderhand so helder, so naby, jy wil hulle pluk.

Skielik onthou ek van die bak varsgepluk­te adamsvye in die yskas. Kan die lewe soeter wees! Dan dink ek, dalk was dit ’n vy wat Adam en Eva verlei het en nie ’n appel nie?

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa