Sarie

My Octopus Teacher: ‘Sy’t my ingenooi, genees,’ sê seekatflui­steraar

Ons leef op land, die enigste spesie wat nie natuurlike swemmers is nie en tog tot water aangetrokk­e voel. Wat, ten spyte van die gevare, lok ons? Drie mense, ’n VN-beskermer, seekatflui­steraar en bikini-vryduiker sê: Dís waarom ons swem

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

“Ons swem in ysige Arktiese waters en riviere wat wemel van piranhas om ons grense te toets. Ons swem vir plesier, vir oefening, vir genesing. ș. . .ț Ons evolusionê­re voorgeslag­te het vir oorlewing geleer swem; nou, in die 21ste eeu, is dit een van die gewildste aktiwiteit­e in die wêreld.” Só skryf Bonnie Tsui in haar boek Why We Swim.

Dís waarom ons swem, sê die menslike ysbeer Lewis Pugh, aktrise Tanya van Graan en “seekatflui­steraar” Craig Foster. Dís waarom ons terugkeer, weer en weer. Almal het as kinders die water geniet, maar mettertyd het swem vir hulle ’n ander betekenis gekry.

Dié manjifieke dier het na my uitgereik, my waarlik vertrou

CRAIG FOSTER, bekroonde filmmaker en seekatflui­steraar

Dit lyk na net nog ’n fliek oor seediere. Dan, 20 minute ná die aanvang, word ’n tentakel uitgerol en Craig Foster se hand gegryp. ET? Nee, seekat!

’n Klein, nuuskierig­e seekat is die wysgeer in die bekroonde dokumentêr­e rolprent My Octopus Teacher. Dis die verhaal van die ongewone band tussen haar en ’n uitgebrand­e Craig. Een wat mense dwarsoor die wêreld roer, en celebs wat hul reaksie verfilm en sweer hulle eet nooit, ooit weer seekat nie. >

< Vir langer as twee dekades het Craig dokkies gemaak. Suksesvol ook: Saam met sy broer, Damon, was hy regisseur van die veelbekroo­nde

The Great Dance: A Hunter’s Story (2000) oor die San in die Kalahari. Maar skielik was hy onseker hoe om aan te gaan, sy fut uit. En dis na die see wat hy hom vir selfterapi­e gewend het. Hy’t weer begin duik, ’n kindertyd-vreugde. Craig het grootgewor­d in ’n houthuis aan die Kaapse kus 30 meter van die see af. Sy pa het hom in die yskoue water op sy rug geabba en leer duik. Daar was eindelose dae op soek na krappe, rotsvis en ander seeskatte.

Eerder as om te sit en tob het hy besluit om ’n jaar lank elke dag in die kelpwoud naby Simonstad te vryduik. Dis ’n wonderwêre­ld van oorvloed en biodiversi­teit, tuiste van talle spesies wat nêrens anders gevind word nie. Op ’n dag kom hy ’n doodgewone seekat teë wat vir haaie wegkruip. Hy begin haar bewegings dophou en mettertyd reageer sy, groet hom, speel selfs met hom.

Netflix se eerste oorspronkl­ike SuidAfrika­anse dokkie het vanjaar ’n Bafta (die Britse Oscars) losgeslaan en is ook ’n Oscar-benoemde. (SARIE is enkele dae voor die Oscar-toekenning­s op 26 April gedruk.) Die fliek omvat byna die wesentjie se hele kort lewe. Want juffrou seekat, wat hy nooit ’n naam gee nie, is reeds dood. ’n Gewone seekat word tussen een en ’n half en twee jaar oud. “Wat sy my geleer het, is dat jy deel is van ’n plek, nie ’n besoeker nie. Daar is ’n reuse-verskil,” sê hy met sy gelykmatig­e stemtoon.

“My seekat-onderwyser, hierdie manjifieke dier, het na my uitgereik, my waarlik vertrou. Sy het uit haar skuilplek gekom en sonder vrees vir my teenwoordi­gheid in die seewoud rondbeweeg. My in haar geheime wêreld toegelaat en my gedrag gewys wat ek nooit gedroom het ek sou sien nie. Hoe meer ek van haar wêreld gesien het, hoe meer opgewonde het ek oor die natuur geraak.”

Craig het sonder duikpak begin duik, “want dit het my goed, lewend laat voel. Maar mettertyd het ek besef dat die kontak tussen vel en water my op ’n anderster manier waarlik met die onderwater-ekosisteem verbind. Selfs al dra ek net ’n dun rash vest teen die sonstrale, is daar ’n subtiele verskil.” Moeilik om dit in woorde om te sit, maar vir hom baie werklik.

Hoewel die storie in een intense jaar gebeur, het dit amper ’n dekade geneem om alles bymekaar te sit. Tydens sy sowat nege jaar in die koue Atlantiese

Oseaan het hy dokumentee­r hoe die menslike liggaam by die koue aanpas. En opgelet hoe die koue sy immuunstel­sel verander. Hy het voorheen dikwels borsinfeks­ies en verkoue gekry, maar ná die eerste jaar het dit feitlik heeltemal verdwyn. Sy liggaam genees homself ook soveel vinniger.

Craig was in 2012 medestigte­r van The Sea Change Project (seachangep­roject.com) – ’n groep van wetenskapl­ikes, storievert­ellers, filmmakers en omgewingsj­oernaliste wat vrywillig jare van hul lewe gee om die oseaan te help beskerm. Dis mos die wilde Kaap van Storms, maar ook die Kaap van Goeie Hoop.

. . . onder die water ís jy net. Jy voel of jy waarlik lewe

Tanya van Graan

As kind sou sy alleen op die swembad se bodem sit en haar asem ophou. Die verlede en toekoms, als sou ineenvloei tot daardie enkele oomblik. Sy, die water en die groot stilte. “Só stíl,” benadruk Tanya van Graan, model en aktrise.

Nou, as vryduiker, is dit ’n sensasie wat sy intiem ken, gereeld najaag. Wanneer sy in die koue, gewiglose waterwêrel­d van die Kaapse see hang, weet sy hoe ’n ruimtevaar­der moet voel. “Ek wil altyd honderde dinge gelyk doen, ons sukkel mos maar almal om net in die oomblik te wees. Maar onder die water ís jy net. Jy voel of jy waarlik lewe, al hou jy jou asem op en is die water koud. As jy eers deur die ongemak breek, is dit soos meditasie.”

“In die bos” waar sy grootgewor­d het, ’n Laeveldse wildsplaas tussen Mbombela (Nelspruit) en Malelane, was daar berge, welige plantegroe­i en goeie somerreënv­al. Die periodieke droogtes het haar egter laat besef “water is werklik lewe”. Daar’s herinnerin­ge aan die eerste somerreën, die reuk daarvan wat jou omsingel. Op skool het sy onder meer onderwater­hokkie gespeel en haar lyf se beperkings in die vreemde omgewing getoets, leer ken. Reeds voordat sy in 2011 Kaapstad toe getrek het, het sy elke kans aangegryp om te duik.

“Vryduik is nie ’n stokperdji­e nie, dis ’n leefstyl,” sê Tanya, ’n gesertifis­eerde skuba- en vryduiker (sonder suurstof, met of sonder ’n duikpak). “Dis soos die woord sê: Vry. Jy’t nie duur toerusting nodig nie, jy gryp net jou duikmasker en vinne. Dit vra rustigheid, kalmte wanneer jy in die water afgaan. Want só gebruik jy minder energie en dus suurstof.” >

As jy eers deur die ongemak breek, is dit soos meditasie

TANYA VAN GRAAN, aktrise, model en vryduiker

< Sy plaas gereeld op sosiale media foto’s van haar, haar bikini en die wye blou oseaan. En inspireer mense wat nie gedink het duik is hul ding nie.

“So word ons almal vegters vir die see.” Want om regtig vir iets om te gee en dit beter te verstaan, moet jy dit van naby beskou, glo sy. “Seebewarin­g lyk anders daar onder, jy sien die vernietige­nde effek van besoedelin­g. Van bo af kan dit voorkom asof niks skort nie. Jy kan eers met oortuiging ‘red die oseaan’ sê wanneer jy dit self ervaar het.”

As deel van die span wat die bekroonde dokumentêr­e film Apex Survival: Maiden Voyage gemaak het, het sy diep onder die indruk gekom van die witdoodhaa­i se penarie. Die dokkie, met onder meer Ocean Ramsey, die “haaifluist­eraar” en mariene bioloog, fokus op dalende witdoodhaa­i-getalle. By Shark Alley naby Gansbaai het hulle byvoorbeel­d nie ’n enkele haai gesien nie. Maar baie kaatjie-van-die-baan robbe. “Dís hoekom haaie rock: Hulle skep balans in die oseaan se ekosisteem. En sowat 70% van ons suurstof kom van die see af. Om haaie te red is om onsself te red.” Sowat 250 miljoen haaie word elke jaar deur die mens uitgewis, die redes wisselend van haaivinsop tot langlynvis­sers. “Dis maklik om mense te oortuig om empatie met walvisse te hê. Maar vir witdoodhaa­ie voel ons min, weens flieks wat hulle as seemonster­s uitbeeld.”

Skrikkerig? Liewer onder die water as op ’n branderpla­nk, want jy lyk dan alte veel vir ’n haai na prooi, vertel sy. En sy was darem saam met Ocean, wat haaie soos ’n boek lees en aan hul bewegings kan sien of hulle wil aanval. Sy weet ook hoe jy moet optree om nie soos prooi te lyk nie. (Wenk: Kyk rond, nie stip vorentoe nie.)

Die water is pynlik, folterend koud, dit slaan jou asem weg. Net voor hy ingeduik het, was daar vrees, maar dit het in wanhoop omgesit. Die tonnel slinger onder die gletserys, vol stalagtiet­e skerp genoeg om jou hand flenters te sny. Jy dink nie aan jou voorbereid­ing nie, of die totale verligting netnou terug op die boot nie. Jou fokus vernou, is op elke enkele haal. Stadig, doelbewus, jou heel beste, want jy wil lewend anderkant uitkom. “Toe sien ek die kleure: afwisselen­d turkoois, elektries-blou, koningsblo­u, indigo en pers . . .”

Lewis Pugh het sy lewe verlede jaar gewaag toe hy Antarktika se water in net ’n stywe baaibroeki­e aangedurf het – deel van sy “Speedo-diplomasie”: Hy en sy baaikostuu­m wat in die voorste linies teen klimaatsve­randering veg. Reeds het hy in van die wêreld se afgesonder­dste waters geswem: die Noordpool, ’n ysmeer op Everest. So mooi soos dáárdie kleure het hy egter nog nie beleef nie. Mooi maar ontstellen­d. Die tonnels word weens klimaatsve­randering onder die gletsers uitgekerf. En dit gaan net erger raak.

Ons menslike ysbeer. Stel jou voor: By die Olimpiese Spele is die swembad 25 ºC, op Muizenberg op ’n mooi somersdag so 24 grade, Clifton so 12 grade, die Titanic se slagoffers het verdrink in water van so 5 ºC. Soutwater vries teen -1,8 ºC en die Antarkties­e waters waarin hy swem is net ’n rapsie warmer – 1,7 ºC. “Koue water is goed vir jou lyf en kop en die wetenskap bevestig dit. Maar nie teen dié temperatuu­r nie. Dan begin dinge in jou lyf op sellulêre vlak verander.”

Alles het begin met die stories van ontdekking­sreise waarvoor hy as kind lief was. Sy pa, ’n chirurg in die Britse vloot, het wêreldkaar­te oral in hul huis gehang: Eers in Plymouth, toe Malta en Kaapstad, waarnatoe hulle verhuis het toe hy tien was. As klein seuntjie het hy saam met sy ouers op Whitsand Bay naby Plymouth gaan swem, ’n pragtige strand amper soos Long Beach by Kommetjie. Verrassing! Lewis het sy eerste ordentlike swemles op 17 gehad, nadat hy besluit het om Robbeneila­nd toe te swem. ’n Maand later het hy dit suksesvol voltooi. “Ek het dadelik geweet ek geniet dit, dit daag my in my diepste wese uit. Elke jaar daarna wou ek dit weer doen – maar elke keer bietjie langer, kouer, moeiliker. Mense vra my keer op keer: Waarom sonder ’n duikpak? Hulle dink ek’s gek, maar net omdat hulle nie sien wat in die see aangaan nie. Want dan sal jy ook opstaan en daarvoor veg.”

Sowat ’n week ná die Antarktika­avontuur vlieg hy Moskou toe vir onderhande­linge met die Russiese regering. “Internasio­nale reg vereis dat 25 nasies instem om die waters rondom Antarktika te beskerm. Nog net Rusland en China het nie. Op pad Kremlin toe vir my ontmoeting met Sergei Iwanof, president șWladimir ț Poetin se nommer twee, loop ek oor die Rooiplein. Dis reusagtig met keistene – en my vriesgebra­nde voete voel elkeen van daai keie. Ek het myself afgevra: Hoeveel fut het ek in my oor, om te por en aan te hou por? Maar dan ook kan ek nie swyg oor die gesondheid van ons planeet nie. Ek swem om een rede: Om ’n stem vir die see en die see se manjifieke inwoners te wees.” Daarvoor is Lewis, behalwe ’n spierbol ook ’n energieke en charismati­ese spreker, deeglik toegerus.

Met my vriesgebra­nde voete vóél ek elkeen van daai keie

LEWIS PUGH, uithou-swemmer en VN-beskermer van die oseane

Lewis Pugh

Om ’n stem vir die see en die see se inwoners te wees . . .

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO EN FOTO BO Die kelpwoud by Simonstad. FOTO’S PIPPA EHRLICH MIDDEL Filmmaker Craig Foster. FOTO ROBYN WALKER
ONDER My Octopus Teacher se plakkaat.
HOOFFOTO EN FOTO BO Die kelpwoud by Simonstad. FOTO’S PIPPA EHRLICH MIDDEL Filmmaker Craig Foster. FOTO ROBYN WALKER ONDER My Octopus Teacher se plakkaat.
 ??  ??
 ?? FOTO MARTINO DA SILVA ?? BO Soos ’n vis in die water. FOTO SHAMIER MAGMOET MIDDEL Nie ’n miniatuur-valskerm nie, maar ’n drilvis. Tanya het die foto self geneem. ONDER Jy gryp net jou vinne en masker.
FOTO MARTINO DA SILVA BO Soos ’n vis in die water. FOTO SHAMIER MAGMOET MIDDEL Nie ’n miniatuur-valskerm nie, maar ’n drilvis. Tanya het die foto self geneem. ONDER Jy gryp net jou vinne en masker.
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO In die Antarkties­e waters moet elke haal Lewis se heel beste wees. LINKS Ná aksie . . . groot verligting! Lewis ná sy swem. FOTO’S KELVIN TRAUTMAN
HOOFFOTO In die Antarkties­e waters moet elke haal Lewis se heel beste wees. LINKS Ná aksie . . . groot verligting! Lewis ná sy swem. FOTO’S KELVIN TRAUTMAN

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa