Ware storie: ‘My kind in web van pedofiel’
Santie de Wet* was stukkend toe sy besef haar seuntjie word reeds twee jaar lank deur ’n huisvriend gemolesteer. Heleen van As het met haar gesels in opdrag van die drukgroep Action Society, wat hulle daarvoor beywer dat die nasionale register vir seksoortreders openbaar gemaak word
Jy dink dit sal nie met jou gebeur nie. Veral nie as jy self ’n ma is wat as kind gemolesteer is nie. Hoe kon jy die waarskuwingstekens miskyk? Die situasie was egter meer kompleks as wat Santie haar kon voorstel toe hulle in 2017 agterkom dat haar oudste seun reeds twee jaar lank deur ’n huisvriend gemolesteer en verkrag word. “Hierdie seer en verwyte gaan ek vir die res van my lewe moet saamdra. Ek voel soos ’n slegte ma. Ek het misluk as ouer. Onwetend het ons hom aan ’n manipulerende monster blootgestel wat ek met my hele lewe vertrou het. Ek hoop wel dat ons deur ons verhaal ander kan waarsku, en dat hulle sal besef dat so iets jou totaal onverhoeds betrap,” vertel sy.
Dit was ’n perfekte somersaand in 2015 toe die De Wets die eerste keer by Pieter* gaan braai het. Hy was ’n voormalige kollega van haar man. Ongetroud. Amper oorvriendelik.
Altyd behulpsaam. Sjarmant. ’n Man wat jy nooit kwaad sien nie, nie vir ’n vlieg of in die verkeer nie. Wie sou kon raai dat Pieter daardie eerste aand al met Bennie*, hul vyfjarige seun, sou peuter?
“Hy was altyd net dáár! As my kinders siek raak of ek draai vas by die werk, kon hy hulle gou by die skool gaan haal. Hy het hulle uitgeneem vir etes, bederf met geskenke, geskiet vir ’n fliek . . . min het ek geweet wat die prys is wat my seun hiervoor moes betaal. Pieter was so goed met wat hy gedoen het dat my kinders selfs gevra het om by hom te gaan kuier.”
Dit het herhaaldelik en orals gebeur. Selfs wanneer hulle gaan uiteet, sou hy hom badkamer toe neem en molesteer, later verkrag. “Vandag kan ons na geen inkopiesentrum toe gaan nie. Geen gesinseetplekke nie. Hoe skep jy bewustheid sodat kelners en restauranteienaars meer paraat raak oor hierdie goed? Want dit gebeur! Veral met seuntjies.”
KAN EK MAMMA EN PAPPA IETS VERTEL?
Vir twee jaar het dit aangehou, sonder enige waarskuwingstekens: gedrag, bednatmaak of nagmerries. Bennie het hom bloot méér op sy skoolwerk toegespits en presteer.
“Een Dinsdagaand rondom die etenstafel kom die onderwerp oor jou lyfie en privaatheid op. Wéér moedig ons die kinders aan dat hulle ons moet kom vertel as iemand aan hulle vat, of as hulle ongemaklik voel oor iemand se gedrag. Kleinboet, toe amper vier, sê ‘nee’. Ons oudste, toe sewe, het egter gevra wat gaan gebeur as iemand dit gedoen het. Ons het probeer kalm bly en vir hom gesê as ons nie weet nie, sal ons nie kan keer dat dit weer gebeur nie.”
Die volgende dag is hy skool toe. Die aand, terwyl hulle besig was om te pak vir ’n kampnaweek, het hy kom sê: “Mamma en Pappa, ek wil vir julle iets sê. Oom Pieter . . .”
“Tóé het ons onmiddellik geweet!” vertel sy hartseer.
JOU KIND SE PERSOONLIKHEID
Hulle het deur alles gesels en dieselfde Woensdagaand om halftien die polisie geskakel. Omdat Bennie minderjarig is, is hulle aangesê om die volgende dag by die Karl Bremerverkragtingseenheid in Bellville aan te meld.
“Op pad soontoe het my seuntjie gevra: ‘Mamma, gaan ek nou hel toe? Die oom het gesê as ek vir iemand vertel, gaan ek hel toe.’ Ek was so geskok!”
Daar sit haar seun met sy ietwat “op-sy-plek”-persoonlikheid en bekommer hom oor wat met hóm gaan gebeur. “Pieter het presies geweet watter een van my seuns om te kies; watter een vir sy manipulasie sou val. Voordat hy my en die kinders ontmoet het, het hy reeds so baie van ons geweet. Dit is nie my man se biologiese kinders nie en hy was bewus van die komplekse geskiedenis met hul pa. Bennie was die stiller een, die gehoorsame een. ’n Pleaser wat outoriteit aanvaar,” vertel sy.
Haar man het daardie Woensdagaand ook vir Pieter gebel. Volgens hom het Bennie alles uit verband geruk en sou hy kon verduidelik. “Toe hy verneem die polisie is op sy spoor, het hy egter van die radar verdwyn, totdat hy homself die volgende Dinsdag gaan oorgee het.”
HOFSAAK DUUR AL VIER JAAR
Pieter is sestien dae later op parool vrygelaat, kwansuis omdat sy lewe binne die tronk in gevaar was. Die pedofiel gaan voort met sy lewe terwyl dié van sy slagoffer verwoes word. Elke ses
weke volg MIV-toetse en vyf maande lank moes Bennie herhaaldelik dieselfde nagmerrie aan verskeie forensiese deskundiges oorvertel om seker te maak dat sy feite konstant bly, sê Santie.
“Toe ons uiteindelik ’n hofdatum kry, het die voorbereiding daarvoor begin. Omdat Bennie minderjarig is, moet dit in camera wees. Dit het lank geneem om hom vertroud te maak met die hofprosedures en hoe dit gaan werk.”
Hoewel hulle sedert begin 2017 bykans elke vier maande in die hof was, het die saak eers in Mei 2019 momentum gekry. Voor die Covid-pandemie was hulle elke vier tot ses weke in die hof om te getuig.
“Elke keer word dit uitgestel omdat my kind deur gebeure ontstel word. Die hoftoerusting werk nie, so hy kan byvoorbeeld alles hoor wat in die hof aangaan. Tydens in camera-verhore sit kinders in ’n afgesonderde glaskas van waar hulle sonder direkte interaksie met die hof kan getuig. Daar is veronderstel om ’n bemiddelaar te wees wat alles aan die kind oordra op ’n vlak wat vir hom verstaanbaar is. Dit het nie gebeur nie. My seun moes al die ondervraging, en die toon daarvan, aanhoor.”
Santie voel meer kan gedoen word om kinders te beskerm. “Ons moes byvoorbeeld almal dieselfde deur gebruik. My kind moes by die deur ingaan met ’n baadjie oor sy kop om Pieter te vermy. Anders loop die hele dag in die hof verkeerd.”
Die gesin se saak duur nou al vier en ’n half jaar. “My kind is op ’n moedelose plek waar hy praat van selfdood omdat hy nie seker is of ons ooit geregtigheid gaan sien gebeur nie. Kort-kort moet ons hom herinner dat ons hierdie intense stryd aangepak het om seker te maak dat oom Pieter dit nooit weer aan ’n ander seun kan doen nie.
“Hy het herhaaldelik vir Bennie gesê: ‘Onthou, dit wat ek aan jou doen, moet jy eendag aan kinders doen, want dit is met my gedoen. Pieter het hom gebreinspoel dat hul ‘geheim’ okay is en dat dit die regte ding is om te doen. Hy wou my kind groom om ’n pedofiel te word.”
MOET EK DIE POLISIE BEL?
Die grootste worsteling ná so ’n skok-onthulling is natuurlik: Verwerk ons die trauma so spoedig moontlik of sien ek kans om my kind aan ’n uitgerekte hofsaak bloot te stel?
“As meer mense hieroor praat en dit nie verswyg nie, sal dit minder gebeur. Veral met seuntjies. Pieter, en baie soos hy, loop vrylik tussen ons rond. Ek verstaan dit maak seer. Dit maak mense seer. Dit het ons hele lewe verander. Maar wanneer jy niks doen nie, kom ’n pedofiel nie van die straat af nie.
“Vir ons as familie is die saak ernstig. Dit voel amper my raad aan ander moet wees: Moenie vriende met enigeen maak nie. Ons raak nie meer bevriend met iemand wat nie bereid is om ’n kriminele klaringsbewys te verkry nie.”
Maar selfs dít sou die gesin nie teen hierdie nagmerrie kon beskerm nie. Hulle het intussen verneem dat Pieter in 2015 van ’n soortgelyke oortreding aangekla is. Hy is egter vrygespreek weens onvoldoende bewyse omdat die betrokke kind te getraumatiseer was om verder te getuig. Santie is bekommerd dat hy weer skotvry gaan wegstap, maar sy bly hoop dat die mense wat langs hom woon en saam met hom werk, eendag sal weet hy is ’n pedofiel.
Sy familie wéét. “Omdat sy broerskind dieselfde ouderdom as my seun is, wou ek hulle waarsku. Hulle het ingestem om na my kant van die saak te luister. Die vrou het saam met my gehuil. Sy het my egter die volgende dag laat weet dat dit ’n familiesaak is en my nie weer gekontak nie.”
’n Kaptein wat die polisiedossier gesien het, het Santie gebel en erken dat Pieter ook sy kind gemolesteer het. Uit die aard van sy werk het hy geweet hoe so ’n proses verloop en hy het nie kans gesien vir die uitgerekte regsgeding nie. “My vraag is: Hoeveel pedofiele loop daar buite rond omdat ouers net stilweg die trauma so gou moontlik wil verwerk?”
Santie meen dat die regering se nasionale register vir seksoortreders (NRSO) aan die publiek oopgestel moet word. (Tans het net werkgewers in die openbare of private sektor wat met kinders of verstandelikgestremdes werk, bv. skole, kleuterskole en hospitale, toegang tot die register om te verseker dat voornemende werknemers geskik vir hul taak is.) Sy voel “dit is 100% jou reg om te weet presies wie woon in die huis waar jou kinders speel, wie jou bure, jou kind se onderwyser of jou kollega is”.
Sy meen ook wanneer kinders geleer word dat hul lyfie privaat is, moet ouers dalk – sonder om hulle hul onskuld te ontneem – meer spesifiek wees wat dié definisie behels.
“Jy neem aan jou kind weet wat reg of verkeerd is. Van kleins af praat-waarsku ons oor hierdie onderwerp. Ons het egter op die hardste manier denkbaar geleer pedofiele is meester-manipuleerders. Al was die kommunikasiekanaal in ons huis oop, was ons seun vasgevang in ’n monster se web.”
Sy doen ’n beroep op die regering om ’n stelsel te implementeer waar kinders onafhanklik gemonitor word. “Soms is dit nie ’n oom nie, maar ’n pa of stiefpa. Dalk kan spelterapeute en kindersielkundiges eenvoudige maar ‘slim’ werkkaarte ontwerp wat onderwysers gereeld in die klas kan doen om moontlike slagoffers van molestering en ander vorms van mishandeling uit te wys.
As daar gevaarligte is, kan hulle die kind vir hulp verwys.
Ons kinders benodig al die ondersteuning wat hulle kan kry,” sê sy.
* Skuilname is vir alle partye gebruik.
Action Society nooi die publiek om hul stories te vertel om ’n verskil te maak. Kontak: actionsociety.co.za