Sarie

GEEN BLOMME NÁ DIÉ DOOD

-

Ek het besluit dis tyd om die masjiene af te skakel. Dokters beveel dit gewoonlik aan wanneer daar geen meer hoop is nie. Behandelin­g help nie.

My huwelik se dood is onafwendba­ar. Ek is nie verantwoor­delik daarvoor nie. Ek is die een wat enige behandelin­g, boereraat, terapie, geestelike hulp probeer het om lewe te gee aan my huwelik wat kunsmatig aan die gang gehou word. Amper drie jaar terug was ek ook die een wat moes besluit dat dit die einde is. Maar die aand voor die hofsaak het ek by die Here gepleit om herstel te bring. Ek is toe nie skeihof toe nie.

My man het soos soveel vorige kere beloof dat dit dié keer anders sal wees, dat hy nooit weer na ’n ander vrou sal kyk nie. Ek het hom geglo.

Ons het 27 jaar gelede ontmoet en was maande later dolverlief. Ons het geglo dat daar nog nooit so ’n gelukkige paartjie was nie. Ek het alles ingesit, gebly by God se hiërargie, eer Hom eerste, dan jou man as priester van die huis en dan moet jy jou kinders liefhê en versorg. Soos in ander verhouding­s was daar soms verskille, maar ons het dit dadelik probeer oplos.

Ná vyftien jaar kom ek agter dat hy ’n swak plek vir vroue het. Baie vroue, nie net een nie. Elke keer het ek vergewe, álles ingesit om dit te laat werk.

Daar is min simpatie van ander omdat ek wil skei. Hulle kan nie verstaan hoekom dié hartseer nie, dis dan my besluit. Hulle kan nie verstaan dat skei nie is wat ek wil hê nie. Maar ek moet omdat daar geen kans op herstel is nie.

Wanneer iemand doodgaan, bring almal blomme en eetgoed, selfs wildvreemd­es simpatisee­r. Maar wanneer jy skei, is daar niks daarvan nie.

So gaan ek 2021 in sonder blomme van simpatisee­rders. Ek het nog nooit so seer gehad nie, nie eens met my kind se geboorte nie. Toe was daar darem die verwagting van ’n baba wat op pad is.

Nou is daar net God se beloftes van ’n hoopvolle toekoms. My hart is morsdood. As iemand net blomme sou bring.

Anoniem

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa