VERFRISSEND IN ONSEKER TYE
Dis etenstyd en ek sit by my lessenaar met ’n SARIE vertroostend voor my uitgesprei. Hoe lekker voel ek as ek al die positiewe en inspirerende artikels lees.
Wat het met ons samelewing gebeur? Al die selfgesentreerdes, bitterbekke, verrinneweerdes . . . En sommer net: Wat het van menswees geword?
Die afgelope maande het die woord “Covid” ’n verskrikking geword. Mense beloer jou met “vensteroë” van agter maskers.
Sommige van die reisigers op ons pad se oë vertrek so dan en wan in ’n glimlag, wat jy nie op hul lippe agter die masker kan sien nie. Dan besef jy, deur oogkontak, daar is nog baie om oor te glimlag. Om jou hart opgewonde te laat klop.
Ek hoor elke dag die stemme van kinders wat vrolik lag. Dié van hulle wat groet “Môre!” al is dit middag. ’n Stukkende vrou wat voor my sit en sê: “Ek kan nie meer nie, ek weet nie meer nie.” Ek ervaar elke dag by die bemagtigingsprojek waarby ek betrokke is die baldadigheid van die lewe, maar ook die “Ek wil asseblief my vlerke terughê”-deel.
Dalk moet ons in dié onseker tye meer in mekaar se oë kyk en glimlag, ’n vriendelike kompliment gee en dalk net uitbundig lag oor die simpel, snaakse dinge in die lewe. As ek so deur SARIE lees, kom die Engelse woorde by my op: “Be kind, just be kind!”
SARIE se positiwiteit is inspirerend en in dié onseker tye verfrissend. Altea Hill, Franschhoek