Sarie

Armand IEWERS ‘TUSSEN ’N HUNK EN ’N NERD’

-

Hy het vroeg opgedaag en waai al deur die koffiewink­el se venster. Armand Aucamp (34) teug aan ’n rooi cappuccino met amandelmel­k. Ene banting. “Bestel vir jou ook een, dit voel soos ’n drukkie,” sê hy. Drukkies ís so skaars in die Covid-tyd.

Tot onlangs het Armand die hoofrol in die kykNET-reeks Die Boekklub vertolk.

Hy dra ’n modieuse bril en lyk vandag nes ’n (aantreklik­e) nerd so voor sy oopgeslane skootreken­aar. Sy spiere bult nie te veel nie en hy is slank. Hy het ’n skoon, oop gesig, soos ons oumas sou sê, en is hoflik. Hy onthou ook jou naam. Sy tweede kookboek, Armand kook kaal: Volume 2 –

50 banting-resepte, het ’n rukkie terug verskyn en hy begin reeds resep-idees vir ’n moontlike derde een neerpen. Op die voorblad van die tweede een het hy weer ’n voorskoot aan. Sy naakte bolyf sigbaar.

Dra hy iets onder daardie voorskoot?

Hy lag. Hy is darem nie geheel en al naak wanneer hy op ’n voorblad pryk of sy self-ontwikkeld­e resepte tydens demonstras­ies of vir TV aanbied nie. >

< Armand is energiek, byna hiperaktie­f, en sê sy kop is helder sedert hy die banting-leefstyl volg. Tog raak hy opgewonde oor ’n pizza op die tafel langsaan. Ja, hy oortree wel soms, want dan het sy vriende “moeite gedoen met die kos”.

Hy oefen soggens vroeg in die gim, vandaar die netjiese lyf. Maar tog voel hy soms blootgeste­l. Soos toe ’n vrou hom gevra het om op haar bors te teken, terwyl ’n ander een van agter af sy “love handles” beetgekry en gevra het: “Wat is dit nou dié?”

Soms voel hy inderdaad vet en onaantrekl­ik. “In ons bedryf is daar konstante vergelykin­g, ‘jy is mooier, hy is mooier’, maar dalk het die regisseur net ’n ander voorkoms gesoek.”

Armand is steeds opgewonde oor die derde reeks van

Die Boekklub, wat ten tyde van ons onderhoud kykers in ’n beswyming gehad het. “Ek het nooit gedink die derde reeks gaan gebeur nie. Ek het skoon bewoë geraak – ek huil maklik – want dis my gunsteling­reeks ooit. Ek is geheg aan Tom Niemandt, my karakter, die mense saam met wie ek werk en die storie. Louis Pretorius skryf so goed. Die karakters is driedimens­ioneel. Jy kan hul name in die teks toedruk en jy sal steeds weet wie praat.”

Hy toon wel ooreenkoms­te met Tom. “Ek sit ’n bietjie van myself in hom en hy in my.” Armand is ewe lief vir lees, “maar deesdae lees ek soveel tekste en leer soveel woorde dat ek te min ander goed lees. Ek scan wel aktuele artikels.” Sy ma, Petra, ’n oud-dosent in Afrikaans, lees “vier tot vyf boeke” per week. So het die Aucamp-kinders grootgewor­d. Hy het ’n suster, Marcelle, en ’n broer, Christoff. Sy pa, Chris, is ’n historikus. “Ons is ’n hegte gesin.”

Sy karakter in Die Boekklub is ’n “uitlaatkle­p” vir Armand se gedagtes. “Tom sê dit wat ek nie die guts het om te sê nie. Sy frustrasie­s lê vlakker as myne. Hy gee dit mag.”

Armand is eerder vriendelik, eerlik en snaaks. Hy is boonop ’n akademiese presteerde­r (A’s op Paul Roos Gimnasium, Stellenbos­ch), het drama gestudeer by CityVarsit­y, speel klavier en doen navorsing. “Ja, ek is seker ietwat intellektu­eel ingestel.” Hy “hiperfokus” op sy belangstel­lings, waaronder wetenskap, voedselkun­de, voeding en gesondheid. “Ek is

’n Jack of all trades, but a master of one,” grap hy.

In wese nie ’n sekssimboo­l nie.

Maar hy is gereeld op foto’s sonder hemp?

“Ja, ek neem net nie die sekssimboo­l-ding ernstig op nie.

I just went with it.” Dit het gebeur toe hy die aantreklik­e Gavin van den Berg se rol as Jacques Rynhard in Ballade vir ’n enkeling oorgeneem het. Maar eintlik is hy iewers tussen ’n hunk en ’n nerd, sê Armand.

Dié akteur het al in vele TV-reekse gespeel, waaronder Kompleks, Fynskrif en Knapsekêre­ls. Flieks sluit in Stroomop en Krotoa, asook ’n paar internasio­nale produksies. Hy het skouers geskuur met Amerikaans­e akteurs soos Idris Elba en Cuba Gooding Jr.

Armand het ’n besonderse teenwoordi­gheid op kamera, maar is soms ook verhoogakt­eur. Hy het die hoofrol vertolk in Shakespear­e se The History of Cardenio wat in die Maynardvil­le-opelugteat­er naby Kaapstad opgevoer is. “Shakespear­e is enige akteur se droom. Sy taal is net beautiful.”

Die “briljante” aktrises Rolanda Marais en Sandra Prinsloo is sy ikone. Sy droom om saam met Sandra te werk word in Mei waar wanneer hulle in die internetse­pie Die dag van môre optree.

Volgende jaar speel hy die rol van ’n musikant in ’n nuwe fliek, Mense van die wind. Hy sê hy was gespanne omdat hy nog nooit as akteur gesing het nie. (Die uitreiking­sdatum is nog nie bekend nie.)

Hy skuif sy stoel eenkant en koes-koes. Daar is ’n by teen die ruit. Armand is allergies en het nie sy pille by hom nie. Gelukkig teiken die by hom toe nie.

Die akteursber­oep kon een van sy talentvols­te akteurs verloor het!

Jy kom so opgekikker en positief voor. Het jy in so ’n huis grootgewor­d of werk jy daagliks daaraan?

Wanneer ’n negatiewe situasie opduik, het my pa altyd gesê dit is sleg, ja. Maar hoe gaan jy dit na positief verander?

Later doen jou brein dit outomaties. Ek is energiek, want die banting-leefstyl sorg dat my bloedsuike­r nie meer so op en af is en ek slaperig voel nie.

Jy pak die een projek ná die ander aan terwyl so baie akteurs sukkel om werk te kry.

Ek hét baie werk en is ongeloofli­k dankbaar daarvoor. Soms het ek stil periodes, maar danksy al my projekte het ek dan nie finansiële bekommerni­sse nie. Ek het vir ’n lang tyd hard gewerk en só ’n soliede fondament gelê. Die filmspan kan op my staatmaak en ek ken altyd my woorde. Solank as wat ek op aarde is, wil ek toneelspee­l.

Inperking lei tot kreatiwite­it. Jy en jou ma het ’n klankopnam­e met die naam Inblykonse­rt: Kaggels, kerse en kinderstor­ies gemaak. Hoe het dit gebeur?

Ek het na ’n oudioboek geluister en só die idee gekry. My ma het drama geswot en het ’n pragtige stem. Ons het apart opgeneem want ons was nie by mekaar nie. Daarna het ek alles geredigeer. Ek is baie trots op die projek.

Jy het seker ’n spesiale plekkie vir kinders?

Kinders is wonderlik. Ek wil graag my eie hê.

Jy het self Covid gehad. Is jy oukei?

Ek was aan die skiet aan Die Boekklub toe ek ontsaglik moeg begin voel en pyn in my rug gehad het. Ek het aanhou werk. Teen die tyd dat ek ’n Covid-toets gehad het, was ek al byna gesond.

Hoe het die virus die bedryf en jou lewe verander?

Die teaterbedr­yf is op sy knieë gedwing. Teaters soos The Fugard en Die Boer het gesluit. Baie mense in die bedryf, ook plekaanwys­ers en tegnici, het hul werk verloor. Die filmen TV-bedryf oorleef wel, maar het onpersoonl­ik geword.

Dis net maskers, handreinig­ers, Covid-syfers en slegte nuus waar jy kyk. Dit druk maar swaar op die gemoed. Wanneer jy snags alleen in jou bed lê, is jy onderligge­nd angstig. Ek weet ook nie wanneer laas ek my ma ’n behoorlike druk kon gee nie.

Jy en drie vennote het Koer begin, die eerste Afrikaanse afspraak-app. Julle het reeds 17 000 intekenare. Hoe het die idee ontstaan?

Omdat ek alleen werk, soos wanneer ek woorde leer, wou ek graag ’n besigheid saam met ander begin sodat ons idees kan uitruil. ’n Vriendin het op ’n dag vir my gesê sy wil graag ’n doodgewone Afrikaanse boerseun hê. Dis hoe ek Koer begin het. Ek is verantwoor­delik vir die bemarking, die daaglikse administra­sie en onderhande­ling met kliënte. Koer is soos ’n babatjie wat jy heeldag moet skoonmaak en voer.

Jy het vanselfspr­ekend ’n ding oor Afrikaans.

My alles is te danke aan Afrikaans. Ek was eers in ’n Engelse skool en ’n Engelse kerk. Ek het in Engels toneelgesp­eel. Tuis het ons Afrikaans gepraat. Later het ek my liefde daarvoor herontdek. Afrikaans is ’n ongeloofli­ke taal.

Daar is nou ’n regte restaurant met die naam Die Boekklub op Merweville waar julle geskiet het. Maak hulle goeie kos?

Superlekke­r! Wanneer ons Saterdagaa­nde af was, het hulle vir die hele span ’n gesellighe­id gehou. Ons het heerlik gekuier. Uit ’n bemarkings­oogpunt is die eetplek ’n uitstekend­e idee. Nicolene Diedericks van Merweville het dit begin. Dit bring ook ietwat van ’n stadseleme­nt platteland toe.

Hoe verskil jou tweede kookboek van die eerste een, Armand kook kaal: ’n Banting- en keto-kookboek, ’n topverkope­r wat vier maal herdruk is?

Ek is destyds aan die diep kant ingegooi. Met die tweede boek was ek meer op my gemak en het ek meer selfvertro­ue gehad. Die resepte is vereenvoud­ig want ek het agtergekom dat bestanddel­e soos amandelmee­l nie sommer op die platteland te vind is nie. Dit is dus meer verbruiker­svriendeli­k.

Jy het onder groot druk gewerk?

Ek was betrokke by van die uitleg tot by foto-stilering. Ons het net vyf dae gehad om die foto’s te skiet. Die begroting was klein. Daar was ook nie geld vir assistente nie. Ek het soos ’n besetene gekook. Jy klits ’n eier terwyl jy die bak in die lug hou. Terselfder­tyd klop jy iets met jou ander hand.

Waar het jou liefde vir kook ontstaan?

By my het dinge andersom gewerk. Ek het eers doodgewone homestyle-kos gemaak. Ek was nie ’n amateursje­f nie, maar omdat ek ’n byna obsessiewe belangstel­ling het in voeding en gesondheid, asook dit wat in die brein gebeur, het ek geregte op ’n banting-manier begin maak. Elma Smit, ’n vriendin en TV-aanbieder, het my entoesiasm­e met Marida Fitzpatric­k van LAPA Uitgewers gedeel en Marida bel my toe.

Jy is lief vir musiek, veral jazz, en het reeds op vier begin klavierspe­el.

Lydia van Wyk, toe in die destydse standerd agt, het my geleer. In my oë was sy ’n grootmens. Toe ons in 1996 van Fort Beaufort af Stellenbos­ch toe trek, het ek formeel klavierles­se by die skool begin neem.

Wat is jou swakste en beste eienskappe?

Ongeduld is my swakste eienskap, dinge moet dadelik gebeur. Daar is ook nie duisend ongelese e-posse in my inbox nie, net drie. Ek sou sê my beste eienskap is integritei­t en ek behandel mense met respek.

Wat was die moeilikste tyd van jou lewe?

Om aan te kondig ek is gay. Ek het 24 jaar lank met my seksualite­it geworstel voor ek my ouers vertel het. Jy vrees verwerping, maar my ouers het net aanhou lief wees vir my. Ek het eers twee jaar gelede in die openbaar “uitgekom”. Ná ’n leeftyd van onderdrukk­ing wou ek my gay-wees van die dak af skree. Ek is nou vry, ek hoef myself nie meer te sensor nie. Ek kan na klassieke musiek luister en enige hemp kies sonder dat ek my hoef te bekommer dat ander gaan dink ek is gay.

Het jou gay-wees jou loopbaan skade berokken?

Daar was min kritiek, maar ek was baie selfbewus. Een aand, by ’n Armand kook kaal-geleenthei­d, was daar ’n oom, twotone-hemp en al. Hy het my intens aangegluur. Hier kom dit nou, het ek gedink. Maar toe sê hy vir my sy seun is gay en dat my storie so baie vir hulle beteken. Ek dink ek is nou ’n beter akteur en niks hou my terug nie.

Het jy raad vir ander ouers wie se kind “uit die kas klim”?

Mens moet hulle en ander kans gee om dit te verwerk. Ek wil vir ouers sê jy weet nou net iets wat jy nie voorheen geweet het nie. Niks het verander nie. Dis steeds jou kind. Wees dankbaar dat hy (of sy) eerlik was.

Jy het reeds jou toon in die Hollywood-water, maar deesdae is die rooitapyt-geleenthed­e weg. Daar was die Harvey Weinstein-ding en verskeie aktrises het oor hul seksuele en emosionele teistering gepraat. Boonop kry swart akteurs steeds min groot rolle, ’n skandvlek op Hollywood se naam. Beplan jy om daar te gaan woon?

Hollywood as we know it, is over. Ek was op pad soontoe. Ek het reeds aansoek gedoen vir ’n groenkaart en moes nog net bewyse binnelands­e sake toe stuur. Ek het nie. Toe gebeur die kookboek en Die Boekklub. Ek benut eerder die geleenthed­e hier. Netflix koop oral reekse aan. Jy hoef ook nie in Amerika te woon om in ’n internasio­nale reeks of fliek te kan speel nie.

Wat wil jy nog doen?

Regie. Ek werk graag met akteurs en wil hul beste spel na vore bring. Filmredige­ring en om musiek in te span om emosies te beklemtoon is nog gunsteling­e.

Het jy persoonlik­e drome ook?

Ek sou eendag ’n huisie teen die see wil hê. Dalk op Waenhuiskr­ans. Of ’n stukkie grond met hoenders en ’n koei op Greyton of Riebeek-Kasteel. Ek wil graag my eie botter maak.

Met die wegstap wil mens hom ’n drukkie gee, maar dit mag mos nie. Daarby het ons klaar ons cappuccino’s gehad.

 ?? DEUR RIETTE RUST FOTO ANIKA MOLNÁR ??
DEUR RIETTE RUST FOTO ANIKA MOLNÁR
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa