Ikone rebelle baanbrekers sterre
Die klein bootjies en groot skepe van die ‘pandemie-see’
26 MEI 1940.
Hulle was honger, moeg, radeloos. Sommige erg gewond. Vasgekeer op die strande van die Franse kusdorp Duinkerken het die Britse soldate en hul Geallieerde makkers gewag op hul lot. Agter hulle en aan hul flanke het die Duitse magte saamgetrek. Bo hulle het die Stukas, Duitse bomwerpers, met reëlmaat op hulle afgepyl. Voor hulle het die Engelse Kanaal hulle van volk en vaderland geskei. Dit het afgestuur op een van die Tweede Wêreldoorlog se grootste militêre rampe.
Uit desperaatheid het die destydse Britse eerste minister Winston Churchill Operasie Dynamo in werking gestel: Om die troepe met torpedojaers te onttrek. Maar dit sou weke neem om die 338 000 mans oor die kanaal te neem. Weke wat hulle nie gehad het nie. Boonop kon die torpedojaers nie naby die strande kom nie en moes die moeë soldate in die yskoue water tot daar swem.
Toe gebeur dit. Op 28 Mei 1940 verskyn honderde bote van burgerlikes – handelskepe, vissersbote, plesiervaartuie, seiljagte en reddingsbote – op die horison. Elkeen met net een doel voor oë: Bring hulle huis toe. Met name soos Tamzine, Bluebird, Chelsea en Brighton Belle het die eienaars van tot 850 bote gehoor gegee aan ’n noodoproep en gesorg vir wat agterna die Wonderwerk van Duinkerken gedoop is. Party het die soldate na die torpedojaers geneem, ander het die tog oor die kanaal na Ramsgate, Engeland, keer op keer aangedurf. Binne nege dae is 198 000 Britse en 140 000 Franse en Belgiese troepe na veiligheid gebring.
Volgens dr. Shanaaz Hoosain, ’n sielkundedosent aan die Universiteit van Kaapstad wat in historiese trauma spesialiseer, sal daar altyd ikone, rebelle, sterre en baanbrekers in tye van wanhoop wees. “Die geskiedenis herhaal homself keer op keer. Daar is patrone, trauma wat van een generasie na ’n ander oorgedra word . . . Die huidige pandemie is geen uitsondering nie. Ook dít gaan ’n letsel laat. Ook dít gaan stories van hoop oplewer.”
Die klein bootjies en groot skepe van die “pandemie-see” . . . >
Wanneer daar ’n krisis is, is hulle daar. Keer op keer in die geskiedenis kon ons op die ikone, baanbrekers, rebelle en sterre staatmaak. Ook in die huidige pandemie. Liani Jansen van Rensburg het enkele verhale gaan opspoor
Agt dekades ná die Wonderwerk van Duinkerken, te midde van die Covid-19-pandemie, het ’n veteraan van die oorlog besluit hy wil ’n verskil maak: Kapt. Tom Moore wou voor sy 100ste verjaardag £1 000 (sowat R20 000) insamel vir Brittanje se nasionale gesondheidsdiens, die NHS. Geklee in sy militêre baadjie met sy ry medaljes, “gewapen” met net sy loopring, het hy om en om die tuin by sy huis op die dorpie Marston Moretaine begin stap. Binne ’n oogwink was sy storie op elke koerantvoorblad en nuuskanaal. Op sy 100ste verjaardag
24 dae later is £33 miljoen ingesamel. Die wêreld het saam gevier: Hy het meer as 150 000 verjaardagkaartjies ontvang, daar was twee militêre verbyvlugte oor sy huis, hy is tot erekolonel bevorder, en die Britse premier, Boris Johnson, het ’n spesiale boodskap van gelukwense vir hom opgeneem. Later het koningin Elizabeth hom persoonlik tot ridder geslaan. Toe kapt. sir Tom Moore op 2 Februarie vanjaar aan die coronavirus beswyk, het medelye van reg oor die wêreld ingestroom.
Hy was nie ál veteraan wat tydens die pandemie ’n verskil gemaak het nie.
Byna elke oggend klim die Bosniese werktuigkundige Miralem Sabic Mika (57) in sy klein trokkie en ry die 61 km vanaf sy tuisdorp, Konjic, tot in die hoofstad, Sarajewo, om suurstoftenks vol te maak. Daarna ry hy terug en dra die suurstoftenks een vir een die trappe op tot op die boonste vloer van ’n vervalle Covid-19-kliniek. Die dorp het hom Suurstofman gedoop. “Mika is ons held. Hy daag altyd op as ons hulp nodig het, al is dit nie sy werk nie,” het ’n dokter by die kliniek, Mirza Gacanin, einde 2020 aan die nuusagentskap Reuters vertel. Ondanks skrapnel wat in sy longe vassit weens ’n wond wat hy tydens die Bosniese Burgeroorlog (19921996) opgedoen het, maak hy ook tyd om pasiënte na die X-straal-afdeling op die onderste vloer te dra.
Volgens dr. Jess Auerbach, senior lektor in sosiale antropologie aan die NoordwesUniversiteit (NWU) op Potchefstroom, hunker die mens om na ander uit te reik in tye van nood. Soos nou met die pandemie. “Goedheid, medelye en vriendelikheid is oral te sien . . . of dit nou groot dade is of net klein gebare. Gemeenskappe het mekaar ontmoet, uitgereik en gehelp. Sosiale brûe is gebou.”
Dr. Auerbach en haar studente het verlede jaar meer as 2 000 sulke stories versamel, wat hulle later vanjaar in ’n boek, Archive of Kindness: The Other Side of the South African Pandemic, wil deel. “Mense wou gee, ’n verskil maak. Een storie? ’n Gastehuis in die Karoo het tydens die inperking sy deure vir weerlose bejaardes oopgemaak. Gratis kos, slaapplek en geselskap verskaf. Hierdie gebaar het ’n enorme en blywende impak op die oumense gehad. Dit het hulle deurgedra.”