Marita van der Vyver skryf ‘outydse’ brief vir almal
Wat begin het as ’n persoonlike brief aan haar Franse dogter, het vir haar ’n soort verantwoording van haar verlede geword, een wat sy net in haar hartstaal, Afrikaans, kon skryf
“As ’n ma oor haar eie lewe ’n brief aan haar dogter skryf, moet sy dit in die taal van haar hart doen. So eenvoudig soos dit.”
Só sê Marita van der Vyver oor ’n Baie lang brief aan my dogter, wat sy in Afrikaans aan haar Franse dogter, Mia, geskryf het. Dié memoires oor haar jeugjare wou sy nie in Engels of Frans, die tale van haar verstand, skryf nie, verduidelik sy. Dis ’n outydse brief uit haar hart en daarvoor moes sy haar moedertaal inspan. Toe sy boonop begin skryf, het sy besef die mededelings is nie net vir haar dogter bedoel nie; dis ook vir die mense van haar geboorteland, almal wat Afrikaans magtig is.
Marita se “briefskrywery” kom al ’n lang pad. Sy het immers haar hele wraakroman, Dis koue kos, skat, tong in die kies in briefvorm geskryf. “In baie van my boeke speel minstens een of twee briewe ’n rol. In Die blou van onthou is daar briewe tussen ’n ouma en haar kleindogter en in Grensgeval draai die hele storie om ’n brief wat in Kuba afgelewer moet word. Vir my was dit amper vanselfsprekend as ek met my dogter wil praat, maar ook wyer, dan is ’n brief iets tussen die verskriklike rou privaatheid van ’n dagboekstem en die meer formele geredigeerde boekstem wat vir duisende mense bedoel is. ’n Briefstem is die naaste wat ek as skrywer aan ’n praatstem kan kom.”
Haar terugblik is meesleurend en sy skyn vanuit ’n persoonlike perspektief ’n lig op die gebeure en mense wat haar lewe help vorm het. En ja, beaam sy, dis ook vir haar ’n manier om sin van haar eie verlede te maak. SARIE-boekeredakteur Phyllis Green het met Marita van der Vyver gepraat oor haar nuwe boek, (Tafelberg, R330).
Waarom ’n brief aan jou dogter in boekvorm publiseer?
Toe ek begin dink het om die brief aan my dogter te skryf, het ek besef daar’s baie dinge wat ek eintlik vir meer mense as my dogter wil sê. ’n Verantwoording doen aan die volgende geslag; elke geslag lewe in ’n ander wêreld as die vorige een. Selfs al maak jy jou kinders in Suid-Afrika groot, dis nie dieselfde Suid-Afrika waarin jy grootgeword het nie. Jóú Suid-Afrika is die Suid-Afrika van die verlede. My kind word letterlik in ’n ander land, ’n ander taal en in ander kulturele omstandighede groot. Ek dink elke geslag is dit aan die volgende geslag verskuldig om die verlede te verduidelik. Dis net as ons die verlede begin verstaan dat ons met ’n bietjie meer vertroue vorentoe kan stap.
In die brief praat jy oor jou jeugdrome, en hoe nie alles waar geword het nie. Is jy spyt oor dinge wat nie uitgewerk het nie?
Daar’s baie dinge wat nie uitgewerk het soos ek gedroom het nie. Maar wat help dit jy slaan op jou bors. Ons moet die beste maak van wat ons wel het. Terwyl ek geskryf het, was ek oor en oor dankbaar vir die stukkies drome wat op skewe maniere waar geword het.
Jy is ’n bekroonde skrywer wie se werk wyd gelees word. Tog skryf jy jy is “’n onseker ervare skrywer”. Waarom voel jy so oor jou skryfwerk?
Dit is iets waaroor ek nie meer vrae vra nie. Ek probeer deesdae my onsekerheid net benut om beter te skryf. As jy té seker van jouself raak as skrywer, kan dit gevaarlik wees, want mense wat baie seker is van enigiets in die lewe, is eintlik wat my betref dom of verwaand of narsisties of wat ook al. Vir my is onsekerheid eerder iets waarna ek strewe. Soms kan dit verlammend raak. Jy moet die balans handhaaf, en soos ’n koorddanser op daai tou kan stap tussen onsekerheid wat jou heeltemal onkapabel maak, en ’n gesonde onsekerheid wat jou laat strewe om beter te doen. Jy gaan nooit tevrede wees met wat jy gedoen het nie, maar ek klou aan daai gesonde onsekerheid vas.
’n Baie lang brief aan my dogter
Die boek gaan hoofsaaklik oor jou jeugjare. Kan ons na ’n volgende aflewering oor jou later jare uitsien?
Ek lag, want almal wat die boek voor publikasie gelees het, het dit gevra. Dis vleiend om dit te hoor, maar ek kan eerlikwaar nie die vraag beantwoord nie. Ek sal moet sien of ek dapper genoeg is. Dít sê ek nie ligtelik nie. Dit het geweldige dapperheid geverg om dié een te skryf. Dis vir my moeiliker as fiksie, want ek kan nie wegkruip agter vals name of wat ook al nie. Ek skryf oor mense na aan my en oor mense wat nog lewe en dis baie moeilik.
Sluit gerus by “Marita van der Vyver – official group” op Facebook aan. Van einde Maart af plaas die skrywer elke paar dae persoonlike foto’s van mense en plekke waaroor sy in die boek skryf.