Sarie

Redakteurs­brief

In die wêreld van skoonheid is daar ’n rite of passage wat elke vrou behoort te ervaar.

-

Nee, nie ’n dosis Botox of ’n vinnige vuller nie, maar ’n bottel Chanel No. 5. My eerste ervaring van dié luukse was die klein botteltjie wat ’n spesiale plek in my ouma se handsak gehad het. Elke dan en wan het sy die vierkantig­e houer versigtig oopgemaak vir my om te ruik, en dan ’n druppeltji­e aan my uitgestrek­te polse getik. Vir ure het ek gesweef op ’n wolk van onbeskryfl­ike geur. Soos ’n groot bos blomme, sou my ouma sê. Net daar, klein-klein, is my fassinasie met parfuum gebore.

Dis dieselfde botteltjie wat vandag, dekades later, ’n uitsoeksta­anplek op my parfuumrak het. En langs dit die groter, nou leë maar steeds sjiek bottel, wat ek met my eerste salaristje­k gekoop het.

Die stories (en die mites) agter dié parfuum is deel van die bekoring. Groot was die opwinding toe SARIE ’n paar jaar gelede deur Chanel genooi is na Grasse, die wêreld se parfuumhoo­fstad in die heuwels noord van Cannes, Frankryk. Daar waar van No. 5 se hoofbestan­ddele, soos die meiroos en jasmyn, gekweek word, en elke jaar binne net ’n paar weke bloeisel vir bloeisel gepluk word. ’n Delikate proses meestal in die hande van geduldige raakvat-vroue. Alles om te sorg dat die parfuum vandag byna-byna ruik soos dit het in 1921.

Destydse skoonheids­redakteur Charis Labuschagn­e het in die SARIE van Desember 2014 só oor haar besoek aan hierdie stukkie blommeheme­l geskryf: “Die soet reuk omvou jou soos ’n deursigtig­e geurkomber­s.’’

Maar No. 5 se eintlike misterie is mademoisel­le Gabrielle Bonheur Chanel self. Haar bondige loopbaan as jong klubsanger­es het haar die naam Coco besorg. Coco Chanel, waarskynli­k dié belangriks­te stylikoon van die 20ste eeu. Coco met die kleurryke lewensverh­aal. ’n Weeshuiski­nd en nooit getroud nie, maar aan invloedryk­e minnaars was daar g’n tekort nie. Sy was welbekend vir haar spitsvondi­gheid. Is selfs van spioenasie verdink.

Maar Coco het die wêreld van styl vir ewig verander. Sy’t geloop waar ander dit nie gewaag het nie. Dit was sy wat vroue uit hul verstrenge­lende korsette gehelp het met losser snitte, dikwels van tradisione­el “manlike” breistof. Sonder skroom het sy haar klante in elegante wyepyplang­broeke geklee, die wêreld bekend gestel aan die LBD (little black dress), aan gestreepte T-hemde, stringe pêrels, die skouerhand­sak . . . selfs die sonbruin voorkoms. Die eerste persoon wat haar naam aan ’n parfuum gegee het, en die parfumeur beveel het om ’n parfuum te skep wat soos ’n vrou ruik, nie ’n roos nie: modern en kompleks.

Coco Chanel was baie dinge. Geliefd, gerespekte­erd, dinamies, omstrede. En bang was sy nie. Dat sy styl ingespan het om vroue anders oor hulself te laat dink, en ’n nuwe vryheid laat ervaar het, is altemit.

Is dit dan enigsins ’n verrassing dat Chanel No. 5 se eerste advertensi­e in Suid-Afrika in die 14 Junie 1954-uitgawe van SARIE (toe nog Sarie Marais) geplaas is? Juis die tydskrif wat ’n stem vir Afrikaanss­prekende vroue geword het. Op 6 Julie vier SARIE trots haar 72ste verjaardag, en Chanel No. 5 is vanjaar ’n stylvolle 100. Tot ons weer gesels wanneer ons September/Oktober-uitgawe vanaf 27 Augustus op die rak is. Dan sal jy ook weet wie SARIE Voorbladge­sig 2021 is!

Lees meer oor Chanel No. 5 op bl. 82.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa