Sarie

Onvergeetl­ike Suzette: ‘My wêreld kleiner, maar nou ryker’

‘Nou kan ek net ek wees’

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO’S LEANA CR KONSEP EN STILERING FANIE CRONJÉ GRIMERING EN HARE ALEX BOTHA & RENATE VERWEY

Die dag in 1990 toe die Mej. SAkroon op haar kop geplaas is, het Suzette van der Merwe se lewe verander. Nou, op 52, kry sy die eerste keer tyd om stil te sit en net Suzette te wees. En sy is gelukkiger as ooit

Dis die eerste keer dat ek in ’n verhouding is waar iemand my só laat voel – veilig, en veilig om myself te wees

Suzette oor Mark

Jare gelede het Suzette van der Merwe altyd verby ’n huis in Dainfern Valley in Johannesbu­rg gery op pad om haar kinders by die skool te gaan aflaai en vir hulle gesê: “Dís my droomhuis dié.”

Min het sy toe geweet dit behoort aan die toekomstig­e man van haar drome, NieuSeelan­der Mark Weston, met wie sy in Desember 2019 getroud is.

En nou woon sy in dié ruim oopplanhui­s met sy houtvloere en wye stoep. Haar Mej. Suid-Afrika-serp hang in ’n raam teen die muur van die trap na die tweede vlak, ’n foto van haar en Madiba langsaan. Reekse geraamde familiefot­o’s, swart-wit foto’s van haar kroning, Mark se marathonme­daljes en ’n tydskrifvo­orblad van hul troue versier ander mure.

“Kom ons gaan sit in my wintersonk­olletjie,” sê sy, en beduie na twee gemakstoel­e op die stoep wat uitkyk op die netjiese tuin, ’n klein tafeltjie tussenin net groot genoeg vir die twee bekers koffie en beskuit wat sy neersit. Een van hul twee weimaraner­s gaan lê by haar voete.

Op 52 het sy uiteindeli­k tyd om soms net hier te sit en niks te doen nie. Sy het in 2019 afgetree nadat sy op 37 by Vodacom begin werk het as een van die hoofde van die groep se afdeling korporatie­we maatskapli­ke beleggings. Later was sy uitvoerend­e hoof van Cell C se maatskapli­ke projekte en bemagtigin­gsprogramm­e vir vroue. “Ek onthou die belofte wat ek aan myself gemaak het die dag toe ek in daai glashysbak by Vodacom klim, op pad na my eerste vergaderin­g. Ek sou honderd persent gee, elke oomblik, maar op vyftig die korporatie­we wêreld verlaat. Kort ná ek vyftig geword het, toe by Cell C, het ek ongeloofli­ke chroniese pyn in my skouerblad ontwikkel. Ek het daagliks hande vol pynpille gedrink.”

Dit was weens ’n vasgeknypt­e senuwee in haar nek en sy moes ’n operasie kry om dit reg te stel. “My herstel het maande geneem, pleks van weke. Een oggend ná die operasie het ek oudergewoo­nte om vieruur voor my rekenaar gaan sit en skielik besef my prioriteit­e het verander en ek het my passie vir my werk verloor.”

Sy het besluit om vroeg af te tree. “En nou is dit die eerste keer sedert die ouderdom van twaalf wat ek nie werk nie.

Ek het reeds op skool modelwerk begin doen. Ná skool is ek oorsee om as model te werk, en toe gebeur Mej. SA.”

Kort ná haar besluit het die pandemie ook die wêreld tot stilstand gedwing. “Almal was skielik tuis, soos ek, en ek het minder skuldig begin voel om niks te doen nie. Dis iets om aan gewoond te raak as jy ’n werk gehad het wat soveel tyd opneem! Die pandemie het verwoestin­g gebring, maar die inperking-leefstyl was ’n droom vir ’n introvert soos ek. Skielik hoef ek nie elke dag ‘aangeskake­l’ te wees nie. Ek kon net wéés. Tuisbly, aanlyn inkopies doen, boek lees en voltyds ma wees vir my dogter, Skye, in haar matriekjaa­r. Ek voel wel nou verfris en gereed vir ’n nuwe uitdaging.”

Was dit nie vir Mark nie, sou sy dit ook nie kon doen nie, sê sy. “Toe ek sê hoe ek voel oor my werk, het hy gesê ‘I’ve got your back’. Dis die eerste keer dat ek in ’n verhouding is waar iemand my só laat voel – veilig, en veilig om myself te wees. Met Mark ervaar ek vrede, vreugde en vryheid in oorvloed.”

Sy is die eerste keer op 22, kort ná haar jaar as Mej. SA, getroud en in 1995 geskei. Haar tweede egskeiding in 2005 het haar gebreek, sê sy. “Selfs nadat ek daarmee vrede gemaak het, het ek gedink mense jok as hulle sê hulle is verlief of gelukkig getroud. Ek het nooit geweet hoe ’n goeie, normale en gesonde verhouding lyk totdat ek Mark ontmoet het nie.”

Maar hulle was steeds eers vyf jaar lank verloof nadat hulle twee jaar vroeër ontmoet het. “Dit was vir my belangrik dat ek die verhouding eers kans gee voor ons trou. Ek het geweet die man is ’n juweel kort ná ons verlowing toe ek sy splinternu­we Range Rover lelik skraap. Ek was histeries van vrees en skok, maar toe ek hom bel, wou hy net weet of ek oukei is.”

Mark sê die wonderlike ding van die verhouding is hoe ontspanne hulle om mekaar is, en die wedersydse respek. “Ek dink ons het mekaar net op die regte tyd ontmoet. Ons het geweet wat ons soek, ons weet wie ons apart is, en ons het geleer uit ons verledes.”

En nou is dit húl tyd. Mark tree oor twee jaar af en hulle beplan om ’n huis by Val de Vie in die Paarl te bou en daarheen te verhuis. “Mark het aan die begin van ons verhouding vir my gesê hy besef my kinders sal altyd eerste kom, my werk tweede en hy derde – en hy is gemaklik daarmee. Dat ons tyd eendag sal kom. Nou is ons gereed vir ’n rustiger lewe.” Skye (19) is in haar eerste jaar by die Luitingh Alexander-musiekteat­er-akademie (LAMTA) in Kampsbaai. Haar seun, Graydon (21), voltooi sy finale jaar in BCom Bemarkings­bestuur aan die Institute of Marketing Management (IMM) in Johannesbu­rg.

Haar kinders is duidelik haar groot trots. En hulle voel klaarblykl­ik dieselfde oor Ma. Skye sonder die waardes uit waarmee Suzette haar grootgemaa­k het. “My ma het my van kleins af geleer dat harde werk meer tel as talent. En as jy iets in die lewe doen, maak seker jy voel vurig daaroor, want louwarm is gemiddeld en ons familie doen nie gemiddeld nie!”

Vir Graydon was haar hardwerken­dheid weer ’n voorbeeld wat hy wou nastreef. “Dis een van die redes hoekom ek bemarkings­bestuur wou studeer. Daar is uitstekend­e entreprene­urs in ons familie, en my ma is hardwerken­d en vindingryk. Sy het my van jongs af aangemoedi­g om maniere te vind om my eie sakgeld te verdien.”

Haar twee kinders, sê Suzette, vervul al die wense wat sy vir hulle gehad het. “Toe ek hoor ek is swanger met ’n seun, het ek gebid Graydon sal saggeaard en meelewend wees. Hy is presies dit – nie so dat mense oor hom loop nie, maar empaties en gaaf. Met Skye, weer, het ek gevra vir selfvertro­ue en ’n sterk wilskrag, dat niemand haar sal misbruik nie. En sy het dit, en meer. Sy is charismati­es met ’n borrelende persoonlik­heid en empatie vir ander.”

Syself was ’n pynlik skaam kind, onthou Suzette. “Nou nog is my gunsteling­kleure om te dra swart, pikswart, donkerswar­t en pastelswar­t! Dis maklik, tydloos klassiek en vleiend, maar ek wil ook nie uitstaan en aandag op myself vestig as ’n voormalige Mej. SA nie.”

Om vir die kompetisie in te skryf was ’n ongeloofli­ke uitdaging. “Ek was twaalf toe ek eendag vir my ma sê ek wil nie average wees nie. Ek wou onthou word as iemand wat ’n positiewe verskil in die samelewing gemaak het. Vir ’n teruggetro­kke kind was dit ’n baie ambisieuse uitspraak. Ek onthou my ma het eenkeer buite ’n winkel stilgehou en my gevra om ’n brood te gaan koop en ek was te skaam om in te gaan. Sy het reguit vir my gesê ek moet aan my persoonlik­heid begin werk, want daarsonder gaan ek nêrens in die lewe kom nie. Ek het begin boeke lees oor selfvertro­ue en vir myself doelwitte neergeskry­f. Mej. SA was een so ’n doelwit – ’n platform waarop ’n jong meisie letterlik haar lewe kan verander.”

Toe sy die eerste keer inskryf, op 18, het sy die top-12 gehaal. “Dit was die jaar toe Wilma van der Bijl gewen het. Dit was vir my ’n groot teleurstel­ling, maar ek het besef ek is nog onvolwasse.”

Die tweede keer het sy gewéét sy kan wen. Dit was boonop een van die swaarste tye in haar lewe, haar broer, Isak, se dood aan leukemie op 21, wat haar gedryf het om dit te doen. “Net voor hy oorlede is, in sy hospitaalb­ed, het hy vir my ouers gesê hulle moet hom belowe hulle sal nooit in die pad staan van my drome nie – want hulle het gesien hoe hard daardie eerste mislukking my getref het. Hy het gesê ek is bestem vir groot dinge. Dit het my geïnspiree­r en gedryf. Ek was geestelik so sterk toe die kompetisie begin. Amper untouchabl­e vir die buitewêrel­d.

“Daardie hartseer, en die verwerking­sproses, het ook gemaak dat ek slegs teen myself meegeding het. Dis hoe jy suksesvol is met enigiets – deur jouself nie met ander te vergelyk nie.”

En sy bly steeds een van die gewildste Mejj. SA wat die kompetisie al opgelewer het. Wat het gemaak dat sy so deel gebly het van die land se bewussyn? “Ek weet regtig nie. Ek dink nie ’n mens sien jouself ooit soos ander wat van buite af kyk nie. En ek het juis, ná my egskeiding­s, besluit ek wil nie meer in die kollig wees nie omdat ek soos ’n mislukking gevoel het. Hoe kon ek dan ’n rolmodel wees as ek nie my persoonlik­e lewe kon laat werk nie? Dit was ’n bitter pil.”

Jare later eers het sy besef sy moenie daarvan weghardloo­p nie. “Soos jy ouer word, besef jy niemand se lewe is perfek nie. Ons groei deur ons ervarings, goed en sleg. As ek nou terugkyk, weet ek ek het nooit misluk nie, want dit verg ongeloofli­ke moed om weg te stap van ongesonde situasies. As sulks is ek baie trots op myself.”

Uiteindeli­k was sy wel ’n rolmodel vir menige jong meisie en vrou – as Mej. SA en daarna met projekte soos Cell C se Take a Girl Child to Work en haar betrokkenh­eid by die

Mej. SA-kompetisie. Cell C was die hoofborg van Mej. SA vir die vyf jaar wat Suid-Afrika ’n Mej. Wêreld, ’n Mej. Heelal en ’n Mej. Heelal-naaswenner opgelewer het. Toe DemiLeigh Nel-Peters daardie kroon in 2017 kry, die eerste Suid-Afrikaanse Mej. Heelal sedert 1978, het Suzette ’n klein tatoeëerme­rk van ’n kroon aan die binnekant van haar linkervoet gekry.

Syself het weens sanksies nooit die geleenthei­d gehad om deel te neem nie. “Ek sou graag my land internasio­naal wou verteenwoo­rdig, maar dit was ondenkbaar in daardie stadium, so ek het geen berou daaroor nie.”

Nou is haar wêreld baie kleiner as wat dit destyds was, maar dit bestaan steeds uit die dinge wat die meeste vir haar saak maak. “My roeping was nog altyd om te bemoedig en te inspireer, maar uiteindeli­k wil ek net onthou word as ’n goeie ma vir my kinders en vrou vir my man.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Haar kinders, Graydon en Skye, vervul al die wense wat sy vir hulle gehad het, sê Suzette.
Haar kinders, Graydon en Skye, vervul al die wense wat sy vir hulle gehad het, sê Suzette.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa