Proe met al jou sintuie
Pizza is nie verniet die wêreld se gunstelingkos nie. Buiten die umami-bom wat bars as tamatie, kaas en salami op ’n lekker warm plek ontmoet, hoort die tekstuur van gesmelte kaas iewers tussen kafeïen en kokaïen op die lys van verslawingsmiddels. Voeg daarby ’n krakerige kors, die visuele genot van ’n geel-en-rooi tapisserie en Pavarotti oor die luidspreker, en jy’t die resep vir sensoriese genot. Ons vermoë om te proe en persepsie van smaak betrek ál ons sintuie, skryf Bianca du Plessis Malan
Ons eet met ons oë, sê hulle, maar ek verkies om my neus te volg. Baie mooi en visueel-stimulerende kos kan soms teleurstel, maar ’n fantastiese aroma lei jou selde na ’n brak brousel. Of jy dit weet of nie, skep al jou sintuie voortdurend verwagtinge van geur en smaak. Dit begin by verpakking, etikette en bemarking, en sluit ook aanwysers in wat inherent tot die produk is. Elke aroma en klank prikkel ’n smaakgeheue, en daarmee saam ’n verwagting.
Reuk, hetsy heerlik of haglik, is smaak se grootste kameraad. Dit is ’n feit dat ons smaak- en reuksintuig verweef is en saamwerk om ’n geurprofiel te vestig. Sou jy jou reuksintuig verloor – wat nou gereeld die geval is met Covid-19 – drentel smaak soos ’n verlore kind in ’n winkelsentrum rond. Aroma is ook ’n kragtige anker vir geheue en nostalgie. Geen wonder Opperman se nooi was in ’n nartjie, sy ouma in kaneel, iemand in anys, en ’n vrou in elke geur. Ek vind my ma altyd in die gerusstellende geur van lam wat stadig in die oond gerooster word.
Die impak van reuk werk alkant toe. Doerian, ’n tropiese vrug, proe heerlik, maar die reuk gee mense die horries. Die stank is só erg dat die vrug in verskeie gebiede van Japan, Thailand en Hongkong verbode is.