Sarie

Riana en haar ‘dapper’ horlosie

- RIANA SCHEEPERS

Sy begin naarstigli­k soek. Sy keer die huis om. Sy kyk onder die yskas en die stoof. Niks. Sy soek in die vullisblik en die wasgoed. Haar bekommerni­s word ’n droefnis sonder einde, want daar is geen teken van haar ring nie. Sy weeklaag soos ’n vrou wat haar belangriks­te sieraad, die pand van haar liefde, verloor het.

Groot simpatie het ek met my vriendin, want ook ek ken daardie afgryslike, doodse gevoel van verlies. Die oomblik wanneer jy besef dat jy iets verloor het wat van ontsaglike waarde is. En nie noodwendig geldwaarde nie.

Jou ring, die simbool van die liefde tussen jou en jou geliefde. Al is die diamantjie die kleinste sterretjie in die heelal.

Soos die Bybelse vrou en haar eenvoudige penning.

En toe kom die telefoonop­roep. Nog voordat ek hoor wat sy sê, hoor ek aan haar lag wat gebeur het. Die jubeling van ’n vrou wat sê: Wees gelukkig saam met my, want ek het my ring gekry!

Drie verpesteli­ke dae van angs met ’n stofsuier wat in elke duistere hoekie van haar huis ingedruk is, en sowaar, daar lê die ring tussen die gemors van die stofsuier se sak. Onwaardig, maar skitterend in sy skoonheid. (En ’n huis wat nog nooit só skoon was nie.)

Ek juig saam met haar, want ook ek ken daardie gevoel van oorstelpen­de vreugde as jy terugkry wat jy verloor het. Die Bybelse vrou en haar teruggevon­de penning.

Die dag toe ek my man ontmoet, sien ek dat hy ’n uitsonderl­ike horlosie dra. Nie een van daardie robuuste konstruksi­es waarmee jy maan toe kan navigeer nie, maar ’n onopvallen­de, elegante horlosie. Dié horlosie, sê hy, het hy al meer as twintig jaar.

Dit is ’n pragtige horlosie, een wat ék sou wou dra as horlosie én juweelstuk.

Op ’n dag, sy hande doenig in die parskelder, kom hy agter dat sy horlosie weg is. Hy begin soek. En hy sit almal wat ’n geldjie wil verdien aan om saam te soek, die beloning is groot. Die kans om die horlosie te kry is minder as die spreekwoor­delike naald in ’n hooimied, want dit is parstyd in die Boland. Dit is nie kruiwaens nie, dit is vragmotors wat die berge druiwedop en -stingels wegry en anderkant die perdekamp gaan gooi. Almal soek, maar my man se pragtige horlosie is wég.

Tot op ’n dag. Vyf jaar later. My tuinier wat ’n kruiwa kompos agter die perdekamp gaan skep, kom terug. Met die horlosie. En ’n groot glimlag, want die beloning moet mos nog staan?

Ons staan verstom, ons lag, ons praat en beduie, hoe is dit móóntlik!

Ek vat die horlosie, wat vyf jaar lank in die aarde gelê het, na ’n juwelier wat dit só staan en kyk. En niks belowe nie. Maar ná ’n paar weke laat hy my weet: Kom haal die horlosie, dis reg.

Ek gaan haal dit, blinknuut met sy nuwe glas en battery. Die wysers beweeg soepel oor die minute en die ure.

Ek vra die juwelier om die band effe kleiner te maak. Dit word my horlosie, want my man het intussen vir hom ’n ander een aangeskaf. Een van daardie robuuste konstruksi­es waarmee hy maan toe kan navigeer.

My horlosie is die mooiste, dapperste horlosie ter wêreld.

Maar miskien is die lekkerste storie van terugkry, dit wat met ’n ander vriendin gebeur het. Sy en haar man besoek ’n groot winkelsent­rum. Toe hulle terugkom, is hul motor weg. Nie weg nie, gesteel. Hulle is hartseer en woedend.

’n Week later is hulle met ’n ander motor by die dieretuin. En daar, kan jy dit glo, staan hul motor. Met ’n ander registrasi­enommer, maar dit het dieselfde skrapie aan die linkerkant.

Wag, sê die vrou en grawe die motor se spaarsleut­el uit haar handsak. Die motor sluit gewillig oop. Haar man klim in en ry huis toe.

Dis eers later, toe hulle die motor deeglik skoonmaak, dat hulle dit kry. ’n Plastieksa­k met amper vyftigduis­end rand se kontant onder die voorste sitplek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa