Sarie

IN DIE STEEK GELAAT

-

#MeToo . . . Dit het my ook geraak. Maar dit was nie ek nie. Dit was my kind. Soos soveel ander slagoffers van seksuele misdrywe het sy dit 20 jaar saamgedra.

Nie omdat sy wou nie, maar omdat sy in die steek gelaat is. Deur die een persoon vir wie sy vertrou het om haar by te staan, om haar te help om geregtighe­id te kry vir die onreg wat haar aangedoen is.

Vir jou, Lara*, vir jou het sy vertrou.

Ek het op 31 Desember 2020 uitgevind wat met haar gebeur het. Twintig jaar later, maar haar stukkende siel het dit laat voel asof dit gister gebeur het.

Waarom sy my nooit in haar vertroue geneem het nie? Want die een mens wat sy wel vertrou het, het vir haar gesê: “It’s not worth it, jy moes geskree het.”

Sy het nie geskree nie, maar sy hét gesê: “Asseblief, moenie, hou op, asseblief, moenie”, en al wat hy gesê het, was: “Moenie worry nie, dis amper verby.” Haar woorde, “Mamma, daar was soveel bloed”, sal my altyd bybly. En jy, ’n aanklaer, haar vertroueli­ng na wie sy opgekyk het, het haar laat voel dit was haar eie skuld. Sy het vir jare in skaamte geleef.

Ek weet nie hoe en waar, indien ooit, ek die pyn wat ek vandag ervaar, sal verwerk nie. Deur die genade van God is my pragtige dogter ’n toonbeeld van ’n Koningskin­d en weet sy vandag dat sy nie iets verkeerds gedoen het nie. Dalk, deur haar voorbeeld en deur genade, sal ek ook kan vergewe. Vergifnis vir die onbeskryfl­ike pyn wat jou ondeurdagt­e optrede my kind veroorsaak het.

In die fliek Foster Boy sê Jamal aan sy advokaat: “We are going to lose, but it’s okay, you fought for me” – en dis presies wat van ons as aanklaers verwag word.

Ons as aanklaers word vertrou om op te staan vir dié wat nie vir hulself kan opstaan nie. Om te veg, al is dit nie altyd maklik nie en al verloor ons soms die stryd. Want dit gaan oor geregtighe­id. Nie om die maklike uitweg te kies nie.

Om vir iemand te sê

“dis nie die moeite werd nie”, is om te sê “jy is nie die moeite werd nie, jou storie ook nie”.

Ek skryf nie vanaand uit ’n plek van bitterheid nie, maar onbeskryfl­ike pyn weens die onreg wat jy my kind aangedoen het.

A*, Kaapstad * Skuilname is gebruik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa