Soniese SPYSENIERING
Wanneer dit by klank en kos kom, neig ons om eerder aan atmosferiese klank te dink. Die agtergrondmusiek of -geraas wat ’n ervaring kan beïnvloed. Roomysvervaardiger HäagenDazs het selfs ’n app ontwerp om roomyshouers te skandeer sodat verbruikers na ’n vioolconcerto kan luister terwyl hulle wag vir die roomys om te versag.
Die Britse 3-ster-Michelinsjef Heston Blumenthal het die wêreld van haute cuisine in 1997 behoorlik op hol gehad toe hy seekos bedien het met ’n versteekte iPod en oorfone wat seeklanke gespeel het. Die gedagte is dat seekos varser, méér na die see sou proe wanneer dit met seeklanke geniet word. Sedertdien het wetenskaplikes bewys dat Heston se gereg nie net ’n fênsie foefie was nie. Soniese spyseniering het ’n “ding” geword en jy kan sommer tuis daarmee eksperimenteer. Sit ’n blokkie sjokolade in jou mond terwyl jy na lae-frekwensieklanke luister. Laer klanke bring bitter smake na vore. Probeer dit weer met ’n hoë-frekwensie-klank en ervaar hoe die sjokolade se soetheid op die tong blom. Dis dieselfde sjokolade, maar jou persepsie verander na gelang van die klank. Al misluk die eksperiment, het jy ten minste ’n goeie verskoning om sjokolade te eet terwyl jy na Adele se “Hello” luister (een van die gewildste hoë-frekwensie-liedjies).
Volume is ’n sensitiewe saak. Ek hou niks van harde musiek of geraas terwyl ek eet nie. Mense kou tot 30% vinniger wanneer hoë-tempo-musiek gespeel word. Drankies word ook vinniger bestel en gedrink, so dit maak sin in kroeë en kitskosrestaurante. Met rustige musiek kan die rekening tot 25% hoër wees, soos klante ontspan en meer wyn of nagereg bestel.