MondGEVOEL
Tekstuur is ’n groot deal-breaker en die vernaamste rede hoekom baie mense nie wil afval eet nie. Vars oesters, slakke, murg, papaja, mango en piesang – om net ’n paar te noem – sorg gereeld vir tekstuur-trauma. Aan die positiewe kant, goeie kokke verstaan hoe kontrasterende en kompleterende teksture saamspeel om partytjie in jou mond te hou.
“Sjoe, tekstuur is so belangrik en noodsaaklik,” beaam Mynhardt. “Die tekstuur van romerige, botteragtige hoenderlewerpatee op growwe, warm, pangebraaide brood is vir my net onbeskryflik lekker. Of die smaak van ’n grofgekapte kwepersambal saam met geroosterde lamsvleis. Gesmelte kaas is natuurlik bo-aan my tekstuurlys,” sê hy van dié globale treffer. Volgens Mynhardt sukkel hy met die tekstuur van melkkos en is ’n piesang ook vir hom uitdagend.
Stert tot snoet is goed, maar soms het ek ’n probleem met die stukkies tussenin. As kind was ek mal oor tong, al het ek eintlik agter die soetsuur mosterd aan geëet. Tot een dag, toe die grein van die beestong teen dié van my eie tong geskuur het. Papille teen papille. Die gril was groot en ek wou nie weer tong eet nie. Jare later stap ek en my ma deur die supermark en ek gewaar ’n massiewe beestong, nog met die vel aan. Die dik, amper harige papille agter op die beestong het my onmiddellik herinner aan die grillerige intimiteit van daai tongaan-tong-ervaring. En net daar begin ek droog-hygend dubbelsluk om te keer dat my middagete op die vloer beland. My ma, ’n Karookind, het net haar oë gerol en aangestap.
Soos smaakvoorkeure met verloop van tyd verander, beweeg ons tekstuurnukke en -grille ook aan. Ek eet nou weer tong, maar net as daar baie soetmosterd is. En ek eet hom vinnig, want ek is nie regtig lus om weer tong te skuur met ’n bees nie.