Sarie

ELKE ASEMTEUG ’N STUK GENADE

- Lynette Strydom, Gqeberha (Port Elizabeth)

Vier jaar gelede stap ek saam met my vriendin by onkologie uit ná haar laaste behandelin­g. Dit was ’n lang maar tog geseënde jaar. My oë het oopgegaan deur net die pad langs haar te loop.

Ek het probeer om in haar spore te stap, maar dis te swaar. Ek het mense ontmoet met hoop in hul hart, maar ook dood in hul oë. ’n Mens stap nie daar uit sonder om anders na die lewe te kyk nie. En hoop om nooit weer dié pad te stap nie.

Vrydag sien ek hoe sy haar bejaarde ouers groet om die isolasiety­dperk in te gaan. Ma en dogter wat mekaar vasdruk en oë wat ’n hele verhaal vertel. En weer eens die besef dat ’n ma haar kinders op haar hart dra tot die dag dat sy haar oë finaal toemaak. ’n Lang operasie volg wat ons almal ombid.

Die hospitaalo­proep stel my gerus dat als goed verloop het en dat sy wakker is.

Later in die middag ontvang ek haar eerste boodskap. So vol humor om ons almal te herinner aan ons kla met die witbrood onder die arm. In die geelhoutsa­al is sy een van die geelhoute met die voorreg van ’n bed teen die venster. En ’n nuwe uitkyk op die lewe. Maar tog is dit haar aanhaling wat my onkant vang. “Speak to me, oh toothless one.” Vir haar word dit net “boobless”.

Ons jaag so deur die lewe dat ons nie altyd ander se pyn om ons raaksien nie. Sê ons ooit dankie vir die voorreg vir elke nuwe dag wat ons kan leef? En gesond is.

Geniet die gawe van lewe, want elke asemteug is ’n groot stuk genade.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa