Sarie

ANGS VANG SY BAAS

-

Toe die wêreld nog gedink het dat Corona net ’n “flashy” bier is, het ek ook gedink angs is ’n hoogs onnodige emosie. Maar die slimmes was reg en slim vang sy baas. Op pad terug ná ’n onwettige seevakansi­e het ek besef dat ek nie die gemmer in my gemmerdran­kie kan proe nie. Ek wou nog die mooi van ons skone Karoo geniet, toe stry my gedagtes teen die negatiewe proe-insident. Sekondes later laat Sussa weet dat sy positief getoets het. Al die tekens en antwoorde het gelyk opgedaag.

Steeds het ek nie veel gedink van die pandemie-gogga nie. In alle eerlikheid, my ergste kwaal was die feit dat ek my kombuisneu­s verloor het. Reuk. Dis die klein dinge in die lewe. Isolasie saam met ’n babaseuntj­ie was nie net legkaart bou en rus nie. Ek wil byvoeg: Ouerskap en isolasie kan nie in een sin staan nie! Ek kort my dorpie, my stam en mense. Ek glo ook diep as jy isolasie “smaak”, is daar waaragtig ’n bietjie iets fout met jou. Ons het so gou as moontlik soveel as moontlik normaal terug in ons lewe ingenooi.

Dis hier waar die gogga begin pla het. ’n Regte paniekaanv­al het my ore skoongewas. Luister ’n slag en raak vir my rustig, is makliker gesê as gedaan as jou harttempo baljaar. Ek vra dus om verskoning aan al die angs in my lewe waaraan ek nie die nodige aandag gegee het nie. Angs is nie iets wat jy net moet los nie. Die pandemie-gogga het sy merk gemaak en baie van ons is genadiglik gespaar. Die bitter duur les bly my by, want ja, wel, angs vang ook sy baas.

Kari-Mari Erasmus, Pretoria

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa