ROOI PERDEBY
“Jy moet in jou spoor trap!” het ouers, onderwysers en predikante mens kleintyd vermaan, sou jy dit durf waag om buite die grense van sosiale wette te beweeg. En moet jy in ’n hoek gaan sit met ’n domkop-pet op jou kop, het dit gevoel of jy êrens vergeet is op ’n verlate “siding”. Maar daar was altyd treine wat jou kon wegvoer op ongekarteerde paaie van die verbeelding. Treine in die vorm van boeke, goeie onderwysers, en laaste, maar nie die minste nie – ondervinding en verbeelding.
Hierdie trein, die Rooi Perdeby, het my laat ry na my Engelse onderwyser in matriek. Ek verbeel my sy hare was rooi. Die ander onderwysers het vanaf perronne vir my gewaai en gesê, “Ry maar boetie. Jou trein is ’n trein na nêrens.”
Nie my Engelse meneer nie.
LOCHNER DE KOCK
“Stop at every station, my boy. Observe where you are, learn everything, then ride to the next station. You are the passenger of your own destination.”
En so reis ons op die spore van kennis en insig van soveel reisigers voor ons. Boeke.
Die boeke is stemme van mense deur die eeue heen wat met ons praat. Hulle sal nooit sê ons moet in ons spore trap nie. Hulle woorde is die spore waarop ons seker van hart mag reis, en wat hulle vertel is die wiele waarop ons treine reis, en telkens is daar ’n nuwe perron, ’n nuwe stasie en ’n breë ervaring buite die swaaideure van vele wagkamers.
Op elke stasie van die lewe wag daar ervarings: wonders, kennis, liefde, swaarkry, wyn, kos, vriende en nuwe insigte.
En die Rooi Perdeby kom skop nes agter jou oë, en hy sê, “Kom trap saam met my op die spoor. Daar lê nog vele reise voor . . .”
En so kon ek kleintyd met Pa reis uit die Noorde Kaap toe na Oupa en Ouma in Die Strand. Kosmandjie met koue frikkadelle, toebroodjies en kookeiers wat als na poep laat ruik. Stywe lakens, kondukteurs wat ghongs slaan, klikke-klakke. En Pa wat klein botteltjies Coke gaan koop in die “saloon-wa”, en elke keer meer “vriendelik” terugkom.
Daarna Sondagaande se trein terug koshuis toe waar gortsop en rottangs op jou wag. Minder lekker. En dan die trein na Grootfontein met Angola wat op jou wag met die oorlog wat ná vyftig jaar nog spoortrap agter jou oë.
En nou, vele stasies en spore later, bly jy tog nog lief vir die Rooi Perdeby wat jou steeds stasies van môre laat sien.