Sarie

GROOT GARIEP

- MARIDA FITZPATRIC­K

My pa het die boot derdehands of vierdehand­s gekoop. Self het hy geen erg aan water, watersport of visvang gehad nie. Om die waarheid te sê, die enigste soort water buiten badwater waarin my pa ooit sy voete gesit het, was die heel warmste van al die onderdaksw­embaddens by Badplaas – die een wat gevoel het asof hy jou lyf soos ’n hoender gaan gaar kook. Dis ook al wanneer ons my pa ooit sonder ’n hemp gesien het, in daai vuurspuwen­de lawapoel. Die res van die tyd, winter en somer deur, was Pa in ’n langbroek, ’n toeknoophe­mp en ’n Fedora-hoed met ’n veer in.

Maartoekry­mypa’nseunwatso lief is vir water soos ’n labrador. Teen die tyd dat my broer op hoërskool was, het my pa toe maar ingegee en ’n blerrie boot gekoop. So sit ons toe elke naweek af na Leeupandam – ek, my broer en my ma in ons swembroeke en my pa in sy langbroek, toeknoophe­mp en Hush Puppies.

Wanneer die boot dan met ’n enorme gesukkel van die sleepwa af te water gelaat moes word, het my pa sy Hush Puppies en sokkies uitgetrek en sy langbroek so hoog as wat hy kon oor sy bene opgerol, maar steeds het die pype altyd nat geword.

Dan het ons almal in die boot gespring en met die gedreun van die motor oor Leeupandam gevaar. Dit het na petrol en mos geruik waar ek heel agter gesit het en daar was altyd ’n bietjie water op die bodem wat modderig oor my kaal voete teen die kante van die boot geklots het.

Wanneer ek of my broer geski het, het my pa met sy hand styf om die rathefboom altyd met groot genoegdoen­ing verklaar hy gaan nou “oopmaak”. Dan het die boot haar agterstewe diep in die water gedruk, die motor het gebrul en die neus het skerp die lug in gesteek. Dan het my ma altyd vorentoe gedraai en met toe oë en ’n oop mond in die wind gelag.

Ná die tyd sou Pa vir ons skilpadjie­s of pofadderwo­rs braai en Ma sou kaasbroodj­ies uit die bottelmand­jie haal en vir ons soet, melkerige koffie uit die bruin fles skink.

“Onthou Pa nog vir Leeupandam?” vra ek waar ek en my ma hom in Mothwa Haven se Frail Care besoek. My ma sit ’n ent van hom af weg, maar sy hou sy hand vas en hul arms maak ’n hangbrug tussen haar stoel en sy rolstoel.

Hy het ’n los kortbroek en T-hemp aan wat my broer vir hom gekoop het nadat die verpleegst­ers vir “gemakliker klere vir oupa” gevra het. Sy hare is kort en happerig geknip, sy bene en arms beendun.

“Leeu-pan-dam,” herhaal my pa, lettergree­p vir lettergree­p. Sy oë, wasig agter spinnerakk­e, soek-soek-soek deur sy gedagtes. Hy lig sy hand, asof hy amper die antwoord het, asof hy daaraan kan raak, en dan bly sy hand net so in die lug hang en hy fluister, soos ’n leidraad: “Leeupandam, Leeupandam, Leeupandam.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa