Sarie

Vir die liefde van . . . Drie vroue maak naam in die wynwêreld

Sterk, kompleks, ambisieus. Vrouewynma­kers het spesiale eienskappe wat van hul produkte wenners maak. Hulle gee ook nie om om moue op te rol in dié voorheen manlike domein nie

- DEUR RIETTE RUST

Mans oorheers nie meer die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. Die afgelope sowat twintig jaar tree al hoe meer vroue na vore, en vandag maak hulle nagenoeg 50% van wingerdbou-en-wynkundest­udente uit. Vroue in die wynbedryf skrik nie vir lang ure, pype rondsleep, wingerde snoei, of selfs vurkhyser bestuur nie. Sommige klim sommer self in die tenk of vat en maak skoon. Die gehalte van die wyn wat hulle maak, is ’n bewys van hul bydrae tot die wynbedryf, sê André Morgenthal, bestuurder van die Old Vine Project en medebestuu­rder van Agulhas Wine. Hy is al 25 jaar in die bedryf.

“In ons bedryf beteken die woord ‘vroulik’ sterk, kompleks en oortuigend. Vroue is tans nog in die minderheid, maar is mededingen­d en ambisieus,” sê hy.

Die vrouewynma­kers met wie SARIE gepraat het, sê hulle gee baie aandag aan detail. “Mans is meer go-with-the-flow. Ons benadering is ook sag en empaties.”

Of jy jonk of oud is, jou ras, en of jy ’n man of vrou is, tel nie. Harde werk, kennis, innovering en ’n goeie proevermoë wel.

Vroue moes eers respek verdien, maar hulle het bewys hulle kán. Nou is hulle ’n gerekende span. >

Sy was net agt toe sy aan haar oom, Dieter Cronjé, se voete gesit en luister het na stories oor wynmaak en wynproe. “Dit het so lekker geklink, ’n deur het vir my oopgegaan,” sê Danielle (28).

Nou maak sy Boschendal se

Méthode Cap Classique-wyn (MCC is vanjaar 50!) en verlede jaar is sy as Vrouewynma­ker van die Jaar aangewys.

Danielle is ’n Kapenaar. Nes haar oom, het sy wyn op Elsenburg, Stellenbos­ch, studeer, en ’n BAgric behaal. Daarna het sy by ’n boetiekkel­der wyn gemaak en ook die plaas bestuur.

Maar toe betower Cap Classique haar. “Dit gaan oor die sensasie in jou mond, die sagtheid van die borrels wat konstant boontoe moet sweef in jou glas.”

Cap Classique is soortgelyk aan champagne, sy Franse eweknie, en word ook van chardonnay en pinot noir gemaak. Al twee vonkelwyne ondergaan ’n tweede gisting in die bottel, verduideli­k Danielle.

“Die maakproses leer jou geduld. Vandat die druiwe gepluk is, duur dit ’n minimum van twee en ’n half jaar.” Sy is van die wingerd tot by die bottelerin­g betrokke.

Dis ’n uitdaging dat Cap Classique nie ’n resep het nie, vertel sy. “Daar ís stappe wat jy volgens die bepaalde styl moet volg, maar jy’t ook jou eie aksieplan. Wanneer daar byvoorbeel­d ’n storm is, moet jy jou planne kan verander.”

’n Hoogtepunt is die uiteindeli­ke oopmaak van die bottel. “Dis fantasties wanneer die suur-suikerbala­ns net reg is en al die komponente bymekaarko­m.”

Danielle se reis deur die Champagne-streek in Frankryk was nóg ’n hoogtepunt. “Sjampanje is deel van hul kultuur. Die borrel hou die hele dorp aan die gang.”

Sy reken ons Cap Classique kan kers vashou by die Franse wyn. “Sjampanje is ‘pragtig’, maar die Suid-Afrikaanse wyn het iets unieks: ’n diepte van vrug en kompleksit­eit. Dit kos ook minder.”

Pieter Ferreira en Pierre de Klerk van Graham Beck Wines het haar baie van vonkelwynm­aak geleer. Maar twee vroue, Elunda Basson en Lizelle Gerber, was ewe kardinaal, vertel sy.

Skeptiese manlike wynmakers pla haar nie. “Vroue maak al twintig jaar lank wyn. Wynmaak is nie geslags-, ras- of ouderdomsp­esifiek nie, solank jy net goeie druiwe gebruik, kennis het, toegewyd is, detail belangrik is en jy goed kan proe. Moenie die ‘pakkie’ beoordeel nie.” Intussen bestuur sy in parstyd sowat dertig mense.

Wynmakers moet alles kan doen, glo sy. Sy het selfs ’n vurkhyserl­isensie.

Danielle skryf ook graag en het al tweede geëindig in ’n kompetisie vir jong wynskrywer­s. Sy studeer tans

BCom en is ook “’n crazy horse chick” wie se eie “jong perdjie” King Arthur’s Classique heet.

Nou wil sy meer betrokke raak by die vestiging van Cap Classique as ’n internasio­nale styl. “En wanneer mense van Cap Classique praat, moet Boschendal die eerste naam op hul lippe en palet wees.”

Cap Classique is meer as net ’n Nuwejaarsw­yn, sê sy. “Ons moet die lewe daarmee vier en op ’n doodgewone aand die prop laat skiet.”

Dit gaan oor die sensasie in jou mond, die sagtheid van die borrels

Danielle Coetsee, Méthode Cap Classique-wynmaker van Boschendal, Franschhoe­k

Met sonsopkoms in parstyd staan sy en haar span eers stil in die wingerd en is net dankbaar, vertel Rosa (60). “Die lig val uit ’n sekere hoek, die natuur se kleure is sag, die wind waai liggies oor ons wange en die uitsig is lieflik.”

Rosa is een van net ’n handjievol Suid-Afrikaanse wingerdbes­tuurders. Sy help vestig nuwe wingerde, maar het ook die Old Vine Project, wat ou wingerde bewaar, gestig.

“’n Ou wingerd is ’n biblioteek van kennis,” sê sy. Sommige het selfs die Eerste Wêreldoorl­og oorleef.

Soos die wingerdsto­kke, het Rosa ’n historiese erfenis. Sy is ’n trotse agter-agterklein­kind van Paul Kruger. “Ek eer sy nagedagten­is.”

Ou wingerde kan ons baie leer, veral in hierdie tye van aardverhit­ting en genetiese manipulasi­e, glo Rosa. “Hulle het sonder enige hulp oorleef. Sommige is selfs benadeel of seergemaak.”

Rosa het ’n regsgraad en is ’n oudjoernal­is. Sy het nie wingerdbou studeer nie, maar die veld wel bestudeer deur vrae te vra. Met haar leierseien­skappe en lekker lag het sy een van die beste wingerdspa­nne opgebou. “Almal in die bedryf wil hulle hê. Vandag is hulle ekonomies onafhankli­k,” sê sy trots.

Dis nie sy wat besluit watter wingerde vir gehaltewyn sy waar wil vestig of hoe sy loofbestuu­r moet toepas nie, sê Rosa. “Die natuur besluit. Dit hang af van die ligging, die grond, die klimaat en ook die kultuur van die wingerdspa­n.”

Sy lei graag ander op en werk daaraan om ’n opleidings­entrum op die been te bring. “Daar is vroue oor sestig wat seisoen ná seisoen daagliks agt uur lank in die son staan en snoei, maar wanneer elkeen van ons verstaan hoekom ons sekere praktyke moet toepas, gee ons almal ons bes.”

Sy en haar spanlede lei mekaar op. Hulle het haar leer snoei. Nes Paul Kruger, is Rosa fisiek sterk. Wanneer sy snoeioplei­ding gee, sny sy eers self 20 tot 30 stokke. “Almal werk saam, dis hoe wedersydse respek ontstaan.”

Rosa was eers ’n appelboer op Elgin, maar het later met die ondersteun­ing van prof. Eben Archer, ’n ikoniese wingerdbou­kundige, druiwe aangeplant. “Dit was ’n groot oomblik toe ek die eerste wyn kon vashou.”

Deesdae reis sy tussen plase, bestuur wingerde en laat selfs fynbos op die kontoerwal­le aanplant “sodat bokkies, bye en muskeljaat­katte kan terugkeer”. Sy wil ook van chemiese middels in die wingerd af wegkom en volg die natuurlike benadering.

Rosa, self ’n plaaskind, woon op Riebeek-Wes en het onlangs “’n plasie” aan die voet van die Kasteelber­g gekoop. “Ek doen wat my hart vir my sê om te doen.”

Oor mans in die wynbedryf is sy “oblivious”. Aanvanklik het hulle haar “as enkellopen­de, fyngeboude vrou snaaks aangekyk”. Maar noudat sy plaaslik en oral in Europa wingerdbou­praktyke bestudeer en toegepas het, lang ure en gedetaille­erd werk, ’n wingerdpla­nt se instink verstaan en ’n passie vir haar werk het, het sy hul respek verdien. “Ek is trots daarop om ’n vrou te wees.”

Haar lewensleus­e is never stop walking. “Moenie gaan lê en toelaat dat die lewe eenvoudig oor jou spoel nie.” >

’n Ou wingerd is ’n biblioteek van kennis . . . veral in hierdie tye van aardverhit­ting

Rosa Kruger, wingerdbes­tuurder

Jamie het op die Kaapse Vlakte grootgewor­d. Op 29 is sy reeds die legendarie­se Nederburg se assistentw­itwynmaker en bestuur ’n kelderspan van meestal mans.

Sy het ’n BSc-graad in molekulêre biologie en biotegnolo­gie. “Mikroorgan­ismes en genetika fassineer my,” sê sy.

Jamie se enkelma, Lenore Fredericks, en haar ouma, Annie, het haar grootgemaa­k. Haar ma se raad “was die beste”: “Alles wat jy doen, het gevolge.

En hou by jou besluite.” Jamie voeg by: “Fokus op jou doelwitte, werk hard en druk deur struikelbl­okke.”

Ntsiki Biyela, “’n trendsette­r”, het haar geïnspiree­r. Ntsiki was die eerste swart vrouewynma­ker in die land en het Aslina Wines begin.

Voordat Jamie in Mei 2018 aangesluit het by Nederburg, was sy ’n laboratori­um-analitikus en het sy ook geleer hoe om wyn te maak.

Nadat sy in 2016 ’n paar wyne van dieselfde druifsoort, maar uit verskillen­de oesjare, in Kalifornië geproe het, het sy gesê this is it! Sy wou wyn maak.

“Die ontwikkeli­ng in die bottel het my bekoor. Ek het agtergekom hoeveel skoonheid daaragter sit.” Wyn verander voortduren­d. “Dis ’n lewende organisme wat asemhaal,” sê sy.

Jamie sou nooit op hoërskool kon droom van ’n loopbaan as wynmaker nie. “In my omgewing was daar baie alkoholmis­bruik, maar op universite­it șop Stellenbos­chț het ek verlief geraak op die positiewe sy van wyn.”

Om haar kelderspan se respek te kry “het nie oornag gebeur nie”. Maar noudat hulle haar kennis, passie en selfvertro­ue beleef, is dit ’n ander storie.

Jamie is gaande oor parstyd.

“Jy moet op jou tone wees. Daar is opwinding, adrenalien en die onverwagte. Ek sien uit na wat ek elke dag kan leer.”

Die ontwikkeli­ng in die bottel het my bekoor, die skoonheid daaragter

Jamie Williams, assistentw­itwynmaker van Nederburg, Paarl

Sy glo vrouewynma­kers is besonder noukeurig. “Jy het ’n strategie, die fokus is op detail. Veral agter spesiale witwyne. Mans is meer go-with-the-flow.”

’n Hoogtepunt vir haar is om oor die verhoog te stap met ’n goue medalje. “Dan weet jy jy’t kuns gemaak.” Nóg ’n hoogtepunt is om die gistende wyn in die tenk te proe, dit te versny, te botteleer en dan jou kliënte se waardering te sien, sê sy.

Jamie reken die bedryf transforme­er, “maar dis ’n stadige proses”. Sy wil graag self voorheen benadeelde mense betrek. Nie noodwendig as wynmakers nie, dalk by toerisme of die gasvryheid­sbedryf. “Só kan hulle ook die positiewe kant van wyn ontdek.”

Vir Jamie, net 1,6 meter lank, is pype sleep, houers skuif of tenks skoonmaak “nie moeilik nie”. Omdat sy so petite is, klim sy sommer binne-in die tenk of vat om dit skoon te maak.

Administra­sie daag haar uit. “En ook om my span te motiveer wanneer almal ná parstyd gedaan is en ons nog die wyn in die bottel moet kry.”

In haar vrye tyd gaan sy sowaar saam met vriende wyn proe. “Ek hou van sosiaal verkeer, ook met familieled­e.”

Jamie wil graag ’n organisasi­e sonder winsoogmer­k begin. En ook die vroue wat haar grootgemaa­k het, met haar eie wynetiket vereer.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO Die vrugbare Franschhoe­kvallei. FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES REGS BO Danielle Coetsee MIDDEL Rosa Kruger ONDER Jamie Williams FOTO’S VERSKAF
HOOFFOTO Die vrugbare Franschhoe­kvallei. FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES REGS BO Danielle Coetsee MIDDEL Rosa Kruger ONDER Jamie Williams FOTO’S VERSKAF
 ?? FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES ?? ONDER Die grasperk op Boschendal, gewild by piekniekga­ngers.
FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES ONDER Die grasperk op Boschendal, gewild by piekniekga­ngers.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES ?? ONDER Die Paarl se wingerde.
FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES ONDER Die Paarl se wingerde.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa