Redakteursbrief
Nie nadat dit verlede jaar weens Covid-19 uitgestel moes word nie, en ons vanjaar steeds ’n steil, onsekere pad met die pandemie loop.
Maar die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en Japan het voet by stuk gehou: Die 32ste Somer Olimpiese Spele gaan voort, “om hoop aan die wêreld te bring”.
Die aansteek van die Olimpiese fakkel deur tenniskampioen Naomi Osaka in die Tokio-stadion en daardie oranjerooi vlam wat hoorbaar bruis van lewe, het presies dit gedoen. Hoop gebring, vir iets beters as wat die wêreld nou het. Want hoe hartseer, hoe ongelooflik die prentjie van duisende gemaskerde atlete wat die stadion binnegestap en entoesiasties vir 68 000 byna leë sitplekke gekamma-waai het. Dit het ’n knop in jou keel gebring, net die wete dat hul oomblikke van glorie, die hoogtepunt van derduisende oefenure en ’n leeftyd van toewyding, grootliks in afsondering sou afspeel. In ’n bio-borrel om atlete en amptenare Covid-vry en die Tokio-Spele vir so lank as moontlik veilig te hou. Tog het hierdie eensame beeld ook triomf uitbasuin. Oorwinning vir die mensegees, vir vasbyt in die mees ongenaakbare omstandighede.
As vanjaar se Spele ’n liedjie was, was dit “Imagine”, het ’n IOK-amptenaar bygevoeg toe ’n handvol bekende sangers op die stadion se groot skerm met ’n weergawe van dié treffer verskyn. Onder die honderd mees opgevoerde liedjies van die 20ste eeu, volgens die musiektydskrif Rolling Stone. In 1971 deur die oudBeatle John Lennon geskryf, in ’n enkele sessie. Oor wat presies Lennon bedoel het met die liriek wat vra vir wêreldvrede, is al deur die jare heftig gestry. Maar medeoud-Beatle Ringo Starr glo dis bloot wat dit sê: imagine. Net dit. Dink dit, droom dit, verbeel dit. Durf om te hoop.
The Audacity of Hope, omskryf oudpres. Barack Obama van Amerika dit in sy boek met dieselfde titel.
Tatjana Schoenmaker van Pretoria het op 30 Julie Suid-Afrikaners vroegoggend laat asem ophou en uitbundig laat juig toe sy Olimpiese goud, ons enigste, in die swembad gewen het. Boonop met ’n wêreldrekord: die eerste vrou wat die
200 m-borsslag in onder 2 minute en 19 sekondes kon swem. Haar emosies kan ons ons skaars indink. Maar dít kan ons maar weet, deur al die jare van sonder ophou oefen, het sy gewaag om te hoop. Vir jare haar droom lewend gehou, haar die oomblik van oorwinning verbeel.
Bianca Buitendag, lank ons ster-branderplankryer van Victoriabaai naby Jeffreysbaai, was maar sewentiende gekeur vir die Spele, maar brander vir brander het sy die beste van die beste geklop en uiteindelik op die Tsoerigasaki-strand silwer vir Suid-Afrika verower. Hier het geslote strande as gevolg van die inperking haar oefenprogram voor die tyd omvergegooi; daar in Japan het ’n dreigende tifoon tydens die kompetisie die branders lelik omgekrap. Maar dit alles was nie genoeg om Bianca haar glorie te ontneem nie. Sy het oor daardie branders gesweef, sekerlik soos sy al vir jare durf hoop het. Haar dit in stil oomblikke ingedink het, en gedroom het.
Hoe sê die liedjie “Imagine”? “You may say I’m a dreamer; but I’m not the only one...”
Tot ons weer gesels wanneer ons volgende uitgawe vanaf 5 November op die rak is, met ons twee wenners, SARIE Voorbladgesig 2021 en SARIE Nuwe Gesig 2021, op die voorblad. Van groot droom gepraat!