Sarie

Akteur De Klerk Oelofse se wêreld vol verbeeldin­g

Vir akteur De Klerk Oelofse is daar niks lekkerder as om in ’n nuwe karakter se skoene in te klim nie. En as hy boonop so ’n bietjie bang is vir ’n rol, is hy in sy element

- DEUR SUZETTE TRUTER FOTO’S DANIE VAN RENSBURG

DDe Klerk Oelofse was so agt of nege jaar oud toe hy een van die dissipels in hul kerk se passiespel was. Tydens die repetisie was die juffrou nie tevrede met die opstanding­stoneel nie. “Julle moet darem méér reageer. Julle sien ’n man wat opstaan uit die dood.” Toe “Jesus” weer herrys, maak De Klerk asof hy flou val. Vandag gee De Klerk steeds sy alles vir ’n rol. Of dit nou is as die hakkelende speurder in Die Boekklub of die boer in Hotel wat so lekker bry, of ’n klein rolletjie iewers – hy gee hom ten volle oor aan die proses en die regisseur se visie. “Ek dink nie die juffrou het destyds mý proses so waardeer nie . . . as ek reg onthou, het hulle in ’n stadium selfs my woorde weggevat!” De Klerk, wat gewoonlik sku is vir onderhoude, is in ’n vrolike luim waar ons op ’n sonnige wintersdag by ’n straatkafe­e in Tamboerskl­oof gesels. Hy het pas ’n toneelrepe­tisie met ’n klompie akteursvri­ende agter die rug, sy eerste in meer as ’n jaar.

“My laaste verhoogopt­rede was in Maart 2020. Ek het geweet dit gaan lank wees voor dit weer gebeur, maar ek het nooit kon dink só lank nie. Ons almal het so ’n bietjie gerou. Vanoggend het ek besef wat ek die meeste gemis het. Om saam met ander te repeteer, daai legkaart aanmekaar te sit . . . Môre kom julle weer bymekaar en vat dit verder, skawe en verander. Ons werk aan ’n stuk om in mense se huise op te voer. Dis alles waarna ek gesmag het, al is dit op ’n baie klein skaal.”

Hy wil niks anders doen as toneelspee­l nie, al was hy vroeg vanjaar reg om op te hou. Daar was geen werk nie en sy projekte is aanmekaar uitgestel nadat die tweede Covid-vlaag die land getref het. “Net toe ek regtig begin gatvol raak, kry ek onverwags hierdie wonderlike prys.” Die kykNET Fiësta Sinjatuur – vir uitsonderl­ike prestasie in sy loopbaan – is in Maart aan hom toegeken.

“Dit kom in golwe, een oomblik is jy onder, die volgende oomblik is jy op die kruin. As jy hierdeur kom, is jy committed for life,” sê hy.

Die laaste paar maande is hy so aan die gang dat hy nog nie kans gehad het vir sy gewone postproduk­sie-ritueel nie. Hy neem altyd ’n dag of twee om afskeid te neem, “want met elke produksie raak jy deel van ’n klein familie”. Hy koop ’n paar plante, werskaf in sy tuintjie en kom tot verhaal . . .

< Dié keer moes hy eers opnames doen vir die kykNETverm­aakreeks Kyk wie praat, waar deelnemers moet raai watter sêgoed by watter kinders op die program pas. (Hy lyk vandag self so ’n bietjie soos ’n seuntjie in sy dungarees en strepies-Themp.) Die kinders het hy baie geniet. “Dis die genius van die program, daardie verfrissen­de onskuld en eerlikheid.”

Vir die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap, wat 31 Augustus op kykNET begin, is De Klerk Nieuwoudtv­ille toe. Dis gebaseer op die gelyknamig­e verhoogstu­k waarvoor hy, Albert Pretorius en Geon Nel in 2018 die Fiësta-toekenning vir beste ensemble gekry het.

De Klerk het al talle pryse gekry sedert daardie heel eerste een in 2009 as beste akteur van die Universite­it Stellenbos­ch se dramadepar­tement, maar al waardeer hy altyd die erkenning, bly sy hoogtepunt “elke nuwe karakter in wie se skoene ek kan klim”.

As die pittige aanbieder van Kyk wie praat lyk dit asof humor so natuurlik vir jou is. Is dit so?

Dit kom nie net natuurlik nie. Soms skiet ek wel uit die heup uit, maar ek het ook hard voorberei. Ek het sommer ’n hele arsenaal grappies in my kop opgebou – ek het al daai Lekker lawwe lagboeke se tipiese pa-grappies vir kinders gaan soek sodat ek iets het om op terug te val.

Maar jy laat glo almal lê van die lag op vriende se troues?

Daarvoor berei ek ook voor. Mense vra my so baie om seremoniem­eester te wees, maar dan het jy hierdie groot verantwoor­delikheid om van die aand iets besonders te maak. Ek het nou al begin nee sê, selfs vir my beste vriende. Ek wil dit graag doen omdat ek lief is vir hulle, maar dis nie vir my maklik nie. Dit plaas my onder geweldige druk en maak my erg angstig. Ek sukkel met angs.

Ek dink meeste van my angs kom van ander se verwagting­e, dis hoekom ek nie graag onderhoude doen nie. Ek is sku as mense my op straat raakloop. Hulle sien my op televisie en verwag dat ek op ’n spesifieke manier moet optree. Dan voel ek altyd ek moet “aan” wees.

Jy het al gesê jou grootste vrees is om gemiddeld te wees. Is dit hoekom jy dikwels moeilike rolle kies?

Ek hou van ’n uitdaging, jy moet so ’n bietjie bang wees om iets te doen. Dit laat jou net harder werk. En ’n mens wil reg aan ’n ding laat geskied. Dis ’n fyn lyn as jy byvoorbeel­d bry of hakkel, jy kan dit óf te ver vat óf nie ver genoeg nie. Daarom baseer ek dit altyd op iets wat ek ken. Dis eerliker.

Ek kyk nooit na die reekse waarin ek gespeel het nie, ek voel meestal ek skiet te kort. Ek dink altyd hoekom het ek dit nie eerder so of so gedoen nie?

Het jy dit geniet om aan Nêrens, Noord-Kaap te skiet?

Dit was ’n wonderlike ervaring. Op die verhoog was dit net ons verbeeldin­gswêreld, maar skielik was alles dáár, op die plaas.

Ek, Albert en Geon het die toneelstuk destyds saam met regisseur Nico Scheepers geskep. șDis die verhaal van drie broers wat ná jare terugkeer plaas toe vir hul pa se sestigste verjaardag.ț Hy het onderhoude met ons gevoer en daaruit ons monoloë geskryf. Daar was dinge wat ek hom vertel het wat hy șin die stukț ingewerk het, waarvan ek al vergeet het. Om dit in die werklike lewe te beleef was regtig spesiaal.

Bokant die deur van die kerkie op die plaas het Nico byvoorbeel­d die laaste woorde van die broers se oorlede ma laatverf... Ik bid dat de Heer je zegent en je voeten laat danzen. șEk bid dat die Here jou seën en jou voete laat dans.ț Ek het destyds vir Nico vertel toe my ma oorlede is, het my pa vir elk van ons vyf kinders ’n skildery laat maak, gebaseer op haar wense vir ons. Sy was teen die einde te swak om self vir ons briewe daaroor te skryf. My skildery is van ’n man met ’n kitaar en groot skoene, met eende wat om hom dans. Haar wens vir my was: Mag die lewensmusi­ek wat jy maak, altyd die mense om jou laat dans.

Destyds het die toneelstuk vol sale gelok, volwasse mans was in trane. Wat het mense so geraak?

Ek dink daar is ’n stewige knypie sentiment in. Ons is almal maar nostalgies. Nico het ook karakters geskep met wie jy jou kan vereenselw­ig. Baie mense sou ná die vertoning kom sê

“ek is daai een in ons gesin”, of “dis tipies my broer”.

In die stuk het mense lief geraak vir die drie broers; ek dink nie in die reeks gaan hulle soveel van die manlike hoofkarakt­ers hou nie. Hulle het foute, soos ons almal het. Ek en Frank Opperman, wat ons pa in die reeks speel, het konstant gestry oor wie die grootste drol in die reeks is!

Vertel ’n bietjie van jouself as kind – jou eerste rol was glo as Klein Duimpie?

Ek onthou eintlik net die kostuum wat my ma vir my gemaak het – ’n groen pofbroek met ’n pers baadjie. Ek was veral beïndruk met die groot gespe voor op my groen breërandpu­nthoed.

Ek het altyd krieket teen myself gespeel – dit was ’n performanc­e. Ek sou alles doen, lopies aanteken, soos

Jonty die balle agterna duik. Ná die wedstryd was ek die onderhoudv­oerder, die kaptein en natuurlik man of the match! My sussie was self met vertonings van haar eie besig. Sy wou ’n popster word en was so bang ek loer haar dansery af, sy het toiletpapi­er in haar kamerdeur se sleutelgat gedruk. My ander suster en broers was toe al uit die huis. My ouers was albei amateur-toneelspel­ers en het gereeld opvoerings gehou.

Aard jy na jou pa?

Ek wonder. Hy is ’n enigste kind, ek is die jongste van vyf. Hy het wel ook ’n massiewe verbeeldin­g, soos ek.

Ek wens ek kon lees soos my pa. Hy het omtrent sestig persent van die werke in die Afrikaanse afdeling van die PUK se biblioteek gelees. Hy werk nog af en toe vir die universite­it en doen sy doktorsgra­ad oor grondslagf­ase-onderwys.

Ná my ma se dood – ek was veertien, my sussie vyftien – was dit net ons drie. Ons het nie ’n TV gehad nie. My pa luister net radio. Hy het eintlik nog min van my TV-werk gesien, maar dis vir hom so lekker om my in radiodrama­s te hoor. Hy sal altyd sê hoe ek verbeter het, dat ek nou rêrig goed begin regkry. Hy praat die suiwerste Afrikaans.

Hoe lyk die toekoms van Afrikaans?

Toe ek en Albert so twee jaar terug in Europa getoer het, het ek in België en Nederland die oorsprong van daardie woorde gehoor wat altyd uit my pa se mond kom. Daar was iets baie moois daaraan. Ek praat ongelukkig glad nie so nie, maar ek glo nie dit doen afbreuk aan die taal nie. Dis wat die taal lewend gaan hou, as jy dit kan praat soos jy wil. Die toekoms van Afrikaans móét goed wees, mense skep daarin.

Met watter akteur sou jy graag wou saamwerk?

Marius Weyers. Ek hou daarvan om die dotjies te verbind. Dis seker iets sentimente­els in my. Hy het jare terug by my ouers op Klerksdorp gebly toe hy A Report to an Academy daar opgevoer het. Jare later het ek die eenmanvert­oning Na-aap gedoen, ’n Afrikaanse weergawe. Daar was nog dotjies deur my lewe . . . ek is op skool gekies as die ape Rafiki in Lion King en Abu in Aladdin. My sussie het my die naam Apie gegee; my ou koshuisvri­ende en van my vriende in die bedryf noem my steeds Apie.

Jy het al Babbelagti­g – ’n mimiekstuk met narre as fokus – as een van jou gunsteling­produksies uitgelig.

Ek het die idee gehad om dit te doen, maar geen idee hoe nie! Ons regisseur, Jenine Collocott, het narrekuns in Italië gestudeer, sy het so mooi met ons gewerk in die produksie, stap vir stap . . . Vir iets wat essensieel ’n komedie was, het ek nog nooit soveel mense in ’n repetisiel­okaal sien huil nie! Die Italianers glo jy het meer as een nar, jy moet hom gaan soek. Dis ’n intense proses. Veral een speletjie wat jou van alle lae stroop, het baie van ons geknak. Twee mense gee sewe minute lank – aanmekaar – vir jou opregte kompliment­e. Vir iemand soos ek was dit absolute hel.

Maar uiteindeli­k was die vertoning so maklik. Ek sou graag eendag na ’n narskool in Italië wou gaan.

Jy het ’n unieke klerestyl. Waar kom dit vandaan?

Sjo, ek weet nie, dis dalk steeds daai vashou aan kindwees wat die toon aangee. Ek hou van dungarees en onesies en kortbroeki­es asof ek as kind na ’n sportdag gaan. Ek probeer altyd soos die beste weergawe van myself aantrek, wat waarskynli­k ’n agt jaar oue De Klerk was.

Jy lyk so tuis in Tamboerskl­oof. Hoekom hier?

Ek woon al nege jaar hier, ek stap waar ek wil wees, baie van my vriende is naby. Kinders ry fiets en skaatsplan­k in die strate, die buurkinder­s kom vra altyd suurlemoen­e uit my tuin, en as ek weer sien, teken hulle bordkryt-pyle in die pad na hul limonade-stalletjie. Ek het verlede jaar as vrywillige­r in ’n kwekery naby my begin werk. Dis ’n lewendige, lekker buurt.

Onlangs het sekere uitgawes van Tintin, boeke van Dr. Seuss en selfs die animasiefl­iek The Aristocats die wind van voor gekry omdat dele daarin “onsensitie­f” is. Jou opinie?

Dis moeilik, hoe antwoord mens? My eerste respons is dat ek ’n probleem het met die idee om iets net te cancel. șMet verwysing na cancel culture.ț In ’n mate dra alles tog by, goed of sleg. As jy dit kanselleer, beteken dit daar is niks te leer daaruit nie. Dit kan tog nie wees nie. Ek verstaan byvoorbeel­d jy kan nie eintlik meer Mr. Bones kyk nie, maar ons kan nie maak asof dit nooit gebeur het nie.

Vir ’n kunstenaar of komediant is dit tricky, want wat mag jy nog doen en wat nie? Is dit oukei as ek ’n vrou wil speel? Ek is versot op die TV-reeks RuPaul’s Drag Race. Ek sal mal wees daaroor om dit te verken, om te kyk hoe ver ek ’n loopbaan in drag kan neem. Maar as jy kyk na die oorsprong . . . is dit reg om dit te doen as ek nie homoseksue­el is nie?

My ma se wens vir my was: Mag die lewensmusi­ek wat jy maak, altyd die mense om jou laat dans De Klerk

Die kunste het al baie krisisse oorleef. Is dié een anders?

Dit het reeds ernstige implikasie­s, maar ek dink as ons vasbyt, al is dit moeilik, gaan ons beter aan die ander kant uitkom. Die essensie van teater is daardie gedeelde ervaring. Mense is uitgehonge­r vir goeie teater, dit gaan weer ’n bloeitydpe­rk beleef. Altans, dit is wat ek myself vertel.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa