Twee ‘grendel’-besighede: Blink idee, baie styl
Al die ‘oe-la-la’ – teen ’n fraksie van die prys
Lente Swift en Margaux van den Berg van 2 Brunettes On a Budget
As alles volgens plan verloop, sit
Lente Swift en Margaux van den Berg eersdaags in hul nuwe “huisateljee” op ’n funky bank, koppie tee in die hand, met koperrelings waar rye en rye geordende jasse, rokke, bloese en serpe hang . . .
Tans lê die klere steeds heuphoogte in die Swift- en Van den Berghuishoudings. “Tussen en bo-oor alles, en so vinnig as wat ons dit verkoop, kry hulle kleintjies – niemand weet waar dit vandaan kom nie,” skerts Lente. Hul klante – eintlik hul volgelinge – kla nie. Die oomblik wanneer hulle iets plaas op hul Instagram-blad 2 Brunettes On a Budget (2BB), word dit opgeraap. Agter die skerms gaan dit dikwels dol as sold, sold, sold sekondes ná mekaar flits . . . en hulle hul storie moet ken om al die intriges te bestuur.
Hul leuse, All the “ooh la la” – on a budget, sê presies wat jy van 2BB kan verwag: Benewens die voorheen geliefde (previously loved) uitrustings wat splinternuut lyk, het hulle ook bekende handelsmerke en selfs ontwerpersitems soos dié van Lena Lisa teen afslagpryse.
Die twee vriendinne het nog altyd ’n passie gehad vir winskopies en om ongewone modevondste in wegsteekwinkeltjies uit te snuffel. Toe die grendeltyd verlede jaar die land tref en
al wat leef en beef begin kaste uitsorteer, het die sakke klere wat nuwe huise soek hulle aan die dink gesit.
Die ontstaan van hul “side hustle ”was ’n spontane, organiese proses. Lente was pas klaar met ’n manuskrip wat sy saam met Suzanne Smit en Juanli Theron geskryf het. (Meer as net ’n ma: Stories en raad uit die hart van die Naguilklub verskyn in November by Tafelberg.) En Margaux, mede-eienaar en geleentheidsbeplanner van Blank Canvas Event Design in Kaapstad, kon weens Covid-regulasies net beperkte geleenthede behartig. “Skielik het ons tyd gehad om kreatief te begin dink en ons passie in ’n realiteit te verander,” vertel Lente.
Daardie eerste grendeltyd-snuffelsessies was vir Margaux ’n hoogtepunt. “Ons het Kaapstad met ons maskers op ingevaar en heerlik gelag en connect. In die proses het ons wonderlike ontwerpersitems ontdek. Dit was ook ’n pluimpie dat stiliste hul items deur ons wou verkoop. Vandag het ons ’n handvol goeie verskaffers by wie ons gereeld inloer vir billike pryse.”
Hul klere is nie funky of vreemd of vintage nie. “Ons is eenvoudig nie cool genoeg daarvoor nie,” verduidelik Lente. Hul klante is die deursneevrou – mense soos hulle – eintlik enigiemand tussen 25 en 50 jaar oud wat hou van gehalte- luukse klere. En soms kom daar uit die bloute iemand wat glad nie by hul profiel inpas nie, raap hul enigste rok van GertJohan Coetzee op, en is weer weg.
Margaux en Lente modelleer self alle uitrustings. Aanvanklik het hulle jonger modelle gebruik om in al die kort en stywe items te paradeer, maar tot hul verbasing was die reaksie bra flou. Wanneer hulle egter self die items aantrek, het dit dadelik verkoop. “Ek skat kopers kan met ons identifiseer. Hulle dink as ’n 39-jarige ma van twee dit kan dra, kan hulle mos ook,” sê Lente.
Hulle het albei ’n passie vir volhoubaarheid, herwinning en bekostigbare items, maar Margaux is eintlik die fashionista van die twee, sê Lente. Vir haar was dit nogal ’n uitdaging om haar persoonlike styl ’n bietjie eenkant toe te skuif, erken Margaux. “Ek moes leer om te dink of ander mense daarvan sal hou, want nie almal geniet luiperdvel of ’n stukkie pels en dra met gemak iets over the top nie. Lente kan weer alledaagse drag soos jeans en tekkies met ’n mooi baadjie fantasties laat lyk.”
In die begin het dit dissipline geverg om nie alles wat hul oë sien vir hulself te hou nie – slegste sakeplan ooit. Nét een item per maand, is hul reël.
Hulle beskou hulself nie as modestiliste nie, maar kry groot plesier daaruit as klante wel hul raad vra – soos hoe om bestaande items in hul kas saam te gooi om iets nuuts te skep. Die wisselwerking is altyd lekker. >
< Van hul getroue volgelinge vra pront dat die twee asseblief net nie moet gewig aansit of verloor nie. “Hulle besluit of iets hulle gaan pas op grond van wie dit modelleer,” vertel Margaux.
Met almal wat deesdae die gordel stywer moet trek, is modes dikwels die eerste plek waar mense begin sny omdat dit ’n luukse is – nou kan hulle steeds ’n vars item bekostig. Niemand is skaam om te sê dis ’n tweedehandse kopie nie; inteendeel, hulle verkondig dit en voel positief daaroor dat hulle iets kan hergebruik. Onlangs het ’n klant wat ’n unieke rok uit Bali deur hulle verkoop het, by ’n babatee reg oorkant haar voormalige rok beland. Sy en die nuwe eienaar was ewe opgewonde daaroor.
2BB keur alles vooraf en is gesteld op gehalte, integriteit en reputasie. En om verkopers en kopers deeglik in te lig oor die proses. Dít het Lente in haar beroep as prokureur geleer – as jy van die begin af mense se verwagtinge bestuur, is daar geen konflik of ongelukkigheid nie. Margaux se vaardighede as geleentheidsbeplanner kom hulle weer goed te pas met die reëlings vir hul fotosessies en lekker opwipwinkels.
Ma-wees het Lente geleer dat vroue in staat is om baie meer te wees en te doen as net een ding. Vir Margaux, weer, om konstant kreatief en op jou tone te wees. Sy is ook goed georganiseer en uitstekend met administrasie. “Ek moet wees, anders gaan ons in klere swem.”
Albei se man is baie ondersteunend en geniet dit om hul vrou in hul element te sien. “Ek dink my man, James, droom oor ’n wêreld sonder klere . . . Oukei, as ek dit nou so stel, droom elke man seker oor so ’n wêreld,” skerts Lente. “So kom ons sê liewers, James en Ryan droom oor elke ding op sy plek en ruimte vir diep asemhaal.”
Die twee is opgewonde oor die res van die jaar wat voorlê, veral met hul spesiale vertrek in die Swifts se nuwe huis. Hulle kan die deur agter hulle toetrek, geen klere kan in die huis “rondloop of wegkruip” nie en hulle kan in vrede bou aan hul opwindende, innoverende besigheid.
Wanneer Jennifer Leigh Watkins ’n intieme ete hou – soms met vriende wat mekaar nog nie ontmoet het nie – is haar unieke tafeldekor dikwels die ysbreker. “Ek het ’n eklektiese versameling breekware, met enigiets van ’n vintage wynkraffie tot my oupa se veelkleurige Italiaanse espresso-koppies uit die sestigerjare . . . ek het nog nooit en wil ook nooit ’n volledig bypassende eetstel besit nie!”
Jen se passie vir alle style en haar vermoë om ’n besonderse prentjie op ’n etenstafel te skep (haar gunstelingdekoritem is haar Rialheim-kopbeen van ’n koei) het haar veral geïnspireer toe sy haar besigheid Host the Event begin het: Alles wat jy nodig het vir jou tafel – van die kerse en tafeldoek tot die breekware – word in ’n boks by jou voordeur afgelewer. Daar is vier temas om uit te kies.
Ná die tyd gaan alles net so terug met die koerierboks, ook die skottelgoed!
Jen het dié blink idee drie jaar gelede in Amerika raakgesien. Sedertdien het dit ook in die VK ’n groot trend geraak. Sy was dadelik mal daaroor. “Dit het in my agterkop bly maal. Ek het geweet ek wil dit eendag doen wanneer SuidAfrika reg is daarvoor – dis alles waaroor ek passievol is, omvat in een besigheid.”
Sy was nog altyd by ontwerp betrokke – sy het al vir internasionale en plaaslike kliënte stilering vir modes, advertensies en spesiale okkasies gedoen, is gekonsulteer oor handelsmerkontwerpe en het saam met kunstenaars en ontwerpers aan verskillende projekte gewerk. “Ek kom uit ’n baie kunstige familie. As daar ’n kreatiewe element
betrokke is, is ek by!”
Die grendeltyd was vir haar die “nou-of-nooit-oomblik” om haar droombesigheid te begin. Dit het haar genoeg tyd gegee om te beplan, verskillende eetstelle te laat maak en die vele logistieke uitdagings te takel. Dit het byvoorbeeld kopkrap gekos om ’n tafel se goed in ’n standaard-koerierboks te laat inpas – “dit was soos ’n legkaart wat aanmekaar verander”.
Sy fokus op intieme geleenthede – met breekware vir van vier tot twintig mense. Terselfdertyd wou sy sommer ook ’n platform vir Suid-Afrikaanse kunstenaars bied sodat mense wat dalk nog nie hul werk ken nie, dit leer ken. “Ons het wêreldklas-pottebakkers in Suid-Afrika, maar baie van hulle het meer kliënte in die buiteland as hier.”
Sy het saam met dié kunstenaars gewerk om ontwerpe te skep wat sou pas by die verskillende temas wat sy gevisualiseer het – almal deur interieurtendense geïnspireer. Sy het ook self plekmatjies en servette ontwerp en laat maak.
“Elke voorkoms is uniek, en dalk nie wat mense as tradisionele tafeldekor sal beskou nie, maar ek wou mense aanmoedig om ’n bietjie te waag met kleur en ontwerp.”
Die Quintessence-tema se vintage gevoel met sy olyfgroen Mervyn Gers-borde en rooskleurige aksente is veral gewild by tuisonthalers, terwyl persoonlike sjefs wat intieme opwipetes hou, graag eksperimenteer met haar “moderne en optimistiese” Futureware-tema se kragtige bloue, gele en salmpienk. Fired Earth lig weer haar
Styl vir jou tafel – in ’n boks
Jennifer Leigh Watkins van Host the Event
gemoed met kleure wat herinner aan ’n sonsondergang in Afrika.
Verbruikers is deesdae ook baie bewus van volhoubaarheid en wil weet waar produkte vandaan kom, sê Jen. En dis vir haar oo k belangrik – sy verkies handgemaakte keramiek vanweë die uitstekende gehalte, dit hou lank en is ordentlik verseël.
Haar koerierbokse is ontwerp deur ’n maatskappy wat vilt uit plastiekbottels maak. Elke viltboks word aan die binnekant versterk en beskerm met advertensieplakkate wat herwin is vir dié doel. Selfs die binneste verpakking word hergebruik om vermorsing uit te skakel, vertel sy.
Sy is skoon onkant betrap deur die positiewe reaksie op haar besigheid.
“Een kliënt het vir my gesê my tafeldekor het ’n heel nuwe atmosfeer geskep wat hulle glad nie verwag het nie. Ek is so bly, dis presies hoekom ek die ontwerpe gekies het!”
As die grendeltyd haar van een ding bewus gemaak het, is dit hoe belangrik die konneksie tussen vriende en familie is, die saamwees en kuier om ’n tafel.
“As jy nie gewoond is aan onthaal nie, kan dit dalk stresvol wees om alles van kos tot dekor te moet hanteer, veral as jy voel alles moet ’n weergawe van perfeksie wees – soos op sosiale media uitgebeeld. Tafeldekor moenie intimiderend wees nie, dit moet pret en ’n uitlaatklep wees. En as dit jou tafelgenote aan die praat kry, nog beter!”