Honger vir gesels . . . maar niks te sê?
Ons smag na geselskap, maar die pandemie het ons skugter gemaak vir ons naastes. Afstand, maskers en digitale mediums leen hulle nie juis tot behoorlike kommunikasie nie. Maar is dit net tydelik, of verleer ons hoe om met mekaar te praat?
Wanneer die inperkings ’n bietjie verslap word, jy weer jou kop uit jou huis steek en mense vir die eerste keer in hóé lank sien, is daar een vraag wat oor en oor gevra word: “Wat is nuut?”
En jy aarsel, want bitter min het die afgelope weke tussen vier mure tuis gebeur. Of het jy eintlik vergeet hoe om sosiaal te verkeer? Hoe om oor ditjies en datjies te gesels? Het jy dan verleer hoe om te kommunikeer?
Jy’s nie alleen nie, want baie mense sukkel nou met dié probleem, sê dr. Annemarike de Beer, ’n sielkundige van Synergy Psychological Services in Johannesburg. “Die pandemie het ’n verskeidenheid kommunikasieuitdagings veroorsaak. Mense, jonk en oud, voel afgesluit van mekaar – skoolkinders sien nie meer hul vriende tydens pouse nie, pensioenarisse kan nie by bure gaan koffie drink nie, dit voel asof spontane interaksie ontoelaatbaar geword het.
“Virtuele kommunikasie laat ons steeds toe om met mekaar te praat, maar dis nog nuut, baie anders as natuurlike kommunikasie, en vir sommige mense eintlik vreesaanjaend.
“En boonop het die pandemie ’n negatiewe uitwerking op baie mense se gemoedstoestand, met navorsing wat wys depressie en angs het toegeneem. Só ’n verandering in gemoed veroorsaak dikwels sosiale onttrekking, wat dan ook kommunikasie beïnvloed – vir die persoon wat onttrek en nie wil gesels nie, maar ook vir hul naastes wat met hulle probeer gesels.”
Hoekom sukkel ons nou so om te praat, wanneer ons juis so uitgehonger is vir geselskap?
FISIEKE UITDAGINGS
Lizette Volkwyn, ’n meesterlewensafrigter van Johannesburg, sê ons omstandighede beïnvloed beslis kommunikasie. “Slegs ’n klein persentasie van kommunikasie is verbaal – die res word oorgedra deur stemtoon, fisieke interaksie, liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en die blote gevoel wat ons kry wanneer ons by iemand staan.”
Met digitale kommunikasie soos Zoom- en Skype-oproepe gaan baie nuanses verlore. “Ons gesigsuitdrukking kan binne ’n 25ste van ’n sekonde verander, en wéér verander. Jy kan dit agterkom (al is dit in jou onderbewuste) wanneer jy in lewende lywe met iemand gesels, maar dit kan verlore gaan op ’n skerm, veral met swak beligting of ’n swak internetverbinding.”
Mense staan ook deesdae verder van mekaar af as voorheen en hul masker verskuil hul gesigsuitdrukking en demp klank. In 2014 het navorsers aan die Universiteit van Ottawa in Kanada in ’n studie gewys hoe belangrik die mond is om emosie uit te druk. Hulle het ’n reeks gesigsuitdrukkings afgeneem, die gesigte in drie gedeel en dan nét die onderste, middelste of boonste derde vir kinders gewys. Die kinders kon geluk, vrees, verbasing en woede die beste herken op die kaarte wat die mondarea gewys het, en walging rondom die neus-area. Dié uitdrukkings gaan dikwels verlore agter ’n masker.
EMOSIONELE STRYD
Dan is daar die emosionele uitdagings wat kommunikasie beïnvloed. “Die effek van isolasie is baie soortgelyk aan wanneer ’n vriend verhuis en julle mekaar nie meer sien nie,” sê Lizette. “Saam kon julle gemaklik oor enigiets klets, maar die afstand bemoeilik dit en veroorsaak later vervreemding. Later begin julle twyfel oor jul band – het julle tog so ’n belangrike rol in mekaar se lewe gespeel?”
Mense sukkel ook met selfvertroue en is dalk meer gespanne tydens sosiale interaksie, sê sy. “Ons vrees om siek te word, die verlies van mense om ons, die kommer oor afleggings en finansies is heeltyd in ons agterkop en dra by tot spanning wat ons selfvertroue beïnvloed. Ons onderdruk ook emosies as gevolg van die manier waarop ons moet kommunikeer – jy wil nie voor iemand huil nie, want hulle kan jou nie ’n drukkie gee nie; jy wys nie jou geluk uitbundig nie, want julle kan mekaar nie omhels nie.”
Digitale kommunikasie veroorsaak ook hier nuwe uitdagings. Die Virtual Human Interaction Lab aan die Universiteit van Stanford in die VSA het die effek van video-kommunikasieplatforms soos Zoom ondersoek en bevind dis fisiek, emosioneel en kognitief meer uitputtend as ander vorms van kommunikasie. Hulle gee vier redes: Jy moet stilsit, wat ongemak en dus uitputting vererger; jy maak baie meer oogkontak omdat jy net gesigte sien, wat emosioneel meer uitputtend is; jy is meer krities oor jouself omdat jy jouself heeltyd sien; en jy moet harder werk om mense te verstaan omdat daar minder nie-verbale kommunikasie is.
ONTHOU, DIS TYDELIK
Al dié invloede het verskillende gevolge: Sommige mense sukkel om small talk te maak, ander voel hulle het niks om oor te gesels nie, ander praat weer heeltemal te veel. “Elkeen reageer anders op traumatiese gebeure,” sê Lizette. “Elkeen het ook sy eie manier om inligting te verwerk: Sommige is visueel ingestel, ander eerder op gehoor, sommige fokus op feite en ander op gevoel. Dit kan ook jou kommunikasie beïnvloed – gevoelsmense sal dalk honger wees vir gesels en baie
< praat, feite-mense sal dalk weer makliker die omstandighede aanvaar, hulself isoleer en lyk asof hulle ophou kommunikeer het.”
Nie een manier is reg of verkeerd nie, dis bloot ’n hanteringsmeganisme. Wanneer omstandighede verander, pas jy weer aan en sal jou kommunikasiepatrone ook weer verander. Die mens is van nature ’n sosiale wese en daarom sal jy nie sommer verleer hoe om te kommunikeer nie, sê Lizette. “Ons het nie die vermoë verloor nie. Soos omstandighede verander, sal dit weer natuurliker en gemakliker voel.”
Maar dit gaan tyd neem. “Vir nou, en waarskynlik nog ’n hele ruk lank, gaan ons een stappie vorentoe neem en twee terug in ons kommunikasiegewoontes soos inperkings gelig en dan weer strenger word. Selfs wanneer inperkings heeltemal verby is, gaan die pandemie in ons agterkop bly en ons interaksie ’n ruk lank beïnvloed.”
MAAK SÓ OM BETER TE KOMMUNIKEER
Jy kan wel kommunikasie verbeter. Die belangrikste: Aanvaar dat die pandemie nog vir ’n geruime tyd deel van die lewe gaan wees en pas daarby aan, eerder as om “normaal” te probeer voortgaan, sê dr. De Beer.
Lizette stem saam. “Wees bewus van die uitdagings en probeer om jou nie te veel daaroor te bekommer nie. Die lang stiltes, die kortgeknipte gesprekke, jou ongemak én die ander persoon s’n het minder met jou of jul vriendskap te doen en meer met die omstandighede en hoe elkeen dit hanteer.”
Dr. Andri Burger, ook van Synergy, sê jy moet let op jou gedagtes en negatiewe denkpatrone stopsit. Sien die positiewe raak. As jy aanhoudend vir jouself sê Zoom is aaklig of maskers maak gesprekke onmoontlik, gaan dit so voel. Probeer eerder: Zoom is ’n reddingsboei wanneer ek tuis moet bly; maskers hou my en almal om my veilig. “En bly oopkop – as jy eers ’n paar keer gezoom het, word dit makliker!”
Maak jou gemoed nou ’n prioriteit, voeg sy by. “Stel ’n lys saam van dinge wat jou voorheen geluk verskaf het en vind nuwe maniere om dit te doen.
As jy dit geniet het om uit te eet, bestel ’n ete by ’n restaurant wat dit tuis aflewer. As jy die gim mis, volg oefenvideo’s tuis. Stap om die blok as jy nie die park kan besoek nie. Al hierdie gewoontes het ’n effek op jou gemoed, en hoe beter jou bui is, hoe minder uitdagend sal kommunikasie – en die lewe se alledaagse oppe en affe – voel.”
Probeer ook om nie kommunikasieprobleme persoonlik op te neem nie, sê Lizette. Jou vriendin het dalk nie onttrek nie, maar praat tydelik minder terwyl sy emosionele uitdagings verwerk. Jou baas is heel moontlik nie kwaad vir jou nie, maar ongemaklik om nuwe kommunikasiemediums te gebruik. Almal sukkel met verskillende uitdagings.
“Onthou, wanneer ons weer veiliger voel, vrylik kan rondbeweeg, tussen ons geliefdes kan wees en mekaar se glimlagte kan sien, sal hierdie probleme mettertyd verdwyn.”