Jaloesie se gevare
’n Tikkie jaloesie kan weer ’n vonk in jul verhouding sit. Maar dis ’n rooi lig as dit allesoorheersend raak
FOTO’S TER ILLUSTRASIE GETTY IMAGES/GALLO IMAGES
DDEUR SUZETTE TRUTER ie groenoog-monster het al baie verhoudings vernietig. Maar jaloesie is nie altyd sleg nie. Daardie vlietende onsekerheid of kommer herinner ons daaraan dat ons nie ons lewensmaat as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Dit kan weer nuwe lewe in die liefde sit . . . Ongesonde jaloesie, daarenteen, wyk nie en kan ontaard in impulsiewe, obsessiewe gedrag wat deur paranoia gevoed word. Dit kan later selfs tot fisieke, verbale en/of emosionele mishandeling lei, sê Anri van den Berg, spesialiswelweesberader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria-Oos.
In kort: Gesonde jaloesie bou ’n verhouding, ongesonde jaloesie breek dit af.
Anri en dr. Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige van Somerset-Wes, ontleed twee lesers se briewe hieroor.
Linda SE VERHAAL*
“Linda het lank met my broer Piet uitgegaan. Sy was sy ideale vrou – aantreklik en sportief. Maar sy was besitlik. In alle billikheid teenoor haar, hy wás huiwerig om te trou en dit kon haar onseker laat voel het. Sy sou hom dikwels soms grappenderwys voor almal beskuldig dat hy na ander vroue kyk of dat hy dink hulle is meer begeerlik. As hulle ernstig vassit, sou sy goed sê soos: ‘Gaan nou maar na Santie șsy buurvrou met wie hy goeie vriende wasț, ek weet dis wie jy eintlik wil hê.’
“Linda sou my gereeld vra of hy vir my iets gesê het oor Santie en of ek dink sy is mooi. Sy het pal op Instagram of Facebook gekyk saam met wie hy tyd deurbring. Toegegee, my broer is baie sosiaal en lief vir mense, maar hy het haar nie rede gegee om jaloers te wees nie. Dit was asof sy dit nie kon verhelp nie. As hy moes laat werk, sou sy dikwels by sy kantoor verbyry om te kyk of hy wel daar is. Een of twee keer was sy sekretaresse se motor daar – toe was sy vir ’n ruk onrustig oor háár. Tot dié verloof geraak het.
“Piet was mal oor Linda, maar sy het hom net te veel uitgevra oor ander vroue (soms met ’n ompad, ander kere reguit) of op vreemde tye gebel omdat sy ‘iets by hom vergeet’ het. In ’n stadium het hy die verhouding verbreek. ’n Ruk later het hulle weer probeer en selfs kortstondig verloof geraak. Totdat hy besef het hy het nie eens die vrymoedigheid om ’n vrouekollega se naam te noem nie, want hy wil Linda nie ontstel nie. Ironies het Piet toe wel daarna ’n verhouding met Santie aangeknoop. Dit was vir Linda ’n ‘bevestiging’ dat hy al die tyd wél op Santie verlief was.
“Linda se ouers is vroeg geskei, haar pa trek al by sy derde vrou, maar sy het ’n liefdevolle ma met geen hangups nie.”
ANRI VAN DEN BERG VERDUIDELIK:
Linda toon beslis tekens van ongesonde jaloesie. Geen mens weet wat in iemand anders se gedagtewêreld aangaan nie, maar sy beskuldig Piet daarvan dat hy dink ander vroue is mooier en soek bevestiging daarvan by die mense om haar. Sy kyk met ’n valkoog na sy sosiale media en soek verskonings om by sy huis of werk op te daag, met die verwagting om hom op heter daad te betrap. Later kon hy nie meer openhartig met haar kommunikeer nie.
Bygesê, Piet het ’n verantwoordelikheid gehad om Linda gemaklik en veilig te laat voel. Maak nie saak hoe plat ’n pannekoek is nie, dit het twee kante. Hy kon dalk wel oorvriendelik teenoor ander vroue opgetree het en dit kon bygedra het tot haar onsekerheid in die verhouding.
Die wortels van ongesonde jaloesie lê egter eintlik in ’n ander emosie: Vrees. ’n Mens wat ongesond jaloers is, het ’n diep vrees dat sy iets of iemand gaan verloor wat vir haar belangrik is. Dié vrees kan onder meer spruit uit ’n vorige trauma, waar sy verwerp is of ’n verlies gely het, of dit het dalk met iemand belangriks in haar lewe gebeur. Sy tree as’t ware uit selfbeskerming op.
Ons weet nie genoeg van Linda se vorige verhoudings (of die een met haar pa) nie, maar dit kan dalk ’n rol speel. As haar ouers geskei het weens ontrou, kan haar vrese moontlik ook hieruit spruit.
Die jammerte is dat Linda uiteindelik die werklikheid wat sy gevrees het, veroorsaak het – die sg. selfvervullingsprofesie. Hoe groter iemand se agterdog, woede, aantygings, konflik of pogings tot beheer, hoe meer onttrek haar maat hom – fisiek en emosioneel. En hoe meer die persoon onttrek, hoe groter die vrees en hoe meer raak die selfbeskermende gedrag.
Dit lei gewoonlik tot een van twee uiteindes: Die een aan die ontvangkant van die jaloesie probeer al hoe meer om nie die jaloerse persoon te ontstel nie, óf hy ontsnap en beëindig die verhouding. Soos Piet gedoen het. Of soms raak ’n persoon se hele doen en late gefokus daarop om nie die jaloerse maat rede tot agterdog te gee nie en daarom word hulle maklik kluisenaars, te bang om ’n voet verkeerd te sit.
Iemand wat jaloers is, kan nie haar lewensmaat vertrou nie. Óf weens vorige verhoudings en trauma óf weens iets wat in die verhouding gebeur het. As Linda byvoorbeeld per ongeluk op onvanpaste kommunikasie tussen Piet en Santie afgekom het, was haar wantroue geldig.
Ek twyfel of Piet en Linda se verhouding sonder objektiewe, kundige hulp sou kon werk – ongeag die oorsprong van haar jaloesie. Vertroue is een van die hoekstene van ’n gesonde verhouding en wanneer dit eers verbreek is, is dit ontsaglik moeilik om te herstel.
As Linda besef dat haar verhoudings herhaaldelik dieselfde patroon volg, moet sy dalk eerder aan haarself of haar keuse van lewensmaats werk.
Die wortels van ongesonde jaloesie lê in ’n ander emosie: Vrees . . . Jy tree uit selfbeskerming op
Anri van den Berg