Sarie

Skoonma trek in, aanlyn skelmpie en ander liefdesdil­emmas

Skoonma meng in, die begroting is knap, konflik broei met almal onder een dak, en ai, al die daaglikse oorlewings­angs – hoe raak Covid-19 jou verhouding­s- en sekslewe? Kenners gee raad vir vyf gróót kwelvrae

- DEUR MARGUERITE VAN WYK

Dr. Marelize Swart, seksuoloog van Kaapstad, gee raad:

Wanneer een of albei huweliksma­ats hul werk verloor, maak dit ’n duik in die huishoudel­ike begroting. Dit is ingrypend vir die hele gesin.

Navorsing wys mense – veral mans – wat hul werk verloor (of vrees dit gaan gebeur) se seksdrang verlaag. Dit is immers traumaties. Mans voel dikwels emosioneel “ontman” as hulle die broodwinne­r is en skielik nie vir hul gesin kan sorg nie. Vroue voel ook hulle skiet te kort as hulle op ’n dag hoor hulle kry die trekpas.

Geestesver­steurings – angs, depressie en selfs posttrauma­tiese stres – is algemeen wanneer mense ná aflegging sukkel om geldelik te oorleef. Vroue moet mans se brose ego’s voed.

Mans moet vroue se selfbeeld opbou. Maar nie een van die twee het nou emosionele energie nie. En tussendeur moet die huishoudin­g bestuur word, kos gekoop word, skoolgeld en elektrisit­eit moet betaal word. En die feit dat niemand weet wat die toekoms inhou nie, vererger net alles. Gaan hulle weer werk kry? Gaan hulle dalk gedwing word om hul huis te verkoop? Hoe gaan hulle oorleef?

Enorme geldelike druk is nie bevorderli­k vir ’n goeie sekslewe nie. Oorlewing is bo-aan jou prioriteit­slys. Vir seker nie lang baddens met vanieljeke­rse en julle wat liefdeswoo­rde in mekaar se oor fluister nie.

Maar moenie alleen voel as jy in dié situasie is nie. ’n Studie deur die Kinseyinst­ituut in die VSA het bevind ’n jaar ná die begin van die pandemie het

43,5% van die deelnemers ’n afname in die gehalte van hul sekslewe ervaar.

Hou verwagting­e realisties. Jy en/of jou man gaan (waarskynli­k) nie oornag nuwe werk kry nie. Beplan gerus ’n weeklikse “bekommerni­s-sessie”. Daar kan julle afpak en jul vrese teenoor mekaar bely. Wees eerlik. Wees spesifiek. Dan moet jy aanbeweeg en die res van die week probeer aanpak. Leef, indien moontlik, bewustelik. Jy kan nie dag en nag aan jou geldelike probleme dink nie.

Oorweeg dit om ’n finansiële konsultant te vra om ’n soort noodplan te help opstel sodat julle klein doelwitte kan bereik. Sê gereeld vir jouself dinge sal weer verbeter. Anders lyk alles oorweldige­nd.

Probeer om glad nie aan finansies te dink tydens seks nie. Fokus op die liefdespel. Haal diep asem. Brei jou definisie van intimiteit uit: hande vashou, soen, saam stort, lepellê en drukkies uitdeel is ook intiem. Jy hoef nie elke keer ’n orgasme te bereik nie.

En onthou, sielkundig­es is altyd daar, as niks anders werk nie. >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa