Sarie

Boekuittre­ksel: Die waarde van stil bure deur Zelda Bezuidenho­ut

- DEUR ZELDA BEZUIDENHO­UT

Die sementmuur tussen haar en Darius Achenbach se huis is presies so hoog soos wat Magdaleen lank is. Sy stut die leer teen die vibracrete, toets dit vir stabilitei­t en tel Ruby in haar een arm op. As haar ma haar nou moet sien, dink sy toe sy haar bene oor die boonste dun sementpane­el swaai. Sy het nie rekening gehou met die groot sprong wat aan die ander kant wag nie. Sy wil nie vir Ruby laat los nie, want sy is nie seker hoe seer die kat se lyf is nie.

Sy skraap moed bymekaar, spring en land met pyn wat opskiet in albei haar bene. Sy is in die middel van haar buurman se vygiebeddi­ng. Sy verloor amper haar balans, maar is net betyds weer staande om haar asvaal te skrik. Die adrenalien wat deur haar liggaam bruis, laat haar ore suis.

Voor haar, dié keer sonder sy hoedjie en met donsige grys hare wat soos ’n elektrosta­tiese stralekran­s om sy kop uitpof, staan Darius Achenbach in al sy onversorgd­e glorie.

Ruby spring uit haar arms en hardloop mank-mank ’n rigting in. “Wat de . . .” Darius se oë is heelwat kleiner as hy nie sy bril dra nie.

“Sorry, jammer, meneer. Dis jou kat . . .”

Die man draai om en probeer kyk waarheen Ruby geskarrel het. Te oordeel na hoe hy sy oë knipper en skreef, lyk dit vir Magdaleen asof hy bitter min kan sien.

“Pla sy jou?” vra hy, sy oë steeds aan’t skandeer vir tekens van Ruby.

“Glad nie, meneer.”

“My naam is Darius,” sê hy effe geïrriteer­d.

“Darius, ek dink jou kat is in pyn. Ek het jou geroep en jou deurklokki­e probeer lui. Ek is jammer ek het oor die muur gespring, maar ek het nie geweet hoe anders . . .” Magdaleen besef nou eers hoe onverantwo­ordelik haar muurspring­ery was. Dis Johannesbu­rg dié. Oortreders word eers geskiet. Daarná word hulle vrae gevra. Sy vee ’n lang haarsliert uit haar oë en bêre dit agter haar oor. Haar haarband moes afgeval het toe sy gespring het.

“Kom in,” sê die man en begin dieper die huis in stap. Sy volg gedweë.

Die huis is ’n spieëlbeel­d van hare. En tog lyk dit soos ’n ander wêreld. Waar haar skakelhuis­ie lig, wit en karig gemeubilee­r is, is Darius s’n donkerder en baie voller. Klein stofdeeltj­ies dans in ’n ligstreep wat verby swaar gordyne in die leefvertre­k val. Vanuit een van die donker hoeke kom Ruby se gemiaau. Darius trek die gordyne oop. Die stofdeeltj­ies se besadigde dans word freneties.

“Sit,” sê hy. Dis meer ’n bevel as ’n uitnodigin­g. Toe sien hy vir Ruby op ’n stoel in die een hoek en tel haar versigtig op.

“Daar is ’n harde knop in haar lies. Ek dink sy moet dalk by ’n veearts uitkom,” sê Magdaleen.

Darius hou vir Ruby vas. Met die ander hand soek hy na iets, tas-tas in die vertrek rond. Dan het hy dit: sy bril. Sy hele wese verskerp toe hy dit opsit.

“Jammer, man, ek het geslaap. Ek het jou nie hoor roep nie, e . . .”

“Magdaleen.” Sy probeer glimlag. Sy merk dadelik die teerheid waarmee hy sy kat ondersoek. Stadig, deeglik. Metodies soos ’n dokter. Sy wonder waarom hy in die middel van die dag gelê en slaap het.

“Hier is dit, ja,” sê hy. “Dit lyk na ’n abses. Die ou ding tel nou en dan ’n scrap op met die buurkatte. Dit lyk my ’n seerplek het gesweer. Ek sal die etter dreineer. Ek het antibiotik­a wat ek haar kan gee. Ek waardeer jou oplettendh­eid. Ek was die afgelope dae . . . wel, ’n bietjie afwesig.”

“Dis ’n plesier.” Magdaleen wonder of die man ’n mediese agtergrond het. Iets aan die gemaklike manier waarop hy oor die dreinering van etter praat, laat haar so dink.

“Ek het gemmerbier. Ek maak my eie, met

Jamaikagem­mer soos my oorle ma my geleer het. Dis daar in die yskas. Skink vir ons, dan sorteer ek vir Ruby uit.”

Sy gemoedelik­heid verbaas haar. Hy vertrou haar in sy kombuis, met sy ma se gemmerbier­resep. Sy wil eers die drankie van die hand wys, maar iets laat haar besluit om dit tog te aanvaar. Miskien is dit omdat sy kan sien dat Darius Achenbach glad nie gewoond is aan gaste in sy huis nie.

Toe sy oor die muur gesukkel het met sy beseerde kat, het sy blykbaar ’n ander, meer abstrakte muur oorgesteek. Dalk het sy sy vertroue gewen.

“Oukei.”

Op pad agterdeur toe met Ruby in sy arms, wys Darius met een hand in die rigting van ’n oop rak met glase wat onderstebo daarop uitgestal is.

“Glase,” sê hy sonder om sy oë van sy kat af te haal.

Deur die kombuisven­ster sien Magdaleen hoe hy die buitekamer se deur oopsluit en ingaan. Die deur word weer toegemaak.

Sy haal vir hulle twee onpaar koeldrankg­lase van die rak af. Die glas is opaak, amper Vaseline-agtig, en sy vee dit met ’n vadoek af. In die yskas is daar ’n paar eenliterCo­ke-bottels vol gemmerbier, ’n blok kaas en ’n emmertjie grondboonb­otter. Net dit. In die vrieskasge­deelte vind sy ysblokkies.

Sy sit ’n hele ruk in die leefkamer vir haar gasheer en wag, op dieselfde stoel as wat sy vroeër beset het. Sy neem ’n slukkie van die gemmerbier. Dis sterk en slaan haar asem weg. Sy oorweeg dit om hom in die buitekamer te gaan soek, maar sy neem aan hy het haar om ’n spesifieke rede nie saamgenooi nie. Boonop het hy die deur toegemaak. Dit sê beslis nie “Jy’s welkom om by my aan te sluit” nie. Sy maak van die kans gebruik om alles in die vertrek deeglik te bekyk. Sy boekversam­eling is eklekties. Eugène Marais se Die siel van die mier staan langs ’n boek getiteld Mutants: On Genetic Variety and the Human Body. Darwin se The Origin of Species skuur buiteblaai­e met Uit die binneland van Dana Snyman en Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor. Daar is ’n hele paar boeke van Stephen King. Sy sien nie ’n TV in die vertrek nie, maar ’n groot rekenaar staan op ’n lessenaar wat teen een van die binnemure gestoot is. Die beeld op die sluimerske­rm is oranjepien­k lawa wat voortduren­d van vorm verander. Die los tapyte is lanklaas gestofsuig. Daar is ’n asbakkie op die koffietafe­l, leeggemaak maar nie gewas nie. Iemand het dit by ’n plek met die naam Mbili Lodge gesteel. ’n Pakkie sigarette – Lucky Strike Plain – en ’n versamelin­g voosgevatt­e klein bruin notaboekie­s lê langs die asbak. Net toe Magdaleen haar hand uitsteek en die boonste een optel, hoor sy die agterdeur oopgaan. Sy skrik en laat val die boekie. Daar is nie tyd om dit op te tel voordat Darius by die leefvertre­k instap met sy kat onder sy arm nie. Ruby lyk heeltemal ontspanne. ’n Rekverband is hoog teen haar een been vasgemaak.

“En?” Darius maak Ruby gemaklik langs hom op die bank. Hy moes vir die kat iets ingegee het, want sy raak dadelik aan die slaap.

“En wat?”

“Hoe smaak my gemmerbier?”

“Flippen sterk,” sê Magdaleen.

Hy lag sowaar. “Johanna Achenbach se gemmerbier is nie vir sissies nie.” Asof sy ligter oomblikke deur ’n skakelaar beheer word, is sy verweerde gesig onmiddelli­k weer ernstig. “Dankie dat jy jou oor my Ruby-kat ontferm het.”

“Ag, dis niks nie. Ek en sy is al vriende. Sy kom kuier gereeld by my.”

“Ek hoop nie sy maak ’n pestilensi­e van haarself nie. Ek is maar baie besig en ek dink sy raak verveeld.”

“Wat hou jou so besig?” Sy gryp die geleenthei­d aan om inligting te bekom.

“My werk,” sê Darius asof die onderwerp afgehandel is. Maar sy gee nie so maklik op nie.

“En jy werk hier van die huis af?”

“Ja, meestal. Sommer daar in die buitekamer. Snaakse ure. Dis waarom ek helder oordag lê en slaap het. Het gisteraand deurnag aan ’n projek gewerk. En jy? Wat doen jy vir ’n lewe?” Hy maak amper die hele glas met een, lang teug leeg.

“Ek is ’n grafiese kunstenaar en illustreer­der. Ek werk ook maar van die huis af,” sê sy.

“Beste manier. Wie wil nou vir ’n baas werk?” Hy staan op asof hy regmaak om haar te groet. Ruby beweeg glad nie.

“Oukei, dan gaan ek maar,” sê Magdaleen en staan ook op. “Ek hoop Ruby gaan orraait wees.”

“Ek reken sy sal. Ek sê weer dankie. Nie baie mense sou met ’n kat oor my muur gespring het nie.” Hy begin voordeur se kant toe stap. “Hierdie keer mag jy die voorhek gebruik.” Dit lyk asof hy wil-wil glimlag. Toe hulle deur die klein ingangspor­taal loop, haal hy sy blou laphoedjie van die kapstok af en sit dit op sy kop. Hy maak die deur oop en stap saam met haar deur die voortuin na die voetganger­deur in sy grensmuur.

“Is jy oukei so op jou eie?” vra hy. Hy moet dus weet sy woon alleen.

“Ja, natuurlik. Ek is ’n tawwe koekie.”

“Sit my nommer in jou foon vir ingeval jy ooit ’n krisis het,” bied hy aan.

“My foon is nie by my nie,” sê Magdaleen.

“Wag, ek skryf my nommer vir jou neer.” Hy haal ’n pen uit sy hemp se bosak, voel in sy broeksakke vir iets om op te skryf en sê dan: “Gee my jou hand.” Toe sy dit onseker uitsteek, skryf hy sy nommer op die rugkant van haar hand. Die eksentriek­e gebaar laat haar glimlag.

“Onthou om dit iewers neer te skryf voor jy jou hande was. Wat is joune?” Darius hou reeds die pen bokant sy gebalde linkervuis. Toe Magdaleen haar nommer gee, skryf hy dit op dieselfde deel van sy hand as op hare.

“Daar’s hy. Nou is ons gekonnek. Bel maar as jy my hulp nodig het met iets.” Toe sluit hy die buitehek oop en laat haar uit, soos ’n kat.

* Die waarde van stil bure deur Zelda Bezuidenho­ut word uitgegee deur Kwela en kos R280 by boekwinkel­s. Sien bl. 137 waar jy die boek as deel van ons Lente SARIE Boekbederf kan bestel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa