Sarie

JY IS MEER AS GENOEG

-

Met my knieknoppe vol stof staan ek agter op die bakkie op ons plaas naby Tsumeb. Ek kyk af na my skurwe, maer dogtertjie­bene. Ek vergeet gou daarvan toe my pa wegtrek. Die wind waai deur my hare en ek maak my oë toe. Ek droom ek het die mooiste rok aan en die waaier van die fotograaf laat my hare wip (dit is natuurlik net die droë Namibiese lug). Ek voel die opwinding, maar durf nie ’n gesigspier trek nie, want my drie broers (ook op die bakkie) sal uit hul maag lag vir dié sussie wat haar verbeel sy is ’n supermodel!

Ons trek aan die einde van my graad 10-jaar

Jan Kempdorp toe . . . ek droom steeds! Tussen die mielieland­e, met my pa wat stadig met sy bakkie agter my aan ry terwyl ek vir langafstan­de oefen. My poniestert wip na alle kante en ek droom van kameras wat flits en dan giggel ek in my binneste oor die lawwe droom.

Op universite­it ontmoet ek my landbou-man en ons begin ons lewe saam op Marble Hall. Weer eens ’n platteland­er. Ek droom steeds, minder . . . maar ek droom!

Ek en manlief maak Jan Kempdorp ons tuisdorp . . . vier pragtige kinders, en modelspeel is vergete. Ek geniet die platteland­se lewe en blaai deur SARIE op die dae wat ek wil droom. Ek kyk na die mooiste modes, geniet die stadsdinge vasgevang in ’n tydskrif. Tot op ’n dag. ’n Vriendin whatsapp my en sê ek moet inskryf vir die Voorbladge­sigwedstry­d.

Dit sluit daardie aand. Ek neem die stap en skryf in. Ek is 49. Die lekkerte van dagdroom kom kielie weer aan my. Ek is een van die 40 finaliste! Die beste is óns dorp se naam staan in die gewilde tydskrif. Opgewonde wag ek vir die aankondigi­ng van die 10 finaliste. Ek loer kort-kort tussen klasgee. Verleë sien ek my naam is nie een van die 10 nie. Van die graad 7-meisies in my klas het saam gedroom en geglo hul juffrou het ’n goeie kans.

Ek wonder waarom ek verleë is, maar nie verpletter nie? Net een rede: My Vader klap hande omdat ek wel dié keer

’n kans gevat het met my droom. Ek tiekiedraa­i voor Hom met my mooiste rok, máár Hy tiekiedraa­i saam.

Mag ek die hupstoot vir platteland­se meisies met drome wees, soos my vriendin vir my was. Durf ’n platteland­se vrou droom? Definitief – met oop oë terwyl jy na die mooiste sonsonderg­ang kyk. Neem die stap. Want jy is meer as genoeg! Rindie Swanepoel,

Jan Kempdorp

 ?? ?? Rindie Swanepoel se inskrywing­sfoto
Rindie Swanepoel se inskrywing­sfoto

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa