TEVREDE MET WIE EK IS EN WAT EK HET
Ek het vanoggend soos elke ander oggend wakker geword. Miskien net so ’n rapsie later omdat my klikbek-wekker nie vir Saterdae gestel is nie.
(Daar was darem ’n fraksie tyd om my palm op my man se bors te rus en te hoor of sy hart nog sterk klop.)
Ek staan gewoonlik drieuur in die oggend op as ek moet gaan werk. Hoekom dan so vroeg, sou jy seker wou vra?
Om ’n legio redes, sou ek jou graag wou antwoord.
Vanoggend was my coif steeds skeef verslaap en my oggendplooie getrou hardnekkig in plek. My lyf is artrities verlê – later opstaan kan geen pyn ontdaan.
Ek het my tande gaan borsel soos elke ander môre, soos jy stowwerige spinnewebbe met ’n volstruisstoffer wegveer.
In die stort kon ek my dikkerige middelrif herken as ek afbuk en my bene en sagte voete inskuim en insmeer.
Met ’n wasemasem het ek my vinger teen die toegestoomde glas laat gly en die gebruiklike “smiley face” bely.
Tog was daar iets, iets heel ánders aan hierdie doodgewone dag.
Later, toe beurtkrag net ná vyf toeslaan, het ek genoeg tyd gehad om te dink oor wat hierdie dag dan nou so anders maak.
Toe skemer dit deur – eintlik níks, absoluut niks, behalwe dat ek tevrede is met wie ek is en wat ek het, want Covid het my dankbare oë en grendelhart oopgemaak. Susanne Pike, Moreleta Park