DIE PROFESSOR EN DIE feetjie
Mandi Fuchs, illustreerder
bBlou Feetjie huppel en dans en sing, met rooi bolwange en woeste haredos. Haar blou is die blouste hemelsblou, wat sy na almal om haar uitstraal. En wanneer sy iemand ’n stukkie Geluk en ’n bietjie Hoop gegee het, tiekiedraai en wieliewalie en rondomtalie sy. Wys is sy ook, want sy ken die kuns van fyn luister. Soms gaan sit sy suutjies teen die baie slim stene se warmte aangedruk. Hulle wat so oud soos die berge is, dalk self eens ’n berg was. By hulle leer sy wat dit beteken om met ’n sagte hart te lewe, “altyd, altyd saggies te trap”. Om nie te boelie en te skinder nie . . . En “daardie vreeslike p-woord . . . plastiek”.
Al daardie mooi waardes wat jy graag aan ’n kind wil oordra, is verpak in Blou Feetjie: ’n Storie met ’n begin en ’n einde wat weer begin (Naledi, R175). ’n Soort tien gebooie in pas met vandag se giere en geite. Die fraaie, vrolike illustrasies met elemente wat tot ons tegnologies-bewuste kleingoed sal spreek. Waarskuwing! Die feetjieryk gaan nooit weer dieselfde wees nie met dié jillende wesentjie wat bloots op ’n tarentaal se rug deur die groen gras jaag.
Hier voor jou sit haar skepper, sagsprekend met beheerste handgebare. Haar hare kort, grys, netjies.
Lizette Rabe was voorheen redakteur van SARIE en is nou voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se joernalistiek-departement. Terwyl sy drie seuns met klaarblyklike gemak grootgemaak het.
As professor pryk haar naam in hogere akademiese joernale. Twee boeke met lang, vername titels het uit haar pen verskyn. Nugterdenkend, feitegeoriënteerd, dís sy. Hoe dan nou ’n kinderboek oor ’n blou feetjie wat skater en rinkink, tussen die palmiete resies jaag met naaldekoker-maters? Met haar lag nes ’n duifie se koer . . . ghoer-ghoer, ghoer-ghoer.
’n Blouselblou feetjie het Lizette Rabe, voormalige SARIE-redakteur, se hand gevat toe sy nie meer antwoorde gehad het nie. In ’n nuwe kinderboek leer dié wyse, maar uitbundige wesentjie ons hoe om met ’n sagte hart te lewe
DEUR LYDIA VAN DER MERWE
“Jy sal dink Lizette het dit nou heeltemal verloor,” skryf sy in ’n e-pos aan SARIE. “Ek het al lankal begin skryf aan ’n storie oor ’n feetjie wat sommer die hele wêreld wil help. Toe ons kleinkind, ons klein Fleur, drie jaar gelede gebore is, het ek dit vir haar klaargeskryf.”
Waar in haarself het dié logiese akademikus ’n feetjie gaan soek? Die antwoord is nie wat jy verwag nie. Blou Feetjie is gebore uit ’n diep en donker plek “van ongelooflike gebrokenheid”. Fritz Hörstmann, haar pragtige, briljante kind, het sy stryd “teen maligne hartseer, depressie verloor” en sy eie lewe geneem. Twaalf jaar later bloei die wond steeds, die trane nooit ver weg nie, soos nou weer. “Jy soek antwoorde en gaan dit nie kry nie. Die feetjie moes maar my hand vat en my lei om ’n paar waarhede te ontdek. So, ja, vir grootmense is die feetjie ook ’n troosboek. Want só was dit vir my toe ek dit geskryf het.
“Dís waar die boek begin het: Waar kry ek weer my kind? My kind is deel van die ewigheid, van die al van altyd. En die ewigheid is deel van ons, deel van hier en nou. Soos daardie gedig van Walt Whitman sê: ‘As jy my soek, kyk onder my skoensole, ek is die stof . . .’ ’’
En nou is daar weer ’n kleinding om voor lief te wees, die lewe loop mos in sirkels
Dié filosofiese mymeringe het eindelik gekristalliseer in ’n blouselblou feetjie wat op ’n eenvoudige, verbeeldingryke manier lewenswaarhede deel. Vir kinders, maar ook vir almal wat weer soos ’n kind troos soek.
Die saad van die feetjie was altyd in haar, glo Lizette. Want uit haar kleintyd-fantasieë wat sy saam met haar gedra het, het die feetjie amper vanself in haar ontkiem. En nou is daar weer ’n kleinding om voor lief te wees, die lewe loop mos in sirkels. Saam met haar seun Carl en sy vrou, Liske, se dogtertjie, Fleur, soek sy feetjies in die tuin, betree sy weer ’n kind se wonderwêreld.
Lank, lank gelede, in die kindergarten van die klein Duitse boeregemeenskap van Philippi op die Kaapse Vlakte, het Juffrou graag die kinders Grimm se sprokies laat opvoer. Blonde blouoogLizette was Doringrosie. Anton Hörstmann, die maatjie wat op sy houtperd aangehuppel kom en haar met ’n kus op haar appelwang laat ontwaak, sou ook in die werklike lewe haar prins word. Hulle is al 41 jaar getroud. Die eerste boekies wat sy gelees het, was Duitse kinderboeke. Die eerste Afrikaanse kinderboek, “steeds een van my tien wonderlikste boeke”, Hélène de Klerk se Die kamma-storieboek (1963).
Van die mooiste woorde en beelde in Blou Feetjie het sy raakgevat in die Duitse woordeboek in haar kop (neffens die Afrikaanse en Engelse een). “Skud af jou vere met die pêrels, Tarentaal, skud af!” gil Blou Feetjie. Tarentale is Perlhuhn in Duits, pêrelhoenders. En in die Duits vir ’n duifie se gekoer, gurren, het sy hulle hoor “ghoer-ghoer”.
Toe haar seuns, Carl, Hein en Fritz, klein was, kon sy saans die gordyne dig trek, dankbaar vir die knus beskutting teen die nag. Storietyd het sy ’n nessie vir haar drie stewige witkoppies gemaak. Haar gekoesterde kring het in stukkies gespat toe Fritz sterf. Woorde moes haar help om sin te maak toe niks meer sin gemaak het nie. “Dis in die wêreld van woorde wat jy na jouself kan soek as jy nie meer antwoorde het nie.”
Jy kan op drie maniere met verlies omgaan, tik Lizette-die-professor dit af. Rasioneel, dus ’n verklaring, die wetenskap agter die siekte soek. Sy het die Ithemba-stigting op die been gebring om ’n groter bewustheid van depressie te help skep en geld vir navorsing in te samel. Die tantième van die boek gaan juis daarvoor. Ook emosioneel, want jy kan nie anders reageer nie. Die hartseer is daar as jy gaan slaap, as jy opstaan. >
Toe Lizette ’n kunstenaar moes kies vir Blou Feetjie se illustrasies, was Mandi Fuchs (née Smit) van Struisbaai ’n natuurlike keuse.
Jare gelede, toe Lizette SARIE se redakteur was, was Mandi in die kunskantoor en hulle het gekliek. Boonop verskil hul kleinkinders, Fleur en Mikayla, skaars ses weke. Soos Mandi sê: “O jitte, as mens eers so ’n klein lyfie het waarvoor jy stories vertel, dan sien jy die wêreld deur ander oë. Die natuur is van soveel belang in hul lewetjies en om respek daarvoor te leer is oneindig belangrik. Ook die feit dat al die maatjies goed vir mekaar moet wees en dat die lewe wonderlik is.
“Ek wou graag ’n gelukkige, vrolike gevoel met die illustrasies oordra. Die wete dat alles wat jy aanpak, lekker kan wees en nie moeilik nie. Daar is sulke mooi, ernstige lesse deur die storie geweef. Ek wou dit lig hou sodat dit vir ’n klein mensie sin maak.”
En so het Mandi die paadjie saam met Blou Feetjie begin stap; sy het ’n wesentjie met ’n vriendelike gesiggie en wilde hare geskep. ’n Tingerige, eteriese dingetjie sou nie deug nie. Dié feetjie moet mos so hop-hop-hop op Tarentaal se rug met haar vlegseltjie wat doer swaai! Daarom het Blou Feetjie “sulke lang en los beentjies en armpies sodat sy kan beweeg”. “Ek wou haar prettig maak en het heeltyd hierdie stemmetjie in my kop gehoor, hoe sy met alles om haar gesels,” verduidelik sy.
Sy en Lizette het gepraat oor hoe gemaklik vandag se kinders met tegnologie is. En besluit om hier en daar in ’n illustrasie ’n prettige emoji in te bring. Om só die feetjie deel van die hedendaagse kind se ervarings te maak. Die spiraal, wat die ewige sirkel van die lewe uitbeeld, is ’n deurlopende tema in die illustrasies. Want alles het mos “’n begin en ’n einde wat weer begin”, soos die subtitel aandui.
“Ek verkyk my aan Mandi se kreatiwiteit,” sê Lizette. “Elke skets is ’n manjifieke, magiese klein meesterwerk.” < Dan filosofies. Sommige mense lewe langer as ander, maar ons is almal deel van die ewigheid. Ons is sterstof, klipstof. En dís die kern van die feetjie. Ons is almal die “al” van die heelal en die “al” van altyd.
Blou, blouselblou vir hoop. “Kyk na die interpretasie van kleure, skilderye van Moeder Maria byvoorbeeld: Sy’s altyd in ’n blou kleed, of daar’s ’n blou tjalie om haar gedraai. Die simboliek daarvan is hoop. Die strikkie vir Ithemba en die bewusmaking van depressie en angssteurnisse is blou.” Lizette wys na die blou strikkie teen haar bors. ’n Spatsel kleur teen haar swart baadjie en broek. “Maar terselfdertyd kan ons sê dis ’n blou Maandag, dit voel asof alles net skeefloop. Dus die jin en jang wat so deel van die lewe is.”
In haar kantoor in die karaktervolle Eduardiaanse universiteitsgebou voel dit of tyd stadiger beweeg. Op die agtergrond is die strelende klanke van ’n Beethoven-simfonie. Sy wys
’n paar goedjies met sentimentele waarde uit. Dana Snyman se swart laphond, ’n ornamentele voëltjie, ’n melkbekertjie . . . Elkeen met ’n storie. Die dakhoogte venster omraam ’n diepgroen boom. Daar wip die eekhorings astrant rond, vorm die voëls gereeld ’n koor. Soms probeer ’n spreeu wat glo hy is Pavarotti die musiekklanke vanuit haar kantoor namaak. “Hy improviseer en dis so melodieus, nie een vals noot nie.”
En dít vertel Blou Feetjie vir ons: Dat ons vreugde moet soek in die klein dingetjies. “Saam met ’n blou feetjie wat in haar onskuld ’n simbool is van optimisme en vreugde en positiwiteit en daai blouselblou geluk.”
Nou ja, Blou Feetjie het lankal haar ogies gerol en die kolganse gaan terg deur die kieliekolle onder hul vlerke te streel. Of sommer vir die lekkerte in die soet suikertolle se kelke gaan fluister: “Ja! Wat ’n lieflike dag!”
Wanneer sy gil: “Skud af jou vere met die pêrels, Tarentaal . . .!”, hoop sy dat iemand so ’n veertjie met sy mooi blink pêreltjies sal raaksien en optel. Iemand wie se hart seer is en net ’n klein, klein bietjie geluk soek. By die huis, so hoop Blou Feetjie, sal jy dit in ’n potjie sit, elke oggend daarna kyk en jou verwonder aan al die skitterblink pêreltjies.
Dít het Lizette as kind gedoen en dit doen sy steeds. Die vere pryk tuis in ’n spesiale verepotjie. Vir troos.